Land Cruiser-eienaars kan enjins warm maak vir dié unieke fees

Suid-Afrikaanse Land Cruiser-eienaars gaan vanjaar weer verskeie rekords laat spat by die immergewilde Hankook Land Cruiser-fees en Afrika-rekord. (Foto: Verskaf)

Suid-Afrikaanse Land Cruiser-eienaars gaan vanjaar weer verskeie rekords laat spat by die immergewilde Hankook Land Cruiser-fees en Afrika-rekord, wat van 9 tot 11 Junie by die Sondela-natuurreservaat buite Bela-Bela (Warmbad) in Limpopo aangebied word.

Die geleentheid, wat jaarliks nagenoeg 5 000 dagbesoekers lok, het sy ontstaan gehad by die destydse Windpompfees in Naboomspruit in 2013, en sy wiele is vanjaar vir die 11de keer aan die rol.

Gaste kan uitsien na onder andere verskeie buitelewe-uitstallers, ʼn 20km-konvooiroete met verversings langs die pad, kindervermaak, kroegfasiliteite, musiekvermaak, helikopterritte, ʼn kuns- en snuffelmark, warmwaterswembaddens en ʼn begeleide sonsondergangrit.

LA Sport Pretoria se versnelrenne op gruis is ook weer terug. (Foto: Verskaf)

Die Hankook Land Cruiser-fees en Afrika-rekord hou ook tans die rekord vir die meeste Land Cruisers op een terrein op een dag, met ʼn totaal van 523 voertuie. Boonop hou hulle ook die rekord vir die mees bewegende Land Cruisers (397) in ʼn konvooi van langer as 20 km.

LA Sport Pretoria se versnelrenne op gruis is ook weer terug en items soos ʼn uitdagende moddergat, heuwelklim en ʼn kort veldren baan sal ook eksklusief vir geregistreerde Land Cruisers-eienaars beskikbaar wees.

Die geleentheid lok jaarliks nagenoeg 5 000 dagbesoekers. (Foto: Verskaf)

Koste per Land Cruiser-registrasie beloop slegs R350 en sluit ʼn geskenksak in.

Registreer nou jou Land Cruiser aanlyn of kontak Tersia by [email protected] of 072 487 0000 om meer inligting.

Organiseerders verkies dat laat registrasies vermy word, maar diegene wat met hul aankoms registreer sal nie weggewys word nie.

Daar is ook verskeie verblyfsopsies:

  • Boskampering beloop R850 vir die naweek en sluit dan die Land Cruiser-registrasie in (maksimum vier persone word by dié prys ingesluit, daarna beloop dit R50 per persoon). Hierdie kampering het geen elektriese krag nie, maar netjiese en skoon ablusiegeriewe is beskikbaar.
  • Toegeruste tente beloop R1 850 en sluit alle nodige kampgeriewe in. Gaste hoef net hul klere saam te bring. Hierdie tente kan direk bespreek word by Barefoot Camping Adventures deur ʼn e-pos te stuur aan [email protected] of 076 693 6129 te skakel.
  • Sondela kan ook direk genader word by www.sondela.com vir akkommodasie in hul heerlike oord.
  • Dagbesoekers is ook welkom teen R60 per persoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.