BMW G 310 GS – ʼn Jaar later

(Foto: Brian Cheyne)

Die kopdokters het altyd mooi terme vir spesifieke optredes. Ek is my lewe lank ’n dromer, en het later moes hoor ek is aandag afleibaar. ’n Ander term waaraan ek my gereeld skuldig maak, is kognitiewe dissonansie. Dit is as jy iets pas gekoop het, en jy wonder of jy die regte ding gedoen het.

Wel ek het goeie nuus: daarvoor is daar keuse-gebaseerde vooroordeel. Dit is as jy jouself heeltyd oortuig hoekom jou keuse die beste was, en jy geheel en al die negatiewe aspekte van jou aankoop miskyk en net fokus op die positiewe. Hoe dun hulle ook al gesaai is.

(Foto: Brian Cheyne)

Ek het weens ’n sameloop van omstandighede aan die begin van 2020 vir my ’n BMW G 310 GS gekoop en is alewig besig om die klein fietsie te verdedig. Toe besluit ek maar om ’n vollediger verslag te skryf en te vertel hoe ek oor die klein BMW voel na ’n jaar se eienaarskap. Goed en sleg.

Avontuurfietse oorheers die Suid-Afrikaanse mark en hier is “groter is beter” die aanvaarde reël vir motorfiets koop. Dan val kleinkapasiteit-avontuurfietsies heeltemal uit die bus uit. En tog is hierdie sienswyse so ver verwyder van die werklikheid. My klein fietsie was aangekoop om as pendelfiets te dien. Sedert Covid-19 ons forseer het om by die huis te werk, het hierdie fietsie my ontsnapping geword.

(Foto: Brian Cheyne)

Die standaard GS is ’n hoë fiets, en is sag op die oog. Die fiets lyk goed en is hoog genoeg om my lengte te kan akkommodeer. Die een voordeel wat jy het as jy ’n BMW koop, is dat daar heelwat derdeparty-vervaardigers is wat bybehore vir hulle skep. Dus kon ek my GS verpersoonlik en omskep in ’n baie aantreklike fiets. Party bybehore was bloot kosmeties en ander prakties. Die resultaat is ’n fiets wat lyk of dit reg is vir enige avontuur.

Daar is egter ’n paar dinge wat pla. Selfs na een jaar se besit, kan ek steeds nie gemaklik raak met die koppelaar nie. Die koppelaar maak soms ’n onaardse geluid as hy koud is en jy trek vinnig weg. Die onaardse geluid beteken ten minste dat jy weg kon trek sonder om die fiets te stol.

(Foto: Brian Cheyne)

Die ander lastigheid is die hooflig wat vreeslik spring as jy ry. Motors wat van voor af kom, flits gereeld vir my hulle ligte want die hoppende voorlig moet seker steurend wees vir aankomende verkeer. Die vering is aan die sagte kant, maar hier moet ek vir die klein GS in die bresse tree. Hy is nie gemaak vir uiters tegniese roetes nie. Die fiets is hoogstens gemaak vir ’n effe swakkerige grondpad. Jy kan die sluitwering afsit op die agterwiel, maar dit alleen maak nie van hom ’n vrotpadfiets nie. Ek dink tog dat BMW nie heeltemal verkeerd was om die GS-naam op hierdie fietsie aan te bring nie.

(Foto: Brian Cheyne)

Ek het al die tegniese Breedsnek-pas aangedurf en ook al ’n paar langer ritte met my GS gedoen. Na ’n jaar weet jy darem al waar lê die fiets se beperkinge en pas jy dienooreenkomstig aan. Ten spyte van die feit dat die fiets nie in Duitsland vervaardig is nie, het nog niks afgeval of onklaar geraak nie. Sy brandstofverbruik is om en by 4 l/100 km. Omdat sy brandstoftenk net 11 liter hou, behoort jy om en by 300 km ver te kan ry.

Ek het ernstig oorweeg of ek nie die nuwe 2021-model moet aanskaf nie, want BMW het nou die koppelaar en hooflig uitsorteer, maar my fietsie is meer as genoeg, dankie. Nou gaan ek hom net ry en ophou om my keuse te probeer regverdig!

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wikkie ·

Wat ‘n onbeskryflike mooi fiets!
Vir die tipe fiets wat dit is, is ek mal oor die ontwerp. Pragtig!
Wie het gesê dat bos-en-pad fietse minder mooi onwerpe moet hê, as padfietse?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.