BMW se R 1300 GS is hier

(Foto: BMW)

Soms, as ons dominee preek vir ons om kerk toe te kom, dan dink ek: “Maar Dominee, ek is hier. Jy preek vir die verkeerde groep!” En dit is hoe ek voel oor die aankondiging dat BMW se R 1300 GS nou in Suid-Afrika is. Ek is seker dat daar nie een GS-geesdriftige is wat nie die een of ander bekendstelling bygewoon het die afgelope naweek nie. En as daar iemand is wat nie geweet het nie, wel, dan is ek bly ek kan vir iemand vertel van die opgewondenheid by BMW-handelaars.

Anders as die bekendstellings waaraan ek gewoond geraak het, waar die media die fietse ry en die fietse dan later in vertoonlokale verskyn, het BMW hierdie keer op iets heeltemal anders besluit. Elke handelaar kon sy eie bekendstelling hou soos dit hom pas. Sommige handelaars het sommer drie verskillende tydgleuwe gehad vir hulle bekendstelling. Ek het by die een naaste aan my gaan inloer, BMW Motorrad Montana.

Ek was vroeg daar om so ʼn paar foto’s te neem, of so het ek gedink. Die vertoonlokaal was egter reeds gepak met mense wat almal ewe opgewonde oor die nuwe fiets gesels het. Daar was vier fietse wat met swart lappe gedrapeer was, en eenkant het daar drie ander bedekte fietse gestaan. Hierdie drie fietse was alreeds verkoop en die trotse eienaars kon op hierdie groot aand ontvangs neem van hulle nuwe fietse.

Na ’n kort aanbieding is die R 1300 GS amptelik onthul, en te meet aan hoe moeilik dit was om naby aan die fietse te kom vir ’n foto, gaan BMW nie veel probleme hê om hierdie fietse te verkoop nie.

Die nuwe R 1300 GS lyk heelwat beter in lewende lywe as op foto’s. Die ontwerp is uiters skoon en goed uitgevoer. Die fiets voel ook kleiner en ligter as sy voorganger. Daar is egter twee punte waaroor die meeste gesprekke gegaan het. Die eerste was die prys. Baie 1250-eienaars voel dat hierdie nie genoeg van ’n opgradering is om hulle huidige fietse te vervang nie. Maar ek sien die begeerte in hulle oë. Ek weet dit gaan nie lank vat vir baie 1200- en 1250-ryers om tog maar die nuwe een te koop nie. Die ander warm onderwerp was die voorlig. Nuwe projektor-tipe LED-lampe het heelwat kleiner omhulsels nodig as tradisionele koplampe, en dit laat vervaardigers toe om met allerhande kreatiewe idees vorendag te kom om tog vir die fiets ’n vooraansig te gee. Verder het almal net met lof van die nuwe fiets gepraat. Een ding wat my wel opgeval het van die nuwe fiets, is hoe stil hy loop.

Ons gaan binnekort ’n kans kry om ʼn bietjie tyd in die saal deur te bring, en dan sal ek meer breedvoerig kan berig oor die fiets. Ek dink hierdie manier van bekendstelling het baie meer oë op die fiets gekry, en soos ek reeds genoem het, hierdie fietse gaan nie sukkel om nuwe eienaars te kry nie. BMW Montana het nog so ʼn paar oor as jy dalk jou bestelling wil plaas.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.