Koningin Elizabeth vier amptelike verjaarsdag

Koningin Elizabeth II se amptelike verjaarsdagvieringe (12 Junie 2021) (Foto: The Royal Family/Twitter)

Koningin Elizabeth het Saterdag haar amptelike verjaarsdag met ʼn weermagparade by Windsor-kasteel gevier. Sy is 95 jaar oud.

Volgens die koninklike familie vier die koningin twee verjaarsdae elke jaar: haar regte verjaarsdag op 21 April en haar amptelike verjaarsdag (gewoonlik) op die tweede Saterdag in Junie.

Trooping the Colour is al die afgelope 260 jaar lank deel van die amptelike verjaarsdagvieringe van die Britse koninklike. Die parade is afgesluit met ʼn verbyvlug van die Red Arrows en ʼn 41-skoot saluut deur die King’s Troop Royal Horse Artillery.

Amptelike vieringe vir die koninklike se verjaarsdag word gehou op ʼn ander dag as die persoon se werklike verjaarsdag – veral wanneer die werklike verjaarsdag nie in die somer plaasvind nie. Koning Edward VII is byvoorbeeld op 9 November gebore, maar sy amptelike verjaarsdag is gewoonlik in Mei of Junie gevier wanneer daar ʼn groter kans bestaan op goeie weer vir die Verjaarsdagparade (ook bekend as Trooping the Colour).

Die koningin vier gewoonlik haar werklike verjaarsdag privaat, maar die geleentheid word publiek aangekondig met geweersalute in sentraal Londen om 12:00: ʼn 41-skoot saluut in Hyde Park, ʼn 21-skoot saluut in Windsor Great Park en ʼn 62-skoot saluut by die Tower of London.

Lede van die koninklike familie sluit gewoonlik tydens die amptelike verjaarsdag by haar aan vir die Trooping the Colour-parade.

Koningin Elizabeth se man, prins Philip, is vanjaar op 9 April in die ouderdom van 99 oorlede. Hy sou op 10 Junie sy 100ste verjaarsdag gevier het. Die egpaar was 74 jaar getroud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.