Hoffie Hofmeister: ’n Lewe deur ’n kamera se lens

Hoffie Hofmeister.

In die uitkykskuiling met sy panoramiese uitsig oor die Krokodilrivier sien jy hom dadelik raak: die man met die kamera met die yslike lens. Hoffie Hofmeister en sy tweelingsus, Renate Thieme, kuier vir ʼn week in die lieflike Ngwenya-lodge aan die soom van die Nasionale Krugerwildtuin.

Hy sit gereed vir aksie en korswil dan: “Sien jy hierdie wildpaadjie wat hier langs die draadheining loop? Dis hier waar die luiperd netnou gaan opstap en ek hom gaan afneem.” Wanneer die son later skouspelagtig in ʼn oranje bal agter die bome aan die oorkant van die rivier wegsak, is dit tyd om terug te keer na die vakansie-eenheid. Nou moet die braaivleisvuurtjie aangesteek word. Vanmiddag kon Hoffie net ʼn paar foto’s van ʼn formasie kolganse in vlug afneem. Môre is gelukkig nog ʼn dag vir nuwe foto’s.

Hoffie en sy tweelingsuster Renate Thieme.

Vanaf 1958 tot 2002 het Hoffie diep spore in die Suid-Afrikaanse perswese getrap en hy was onder meer 22 jaar lank as persfotograaf, en later hooffotograaf, by Rapport betrokke. Sy lewensverhaal is interessant en begin as ʼn blondekop-plaasseuntjie in die destydse Suidwes-Afrika. ʼn Seuntjie met drie name: Gottlieb Georg Robert Hofmeister. As jy vandag praat van Gottlieb Hofmeister, sal dit waarskynlik net sy sus Renate wees wat weet na wie verwys word. Hy vertel dat hy sy doopnaam vinnig in die skool afgeskud het, en nooit weer gebruik het nie. Altyddeur was sy naamreël by die foto’s in die koerante of tydskrifte: Hoffie Hofmeister.

Hoffie saam met sy vriend en kollega wyle Nardus Nel.

Sy pa het in die Outjo-distrik geboer en Hoffie en sy sibbe het per trein na Swakopmund gery waar hulle skoolgegaan het. Op elfjarige ouderdom verkoop sy pa die plaas in Namibië en die gesin gaan vestig hulle op ʼn plaas tussen Riversdal en Albertinia. Hy voltooi sy matriek aan die Hoërskool Langenhoven in Riversdal met Dalene Matthee as een van sy klasmaats.

“Anders as baie ander fotograwe wat ek ken, het kameras my nooit kleintyd juis geïnteresseer nie,” vertel Hoffie. “Dit was eers ná skool, toe ek my by die Lugmagkollege in Pretoria aangemeld het, dat my verbintenis met ʼn kamera begin het. Ek wou eintlik ʼn vlieënier word, maar daar moes ek toe hoor dat my oë nie goed genoeg is nie. Op die ingewing van die oomblik het ek besluit om in te skryf vir ʼn kursus in persfotografie en lugfotografie aan die Zwartkop-opleidingsentrum.”

Op ʼn dag het Louis Nel by die kollege opgedaag. Hy was by Die Vaderland werksaam en het na nuwe fotograwe gesoek. Hoffie het hom direk ná die jaar in die Lugmag by Die Vaderland aangemeld. Dit was die jaar 1958 en die begin van sy lang en kleurryke loopbaan as persfotograaf. Hy lag en sê hy onthou sy heel eerste opdrag baie goed: hy moes foto’s by ʼn begrafnis gaan neem. Daardie ervaring het gemaak dat hy nooit van begrafnisse gehou het nie. Tog het Hoffie later jare aangrypende foto’s van die begrafnis van onder andere dr. HF Verwoerd geneem.

Mev. Betsie Verwoerd en haar twee seuns by die begrafnis van dr. Verwoerd. (Foto: Hoffie Hofmeister)

Die een ding wat vir Hoffie uitstaan wanneer hy terugkyk op sy jare agter die kameralens, is die ongelooflike verandering wat die tegnologie meegebring het. Toe hy destyds as jong fotograaf by Die Vaderland begin het, was die kamera wat tot sy beskikking gestel is, ʼn Speedgraphic-kamera wat met filmplate gewerk het. Vir ʼn rugbywedstryd het hy bloot ses plate gekry. Dit het hom die fyn kuns geleer om geduldig te wag tot op presies die regte oomblik om die knoppie te druk. Jy durf immers nie een van die ses plate mors nie. Hy onthou ook die heel eerste digitale kamera wat Rapport, vir wie hy toe foto’s geneem het, aangekoop het. Dit was ʼn reusegroot Kodak-kamera wat destyds meer as R100 000 gekos het en die gehalte van die foto’s was nie eens wonderlik nie, onthou hy.

Hoffie Hofmeister.

