Audi verfris sy Q7

(Foto: Verskaf)

Daar is ʼn hele paar rolspelers in die luukse, groot sportnutsvoertuigsegment. Dink aan voertuie soos BMW se X5, Mercedes-Benz se GLE, Volvo se XC90 en dies meer.

Audi se Q7 het nog altyd sy stukkie van die koek geneem en sy eie volgelinge gehad. Ek het pas vir die eerste keer ooit ʼn Audi Q7 bestuur en moet bieg dat ek werklik beïndruk is.

Daar is ʼn paar kenmerke wat vir my belangrik is in dié segment: ʼn Opsionele derde ry sitplekke, ʼn sessilinder-dieselweergawe, vierwielaandrywing en lieflike ritgehalte. Die Audi Q7 merk al die boksies af.

Die ontwerp is baie verbeter met Audi se nuwe sierrooster en ʼn paar some hier en daar om die ontwerp ʼn skerper voorkoms te gee. Dit werk. Die binneruim is werklik indrukwekkend.

Al jare lank was die drie groot Duitse handelsmerke, Audi, BMW en Mercedes-Benz, mededingers vir mekaar.

Audi het na my mening nog altyd die mooiste binneruime gehad – wat vinnig verouder. BMW het die meer konserwatiewe binneruim wat baie lank netjies bly en dán Mercedes-Benz wat tot onlangs nie inspirerend was nie. Mercedes-Benz het met sy sedanreeks mooi bygekom, maar die paneelbord in die nuutste GLE is vir my glad nie mooi nie. Die skerms is wel puik.

(Foto: Verskaf)

Die nuwe Q7 se binneruim is verskriklik netjies met puik bougehalte. Ons toetseenheid het die derde ry sitplekke gehad en dit vou elektries oop en toe.

Die enjin is Audi se romerige 3.0-V6-turbodiesel wat 183 kW en 600 Nm bied. Let wel, 0-100 km/h duik op in ʼn baie aangename 6,9 sekondes. Dit is egter wanneer die SQ7 met sy V8-turbodiesel sý buiging maak en daar 310 kW en 900 Nm beskikbaar is wat die SQ7 tot 100 km/h in ʼn blitsige 4,8 sekondes sal laat versnel.

Op die pad is waar die Q7 vir my uitblink. Dit voel lieflik soepel en sag. Die ritgehalte voel asof ʼn mens op ʼn wolk toer – en vir ʼn reusegesinsbuks kan ek aan geen ander belangriker kenmerk dink nie. Ons het tydens die bekendstelling in Houhoekpas ʼn enorme storm teëgekom, só erg dat ons skoon van die pad moes trek. Toe die reën effens bedaar, het ons weer die pad gevat en dit was verbasend goed hoe die Q7 met die riviere wat hier en daar uit die berg uit gespoel het, hom gedra het.

Vir die vinnige voorsmakie wat ons van die Q7 gehad het, kan ek sê dat ek beïndruk is.

Of daar in die huidige ekonomiese klimaat ʼn mark is vir só ʼn buks, sal net tyd leer. Ons sal weer agter die stuur van die Q7 inskuif en sien hoe hy hom dán op die platorand en in die verkeer gedra.

Die reeks lyk só:

Audi Q7 45TDI quattroR1 328 500
Audi Q7 45TDI quattro SlineR1 388 500

Die reeks word gedek deur ʼn 1 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.