Defender met groen skoene

Land Rover se Discovery 5 was grootliks ʼn mislukking vir die maatskappy. Waar die Discovery 3 en 4 wêreldwyd ʼn reusesukses was, kan dieselfde ongelukkig nie gesê word van wat Land Rover noem “the all new Discovery”.

Toe kom die nuwe Defender. Waarskynlik die grootste verandering van een model na ʼn ander model wat ek al in my lewe gesien het. Die nuwe Defender is na my mening ʼn reusesukses, nie net op eie bodem nie maar ook wêreldwyd.

Bewys daarvan is die redelik vinnige uitbreiding van die modelle wat beskikbaar is, naamlik die 90, 110 en 130 – dit dui die asafstand aan. Die 90 is die kortetjie, die 110 die standaardmodel wat met vyf of sewe sitplekke beskikbaar is, en dan die imposante 130 met sy reusekattebak en agt sitplekke.

Elkeen van dié modelle is beskikbaar met ʼn groot verskeidenheid van enjins – van ʼn viersilinder-turbopetrol óf -turbodiesel, sessilinder-turbopetrol óf -turbodiesel tot selfs ʼn vuurvreter-V8 … en nou ʼn inprophibriedmodel. P400e is sy naam.

Die nuwe P400e maak gebruik van ʼn 221 kW-viersilinderturbopetrolenjin én ʼn elektriese motor wat ʼn totaal van 297 kW of 404 perdekrag bied. 640 Nm is nie te versmaai nie en sorg dat die P400e van 0 tot 100 km/h in ʼn indrukwekkende 5,6 sekondes kan haal, en kan aanhou draf tot 209 km/h. Hy is met 22″-wiele toegerus en indien mens nié wil jaag nie, sal die P400e Defender steeds drie ton sleep, óf hy kan byna 50 km ry nét op batterykrag. Die P400e het ʼn 19.2 kWh-battery wat binne twee en ʼn half uur kan laai op ʼn 7 kW-laaier by jou huis, of hy kan 80% haal binne 30 minute op ʼn 50 kW-DC-laaier.

Die feit dat die Defender ʼn hindernisbaan op slegs elektriese aandrywing kan aandurf, is iets wat my beïndruk. Dan wonder ek ook, hoekom sou mens enigiets anders as die D300-sessilinderdiesel in Suid-Afrika koop?!

Land Rover het dit goedgedink om ons te nooi Frankryk toe. Daar het ons die hibriede Defender bestuur én bietjie rugby gekyk. Wat ʼn voorreg en belewenis.

In die suide van Frankryk op die Franse Riviera tussen Nice en Cannes moet ek vir jou sê: Op daai piepklein paaie tussen die dorpies en berge maak ʼn hibried absoluut sin om verskeie redes. Die eerste rede is dat mens doodstil op elektriese aandrywing deur die dorpies kan kruip. Die tweede rede is die beskikbaarheid van laaipunte. Daar is oral kragproppe waar mens ʼn EV of ʼn PHEV kan laai.

Ek moet bieg. My linkerhandstuurvaardighede is beperk. Mens onderskat hoe gedisoriënteerd mens voel aan die linkerkant van die kar en die regterkant van die pad. Mens kan oombliklik nie die proporsies van die voertuig skat nie. Nietemin, ons het die roete van ongeveer 100 km ongedeerd afgelê deur die pragtigste landskap en dis toe dat dit my opval – Defender, wat eens op ʼn tyd ʼn hardebaardnutsvoertuig was, is nou absoluut tuis op enige plek … die Franse Riviera, die woestyne van Namibië of ʼn grondpad in die Kalahari.

Die inprophibriedreeks lyk só:

Land Rover Defender 110 P400e X-Dynamic HSER2 135 900
Land Rover Defender 110 P400e XR2 198 900

Die reeks word gedek deur ʼn vyfjaar/100 000 km-voertuigwaarborg en agtjaar-batterywaarborg, asook ʼn vyfjaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.