Al die nuwe fietse vir 2023

Ducati Desert X

’n Goeie lokprent vir enige rolprent moet net genoeg weggee dat jy nie kan wag om die rolprent te sien nie. Net so is die EICMA-motorfietsskou in Milaan my lokprent vir al die motorfietse wat in 2023 bekendgestel gaan word. Heelparty nuwe modelle is al voor die skou bekendgestel, maar daar was tog nog ’n paar verrassings die week gewees. Hier is so ’n paar hoogtepunte.

Ducati

Ducati ry tans die kruin van ’n suksesgolf. Hy is pas gekroon as die MotoGP- en WorldSBK-wêreldkampioene, so ons kan verwag dat die Ducati Panigale, in enige vorm, nou in aanvraag gaan wees. Hierdie jaar het hy ook die Desert X en die nuwe Diavel V4 bekendgestel. Die Desert X is ’n uiters gewilde fiets en sy vermoëns het reeds ’n diep indruk op die motorfietsgemeenskap gemaak.

Verskeie ander modelle soos die Scrambler-reeks het geringe aanpassings gekry. Om die kersie op die koek te sit, is die Diavel V4 aangewys as “Moto più bella”, die mooiste fiets by EICMA 2022! Ducati kan amper niks verkeerd doen dié jaar nie.

Honda

Honda CB500 X

Hoewel die fiets nou nie by EICMA bekendgestel is nie, is daar ’n nuwe Honda CB500 X op pad na Suid-Afrika. Hy word vandeesweek plaaslik bekendgestel, en ek sal meer terugvoer kan gee as ek so ’n entjie kon gaan ry het. Die prys beloof om baie mededingend te wees.

Honda het nie baie goed daarin geslaag om sy nuwe Transalp ’n geheim te hou nie. Dit was alombekend dat hierdie model sy buiging by EICMA sou maak. Transalps is nie ’n vreemde verskynsel op Suid-Afrikaanse paaie nie, maar dié betrokke fiets word al jare lank nie meer vervaardig nie. Nou het Honda die Transalp-naam weer afgestof en waar die vorige model se enjin ’n V-konfigurasie gehad het, is die nuwe een ’n 755 cc parallel-twee. Die fiets gaan meeding teen fietse soos Yamaha se Ténéré 700, of BMW se 750 en 850 GS-modelle. Daar is selfs nou kompetisie van Suzuki met hul nuwe V-Strom 850DE.

Suzuki Transalp

Suzuki

Ná baie jare het Suzuki, net soos Honda, hul V-twee-enjin in die kleiner V-Strom vervang met ’n parallel-twee-enjin. Die fiets staan bekend as die V-Strom 850DE. Die fiets is heeltemal nuut en beskik oor alle denkbare elektroniese hulpmiddels. Daar is nou selfs ’n toegewyde grondpad- ryprogram, wat goeie nuus behoort te wees vir ons grondpadgeesdriftiges. Ons sal moet wag en sien wanneer hierdie model plaaslik beskikbaar gaan wees.

BMW

Daar was groot opgewondenheid oor BMW se nuwe R1300 GS, maar die fiets het geskitter in sy afwesigheid. Die internet gons al met steelfoto’s en bespiegeling oor hoe die nuwe fiets gaan lyk, maar toe is sy plekkie leeg by EICMA. BMW het wel die R 1250 RS bekendgestel, maar die veranderinge is presies dieselfde as dié op die nuwe R 1250 R wat die week vantevore onthul is. Dus, geen groot onthullings by BMW nie.

Triumph

Triumph het voor EICMA sy splinternuwe Street Triple 765 bekendgestel. Die enjin in die nuwe Street Triple is dieselfde enjin wat in MotoGP se Moto2-klas gebruik word. Die enjin lewer 120 pk, so dit behoort ’n baie opwindende fiets te wees. Triumph het drie modelle bekendgestel: die R, RS en Moto2-weergawe. Die Moto2-model gaan in twee kleurskemas beskikbaar wees en slegs 765 van elke kleur gaan gebou word.

EICMA 2022 het nie veel nuwe fietse opgelewer vir die Suid-Afrikaanse mark nie. Kom ons hoop dat ons in 2023 baie besig gaan wees, en dat EICMA eerder ’n flou lokprent was vir ’n baie goeie rolprent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.