Bekendstelling: KTM laat die SMT herleef

KTM het Maandag die nuwe SMT aan die wêreld bekend gestel. (Foto: KTM)

Die KTM 990 SMT is nie ’n model wat alombekend is nie. Ek moes self eers weer gaan oplees oor die SMT om my geheue te verfris. Die oorspronklike SMT is tussen 2009 en 2013 vervaardig en het KTM se ikoniese 990‑enjin gehad. G’n wonder niemand het ’n SMT gesoek met fietse soos die 990 Adventure wat beskikbaar was nie, veral nie hier in Suid-Afrika nie. Hier is KTM is bekend vir hulle kaalfietse, die Duke, en hulle avontuurfietse, die Adventure. Fietse soos KTM se Superduke GT en die SMT was nie juis topverkopers nie. KTM se slagspreuk is juis “Ready to Race” en nie “Reg om op ’n rustige toer te gaan” nie!

KTM het Maandag die nuwe SMT aan die wêreld bekend gestel, en alhoewel alle KTM‑aanhangers gehoop het vir ’n herlewing van die 990‑enjin, het KTM by hul bewese 890‑enjin gebly. Die afkorting SMT is ’n samevoeging van twee afkortings, SuperMoto en Touring. KTM het egter in die bekendstellingsvideo meer op die SuperMoto gefokus as op die Touring. Hulle het die fiets op ’n bergpas losgelaat in die bekwame hande van die Pikes Peak Hillclimb‑wenner Chris Fillmore. Die fiets lyk behoorlik of hy enige kronkelpad sal kan kafdraf.

KTM het Maandag die nuwe SMT aan die wêreld bekend gestel. (Foto: KTM)

Hier in sonnige Suid-Afrika is stede en dorpe ver uitmekaar. Daarom is ons eerste keuse van ʼn fiets gewoonlik ’n avontuurfiets met ’n ontspanne sitposisie, breë handvatsels en ’n gemaklike plek vir jou agterstewe. KTM se 890 Duke is seker een van die beste middelslag‑kaalfietse tans op die mark, maar ek sal nie graag ’n rit langer as 300 km met hom wil aanpak nie. Die saal is hard en die aggressiewe ryposisie sal jou moeg maak. Om hierdie rede neig kopers meer na die 890 Adventure. Dit wil vir my voorkom of KTM êrens tussen die Duke en die Adventure wou land met die SMT, maar nader aan die Adventure wat die ergonomie betref. Tog het die fiets sterk trekke van die Duke behou.

Die eerste ding wat jy opmerk, is die kleiner voorwiel met die dubbele modderskerm. Die fiets het ook lyf gekry agter met breër bakpanele. Voor kry die SMT KTM se bekende hooflig, met ’n kort windskermpie. KTM beweer dat hierdie skermpie net genoeg windbeskerming bied en steeds sportief lyk.

KTM het Maandag die nuwe SMT aan die wêreld bekend gestel. (Foto: KTM)

Agter die skermpie is ’n splinternuwe 5”‑TFT‑instrumentepaneel. Hier kan elke verstelbare funksie op die fiets gesien word. KTM het die hele stelsel verbeter, met visuele aanduidings van wat presies jy besig is om te stel. Selfoonkoppeling is ’n gegewe.

Die raam en enjin is as ’n eenheid ontwerp en die agterste subraam is versterk. Die SMT is immers bedoel as ’n toerfiets met ’n passasier en bagasie as deel van die prentjie. Die kompakte raam het KTM in staat gestel om ’n lang swaaiarm te bou vir beter stabiliteit. Die brandstoftenk is soortgelyk aan dié op die Adventure, maar is effe kleiner. Dit hou 15,8 liter en behoort jou ’n baie goeie reikafstand te gee. Net soos op die Adventure strek die tenk laag af aan die kante om die swaartepunt van die fiets laag te hou.

KTM het Maandag die nuwe SMT aan die wêreld bekend gestel. (Foto: KTM)

Die sporttoerfiets is bedoel om gemaklik te wees oor lang afstande, maar terselfdertyd baie pret te wees terwyl jy die kilometers verorber. Op papier lyk dit dus asof KTM dit reggekry het om die regte kombinasie van gemak en verrigting te kombineer. Ek sal hom self wil beproef om te sien of hulle suksesvol was. Ek dink die ideale jagveld vir die SMT is plekke soos die Stelvio-pas op die grens tussen Italië en Switserland. Daar behoort hierdie fiets waarlik tot sy reg te kom. Kom ons kyk maar wat hou die toekoms in.

Die verwagte prys vir die SMT is R238 999.

Vir meer inligting: https://www.ktm.com/en-za/models/sports-tourer/ktm-890-smt-2023.html.

KTM het Maandag die nuwe SMT aan die wêreld bekend gestel. (Foto: KTM)

 

KTM het Maandag die nuwe SMT aan die wêreld bekend gestel. (Foto: KTM)

 

KTM het Maandag die nuwe SMT aan die wêreld bekend gestel. (Foto: KTM)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.