BMW K 1600 B – Elegante kragreus

Ek is in twee geskeur. Aan die een kant het ek al ’n hoëverrigting‑ elektriese motorfiets gery en ek weet dit is die toekoms, maar aan die ander kant is daar vir my steeds die bekoring van die klank van ’n kragtige motorfietsenjin wat in die lewe geroep word.

Een van die enjins is die seepgladde, ses-silinder‑enjin wat BMW in hul K-reeks fietse het. As jy die aansitter druk, blaf die enjin eers vir jou en grom dan saggies terwyl die toere daal soos die enjin warmer word. Hierdie enjin doen al vanaf 2011 diens in die K-reeks fietse en bly seker een van my gunstelingenjins, bloot vir sy seepgladde verrigting. Ek sal seker nie in my leeftyd die einde van petrolenjins sien nie, maar ek voel ek moet dit nogtans geniet terwyl ek kan.

Die BMW K-reeks fietse bestaan uit die GT-, GTL- en B-modelle. BMW het onlangs die hele K-reeks fietse opgekikker en tydens die plaaslike bekendstelling het ons die GT- en B-variante gery. Albei modelle het kanttasse, maar waar die GT-model se tasse kan afhaal, is die B‑model se tasse vas en baie elegant in die ontwerp geïntegreer. Die tasse huisves ook die agterligte en flikkers. Voor kry die B ’n baie kort windskerm wat effens mors met die fiets se proporsies, maar tog die fiets ’n unieke aansig gee. Die toetsmodel was in BMW se opsionele Option 719-afwerking afgewerk. Dit beteken die saal is luuks oorgetrek en met ’n diamantpatroon gestik. Die res van die fiets is pure BMW‑gehalte.

Alhoewel die voetkontroles op die tradisionele plek sit, het BMW ook twee voetplate vorentoe op die fiets gemonteer vir daardie rustig-agteroorsit‑dae. Vir die dae wat die pad soos ’n potlood voor jou uitstrek en jy net die omgewing kan inneem. Dit dien ook as bykomende beskerming vir die enjin.

BMW het vir 2022 die enjin aangepas om aan die nuutste Euro5‑emissiereëls te voldoen. Dit beteken dat die enjin steeds dieselfde 160 pk lewer, maar dat hierdie krag nou teen 1 000 r.p.m. minder beskikbaar is. Alhoewel die 1 649 cc-kragbron nie tekort geskiet het wat wringkrag betref nie, het die nuwe elektronika die syfer nou opgestoot tot 180 Nm teen slegs 5 250 r.p.m.

Die veranderinge is verder uitgebrei na die vering wat nou BMW se heel nuutste, dinamiese vering insluit. Al die ligte op die fiets is LED-eenhede en BMW het hul aanpasbare hooflig op die B. Dit beteken dat die voorlig nou die binnekant van ’n draai sal verlig soos jy in die draai leun. Die grootste kenmerk van die nuwe reeks is egter die nuwe 10,25” TFT‑skerm. Daar is letterlik niks wat jy nie sal kan sien op hierdie yslike skerm nie.

Die K 1600 B is nie ’n klein fiets nie, maar die fiets voel nie so swaar as wat die skaal wys nie. Die enjin is 55 ° vorentoe gekantel, wat die swaartepunt van die fiets baie laag maak. Die saal is luuks en uiters gemaklik. Voor jou strek die tenk uit na die yslike instrumentepaneel en die elektries verstelbare windskermpie sit laag en uit die pad. Aan jou linkerkant, by jou been, is vier knoppies wat jy kan opstel soos jy wil. Ek het gevind dit verg hopeloos te veel stappe om die verhitte grepe op die tradisionele manier te verstel. Daarom het ek daardie funksie toegeken aan een van hierdie knoppies. Dit vergemaklik net die hele proses.

Die ryervaring van hierdie groot sessilinder is onbeskryflik, alhoewel die ratskakeling dalk gladder kon gewees het. As jy egter die krane op die K groot oopdraai, gaan die fiets jou verras. Hy lyk dalk na ’n stadige toerfiets, maar dit is hy beslis nie. Selfs draaie bring hom nie van stryk nie. Vir seker is daar fietse wat makliker hanteer, maar die B is glad nie ’n handvol nie.

Albei bagasietasse is baie ruim, maar ek sien nie die B as die tipiese twee-op‑toerfiets nie. Nee, hierdie fiets is vir die alleenloper wat sonder plan ry. Wat vir kilometers op ’n dag gemaklik wil ry. Vir daardie ryer kan ek die B nie hoog genoeg aanskryf nie!

As jy wel met ʼn passasier die land wil besoek, wag vir my volgende padtoets van die R18 Transcontinental.

Die feite:

Enjin1 649 cc; sessilinder
Gewig (Nat)344 kg
Maksimum kraglewering118 kW/160 pk @ 6 750 r.p.m.
Saalhoogte750 mm
Tenkkapasiteit26,5 ℓ
PrysVanaf R403 800

Klik hier vir die produkblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.