“Dis byna onwerklik as ʼn mens dink hoe die dinge verander het. Ek onthou nog goed toe ek in 1959 die opening van die JG Strijdom-tonnel in die Abel Erasmus-pas moes gaan afneem het. Die Vaderland het destyds die eerste landlynmasjien in Suid-Afrika gehad waarmee foto’s oor ʼn afstand versend kon word. Ek het die foto’s geneem en teruggejaag Lydenburg toe. Daar het ek met iemand gereël om in sy huis vir my ʼn donkerkamer in die toilet in te rig. Dit was nog swart-en-wit foto’s wat ek toe daar moes ontwikkel en uitdruk. Die foto’s is dan op so ʼn drom geplaas en in Johannesburg was daar dan ook ʼn drom waarop ʼn lig geskyn het om die foto’s aan die ander kant af te laai. Een ding waarvan ek baie gehou het, was om my eie foto’s te ontwikkel en dis die een deel van fotografie wat ek in die digitale era mis. Tog kan jy die gehalte van die foto’s wat jy nou met digitale kameras kan neem nie naastenby vergelyk met foto’s wat op film geneem is nie,” sê hy met sy kenmerkende breë glimlag.

Fotografie het vir hom wonderlike wêrelde oopgemaak, vertel Hoffie. As Rapport se hooffotograaf was dit dikwels sy taak om die skoonhede af te neem. Een van die hoogtepunte wat hy uitsonder, is juis ʼn reis van drie weke na Atlanta tydens 1991 se Mej. Wêreld-kompetisie. Mej. Suid-Afrika, Diana Tilden-Davies, is as tweede prinses aangewys en Mej. Namibië, Michelle McLean, het in die topvyf geëindig. McLean is die volgende jaar as Mej. Heelal gekroon.

Van Springbokrugbytoere wat Hoffie meegemaak het, is daar wonderlike staaltjies om te vertel, maar, lag hy, nie almal is geskik vir publikasie nie. In daardie jare kon die spelers nog heerlik saam met die persmanne kuier, sê hy.

Hoffie se ikoniese foto van Dok Danie Craven.

Alles was nie altyd maanskyn en rose nie en soms moes Hoffie ook in gevaarlike omstandighede foto’s neem. Hy onthou hoe hy en ʼn joernalis tydens die Soweto-onluste in 1976 gery het om die storie te gaan dek, en die volgende oomblik het ʼn reuseklip deur die voorruit gevlieg en op die joernalis se skoot beland. Gelukkig was hulle albei ongedeerd. Toe Chris Hani in 1993 in die oprit voor sy huis doodgeskiet is, was Hoffie die heel eerste fotograaf op die toneel en daardie beeld bly hom nou nog by. Hy onthou vir oudpres. Nelson Mandela as iemand wat altyd belangstellend uitgevra het hoe dit met Hoffie gaan.

Hoffie het in 2002 afgetree en in sy soektog na ʼn aftreeplek het sy keuse op Modimolle (Nylstroom) geval waar hy en Jackie, sy lewensmaat, hulle gaan vestig het. Hier kan hy heerlik tuinmaak en dis veral sy groot versameling clivias, orgideë en malvas wat aan hom baie vreugde bring. Hy het steeds bly foto’s neem, veral van die skolesport op sy tuisdorp. Weens die jare lange swaar dra aan ʼn kamerasak het sy heupe begin las gee, en hy het al in 1999 sy eerste heupvervanging gehad. Deesdae loop hy met groot inspanning en moet hy een kruk permanent byderhand hou. Dit maak dit baie moeilik om met ʼn yslike kameralens te beweeg, maar die kamera neersit? Nog nooit nie.

“Nou eendag was ek saam met iemand op pad van George na Kaapstad. Terwyl ons deur die geel kanolalande ry, het die berge donkerblou in die agtergrond gelê met die hemelblou lug aan die bokant. In die stilligheid het ek gewens dat ons ʼn bietjie kon stilhou sodat ek ʼn paar foto’s kan neem. Mense wat nie foto’s neem nie, sal nie verstaan dat ʼn mens maar altyd op soek is na die perfekte foto, selfs wanneer jy nie ʼn kamera in jou hande het nie.

Hoffie se foto van Michelle Bruce en die slang.

“Wanneer ek nou terugkyk op ʼn lang en interessante loopbaan, is daar soveel dinge wat uitstaan, en dis moeilik om uitsonderings te maak. Voorbladfoto’s soos die een van die verlore Micaela Hunter wat ná 22 maande terugbesorg is in haar ouers se arms, die foto uit ʼn ander hoek van Frik du Preez wat Chris Laidlaw plattrek en tegelykertyd ʼn opstopper plant, ʼn foto van Liz Taylor en Richard Burton met hulle tweede huwelik in die Chobe-natuurreservaat, ʼn foto van die mooie Michelle Bruce met ʼn lewende slang om haar kop en skouers gedrapeer … ag, gans te veel om op te noem. Ek was op interessante plekke in die wêreld, het soveel dinge gesien en ervaar. Voeg daarby al die wonderlike vriendskappe wat oor jare met medefotograwe en verslaggewers gesluit is. Ek het drie kinders en agt pragtige kleinkinders. Hoe kan ʼn mens dan anders as om dankie te sê?”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.