Allerbeste Ranger in die reeks

Die meeste mense glo die duurste model in die reeks is die beste een. Die duurste een is meestal die luuksste een met die meeste tierlantyntjies – maar gereeld nie die beste een in die reeks nie.

Dit is presies die geval met Ford se nuwe Ranger-reeks. Terwyl die Wildtrak en Raptor albei fantasties is, is albei prysgewys bo die meeste mense se vuurmaakplek. Aan die teenoorgestelde kant van die reeks sit ʼn mens gewoonlik met ʼn werkesel – staalwiele en viniel-sitplekke – ook nie geskik as ʼn gesinsmotor nie.

In die Ford Ranger-reeks is gelukkig ʼn model wat ek dink is die perfekte bakkie. Dis hul XLT-dubbelkajuit. Die spesifikasie is nie bloot voldoende nie, dis eintlik luuks. Daar is leerbekleedsel, spoedkontrole, klimaatbeheer, elektriese vensters, Apple CarPlay en Android Auto met ʼn lekker raakskerm én Ford se volle veiligheidsuite. Daar is beslis niks wat jy nodig kan kry wat nie daar is nie.

Onder die kap sit ʼn ander juweel. In die vorige reeks al was die XLT‑enkelturbo my gunsteling, maar in dié opknapping voel die nuwe programmering op die ratkas en wringkragomsitter soos ʼn splinternuwe ratkas. Die ratverhoudings is beter en die ratwisselings seepglad. Dít, saam met ʼn 2.0‑enkelturbo‑viersilinderdieselenjin wat 125 kW en 405 Nm bied, is lekker. Dié enjin bied oorgenoeg krag waarvoor die meeste mense dit ooit sal nodig hê, maar dis die puik brandstofverbruik wat die enkelturbo bied wat hom die keuse in die reeks vir my maak.

Op die pad toer die XLT beter as die meeste ander in die reeks te danke aan sy 16”‑wiele wat met ʼn lekker groot bandprofiel loop. Dit maak die rit lieflik soepel. Padhouvermoë is indrukwekkend vir ʼn bakkie – én Ford se Ranger het ʼn allemintige sleepvermoë van 3,5 ton.

Dit is dus uiters maklik om die XLT op te som. Dis ʼn minder ingewikkelde bakkie vanweë een turbo en vier ratte minder. Van die onnodige foefies is verwyder en jy sit met ʼn puik voertuig wat byna R280 000 minder kos as die reeksleier.

Die dubbelkajuit‑Ranger-reeks lyk nou só:

Ford Ranger 2.0 SiT dubbelkajuit125 kW/405 Nm6,9 ℓ/100 kmR486 000
Ford Ranger 2.0 SiT dubbelkajuit 4×4125 kW/405 Nm6,9 ℓ/100 kmR528 600
Ford Ranger 2.0 SiT dubbelkajuit XL handrat125 kW/405 Nm6,9 ℓ/100 kmR529 900
Ford Ranger 2.0 SiT dubbelkajuit XL outo125 kW/405 Nm7,5 ℓ/100 kmR544 400
Ford Ranger 2.0 SiT dubbelkajuit XLT125 kW/405 Nm7,5 ℓ/100 kmR592 700
Ford Ranger 2.0 SiT dubbelkajuit XL 4×4 handrat125 kW/405 Nm7,1 ℓ/100 kmR607 300
Ford Ranger 2.0 SiT dubbelkajuit XL 4×4 outo125 kW/405 Nm7,7 ℓ/100 kmR621 900
Ford Ranger 2.0 SiT dubbelkajuit XLT 4×4 outo125 kW/405 Nm7,7 ℓ/100 kmR669 800
Ford Ranger 2.0 BiTurbo dubbelkajuit XLT154 kW/500 Nm7,2 ℓ/100 kmR702 300
Ford Ranger 2.0 BiTurbo dubbelkajuit Wildtrak154 kW/500 Nm7,2 ℓ/100 kmR778 300
Ford Ranger 2.0 BiTurbo dubbelkajuit XLT 4×4154 kW/500 Nm7,5 ℓ/100 kmR782 100
Ford Ranger 2.0 BiTurbo dubbelkajuit Wildtrak 4×4154 kW/500 Nm7,5 ℓ/100 kmR867 700
Ford Ranger 3.0 V6 dubbelkajuit Wildtrak 4WD184 kW/600 Nm8,4 ℓ/100 kmR953 500
Ford Ranger Raptor 3.0 V6 EcoBoost dubbelkajuit 4WD292 kW/583 Nm11,5 ℓ/100 kmR1 094 900

Die reeks word gedek deur ʼn 4 jaar/120 000 km-waarborg. Diensplanne is opsioneel beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.