Agter die skerms by wêreld se uitdagendste veldren

(Foto: Verskaf)

Ek is nog altyd vol bewondering vir die wêreld se uitdagendste veldren – Dakar.

Saoedi-Arabië lyk soos ʼn dorre woesteny vanuit die vliegtuig. Dit is 55 km se ry van die King Fahd Internasionale Lughawe tot by die Grand Hyatt-hotel in Dammam en ons ry in twee groot Chevrolet Tahoe-sportnutsvoertuie. Daar is swaar verkeer en dis al redelik laat. Ek vind later uit dat die Saoedi’s amper soos nagapies is – om die martelende hitte van die dag te ontwyk.

Dag twee stap ons by die hotel uit met ʼn onsekerheid oor wat op ons in die woestyn gaan wag. Ons klim in ʼn vloot Jeep Wranglers om ons weg te vind na die eerste uitkykpunt en dit sous behoorlik. Byna drie uur later, en wat soos 400 km voel, kom ons by die uitkykpunt in die woestyn aan.

(Foto: Verskaf)

Iewers het ons die voorlopers gemis, maar ons kry die kans om die Classic-deelnemers in aksie te sien. Die pas is beslis nie wat ʼn mens van die voorlopers verwag nie, maar die verskeidenheid toerusting is fantasties. Enige iets van ʼn stokou Fiat Panda tot ʼn Porsche 911 en ʼn Kamaz-vragmotor!

Daai aand stap ons by die bivak in – ʼn enorme tentedorp waar al die renjaers en spanne bymekaar kom. Daar is ʼn eetsaal in die middel wat maklik die leerders van drie hoërskole sal kan huisves. Môre is die laaste skof en Toyota se kanse lyk fantasties vir ʼn algehele oorwinning.

(Foto: Verskaf)

Soos die renjaers, manne en vroue, in doelgemaakte Dakar-bakkies, lorries, motorfietse en veteraanmotors begin insyfer, neem mens ʼn duisend foto’s. Die manne is moeg. Ek vra vir een van die werktuigkundiges – hoe is julle gemoed? Hy sê dinge loop goed. “Indien Nasser sy kar môre veilig tuis kan bring, sal ons wen, maar die modder is nou genoeg!” Brett Cummings, Henk Lategan se navigator, beaam dié sentiment. Hy sê van die skofte was erg uitdagend, maar hulle is op die hond se stert… nog net die laaste dag.

(Foto: Verskaf)

Giniel de Villiers en Dennis Murphy verdwyn soos mis voor die son toe hulle intrek. Die een werktuigkundige wat aan die bakkie begin werk, stap ʼn paar keer weg. Hulle haal die manne se sitplekke netjies vir hulle uit en gaan bêre dit agter die vragmotor. Dennis en Giniel was siek in die kar. Hulle het weggehol om te gaan stort. Met die swak sigbaarheid en ʼn spesifieke ritme in die duine kon die manne eenvoudig net-net nie aan hul ontbyt vashou nie. “Dis Dakar!” grap Giniel.

Ek wens al die Suid-Afrikaners sterkte toe vir die volgende dag se skof. Dis tyd om ʼn bietjie te slaap voor môre se opwinding. Die volgende dag is die uitkykpunt heelwat nader en die atmosfeer is elektries. By vandag se uitkykpunt is ons vinnig beloon vir die vroeg opstaan. Die motorfietse is eerste en daar is net 91 sekondes se verskil tussen die topdriemanne – Toby, Kevin en Skyler. Die manne ry asof hul lewens daarvan afhang en gee dit alles wat hulle het, oop ketels! Teen die einde het Kevin Benavides op sy KTM vir Toby verbygesteek – en Skyler Howes op sy Husqvarna bly in die derde plek. ʼn Fantastiese resies tot die bitter einde toe.

Volgende deur die hek is Nasser Al-Attiyah, algehele wenner van die 2023‑Dakar-tydren. Sy algehele tyd is 45:03:15. Vyf-en-veertig uur agter die stuur – voluit, in die uitdagendste toestande op aarde in sy betroubare Hilux wat nie ʼn voet verkeerd sit nie. Een van vyf Toyota Hilux-bakkies in die topsewe. Trots Suid-Afrikaanse Hilux’e wat in Midrand deur Glynn Hall en sy span by Hallspeed gebou is. Dit laat my bors swel van trots. Giniel de Villiers en navigator Dennis Murphy jaag in die vierde plek oor die eindstreep in 47:34:27, gevolg deur Henk Lategan en navigator Brett Cummings met ʼn tyd van 47:39:39.

(Foto: Verskaf)

Ons vergesel die span na die podium en ʼn mens kan sien elke jaer is verheug om klaar te wees. Tot volgende jaar. Die span het reeds die meeste van die lorries gepak en begin vroegoggend die terugreis huis toe.

Wat die span van Toyota Gazoo Racing Suid-Afrika by Dakar regkry, is verstommend. Suid-Afrika het oorheers by 2023 se Dakar en dit is grootliks te danke aan Toyota. Die hele Toyota Gazoo Racing Suid-Afrika-span is byna 40 mense.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.