BMW se allerbeste?

Ek sou stry dat kalibrasie altyd foefies sal troef. Al het ʼn kar elke denkbare funksie en luuksheid – as alles moeilik werk, grof voel of nie samehorig is nie, help dit net mooi niks. Aan die ander kant van die munt is daar voertuie wat werklik min foefies het en perfek gekalibreer is – daai motors ry soos ʼn droom. BMW het dit egter hier reggekry om die perfekte balans tussen die twee te tref. BMW se iX1 is ʼn openbaring as dit kom by ʼn battery- elektriese voertuig (BEV).

Die iX1 is werklik mooi – ʼn pragtige ontwerp wat vir my sportief genoeg vertoon sonder om soos ʼn kar uit die Fast & Furious-flieks te lyk en mooi genoeg om by almal aanklank te vind.

Die binneruim is net só netjies ontwerp, en die bougehalte is verstommend. Soos mens van BMW verwag, word daar pragtige materiale gebruik. Mens is lekker vinnig gemaklik en alles wat mens soek, is vinnig byderhand. BMW se inligtingstelsels is ook lekker intuïtief, maar daar is drie klein kwale aan die binneruim. Die draadlose Apple CarPlay is onstabiel – ek verkies om ʼn draad te gebruik. Die twee ander is met die stuurwiel. Die rand van die stuurwiel is werklik baie dik – té dik in mens se hande en die stuurwiel is nie presies loodreg met die bestuurder nie. Hy sit net-net regs en teen effens van ʼn hoek. In ʼn moderne motor is dit uiters vreemd dat hulle dit nie kon regstel nie.

Onder die kap – of eintlik die hele vloer – sit ʼn elektriese motor. Dié motor bied 230 kW en 494 Nm. Die battery is 66,5 kWh en BMW beweer ʼn reikafstand van 440 km. Persoonlik was my gemiddelde verbruik 18,2 kWh/100 km – dit bied ʼn reikafstand van 365 km. 0–100 km/h neem ʼn blitsige 5,6 sekondes en die iX1 is elektronies beperk tot 180 km/h.

Op die pad ry die iX1 soos ʼn droom. Dit is lieflik stil en alles is net só gekalibreer. Dit ry net soos enige ander tjor – net sonder ʼn tenk vol brandstof. Die ritgehalte is effens ferm – maar dié spesifieke iX1 ry op 20″-wiele – standaard met die M-Sport-pakket.

Soos enige moderne Europese motor is die BMW stampvol veiligheidstelsels, aktief én passief. Die passiewe stelsels is dinge soos sluitweerremme, vastrap en stabiliteitsbeheer. Aan die aktiewe kant is funksies soos blindekol en baandwaalwaarskuwing, asook aanpasbare spoedkontrole. Dan ook botsingwaarskuwing met noodremhulp.

Die iX1 is werklik ʼn lieflike kar. Ongelukkig belas ons regering steeds elektriese voertuie swaarder as gewone binnebrandmodelle, maar ek kan maklik sien hoe ʼn iX1 perfek in vele huishoudings se motorhuis pas as ʼn tweede kar wat daagliks die skoollopie voltooi, kantoor en huis toe toer, asook inkopies oor ʼn naweek – selfs wegbreke nader as 200 km van jou huis.

Vir langafstande is die laainetwerk reeds van sodanige aard dat mens maklik tussen Johannesburg en Durban of Kaapstad kan toer, of van Kaapstad af deur die tuinroete tot in Gqeberha (Port Elizabeth). Met fase 6-beurtkrag wat gereeld toegepas word, sal mens egter die skedules moet dophou, want waar jy wil herlaai, is dalk af tydens beurtkrag. Ek self het die voertuig daagliks in die motorhuis by die huis gelaai op ʼn gewone driepuntprop. Die iX1 was 100% vol elke oggend wanneer ek vertrek vir werk, deur beurtkrag en al.

Die iX1-reeks lyk só:

BMW iX1 xDrive 30 xLineR1 205 000
BMW iX1 xDrive 30 M SportR1 245 000

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-voertuigwaarborg, 8 jaar/100 000 km-batterywaarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

ModelKragReikafstandWaarborgPrys
Volvo XC40 Recharge175 kW/330 Nm460 km5 jaar/100 000 km-voertuigwaarborg

8 jaar/160 000 km-batterywaarborg

5 jaar/100 000 km-omvattende instandhoudingsplan

R1 108 000
Mercedes-Benz EQA 250 Progressive140 kW/385 Nm429 km2 jaar/onbeperkte km-voertuigwaarborg

8 jaar/160 000 km-batterywaarborg

5 jaar/100 000 km-omvattende instandhoudingsplan

R1 176 350

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.