AMG neem Sandton op horings

Mercedes-AMG het onlangs die paaie om sy spoghandelaar in Sandton laat afsper en ʼn klomp mediamense, kliënte en sosialemedia-ghoeroes genooi om aan ʼn padwedren te kom deelneem.

ʼn Magdom A-klas-modelle vanaf ʼn A200-luikrug en -sedan, A220d-luikrug en -sedan, asook ʼn A35 en A45 AMG het die strate van Sandton ingevaar om die beste tyd aan te teken. Met registrasie is aan elke deelnemer outomaties ʼn voertuig toegeken. Ons het ʼn A200-sedan gekry en kon darem die vinnigste tyd vir die dag in daai motor aanteken en die vierde vinnigste tyd in ons sessie teen die A35 en A45 wat meer as drie keer die krag het.

Die opwindendste deel van die dag was ʼn uitklopren tussen voormalige F1-renjaer Mika Salo, Clint Weston, grootbaas van die AMG-bestuurakademie in Suid-Afrika, én Natalie Weston, sy hoofinstrukteur en suster. My rondte in die A200 was ʼn ratse 49 sekondes – maar dié drie het nie gespeel nie. ʼn Blok in Sandton in 38 sekondes is verregaande en Natalie stel toe die vinnigste tyd op, gevolg deur Salo en haar broer in die laaste plek.

Later die dag het die drie weer gejaag en toe was Salo se oog mooi ingestel en het hy die vinnigste tyd opgestel, gevolg deur Clint en Natalie in die laaste plek.

Ek wonder toe oor hoekom ʼn padwedren in Sandton? En die antwoord is eenvoudig. Mercedes met sy verskeie handelsmerke, Benz, AMG en EQ, is besig om deur ʼn enorme hernuwing te gaan – en die toekoms lyk opwindend.

Ons sal nog tyd met elke A-klas deurbring en dan verslag doen oor elke model en hom teen sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.