Dié Audi vat ʼn draai raak

(Foto: Verskaf)

Jy onthou hulle uit jou kinderdae. Daai lekker warm karre.

In my eie jong dae was daar die Cortina- en die Skyline-mense. Toe kom die BMW 325iS en Opel se SuperBoss en die ietwat stadiger Golf GTI.

En daarna die era wat my hart roer, met BMW se M3, Audi se RS4 en Mercedes se C32 en later die 55 en 63.

Dié rygoed het motormense ure lank aan die gons gehad.

Van daar het die pendulum teruggeswaai na warm luikrugmotors: Renault se Megan RS, die Golf GTI, Focus ST, Honda Civic Type R. En toe kom Audi en blaas hulle almal uit die water met die RS3.

Audi het twee elemente gehad wat niemand kon koop nie: Die Quattro-naam en die 5-silinderklank. ʼn Mens is oombliklik teruggeneem na die dae van Walter Röhrl in sy Groep B‑Audi-tydrenmotor; dwars in die sneeu tussen die skare deur. Die Portugese tydrenliefhebbers was die gekste van almal. Hulle wou sommer aan die kar vat soos dit verbyvlieg. Ná een spesifieke gedeelte van die Portugese tydren het hulle ʼn toeskouer se vinger in die gaping van die deur gevind. Stapelgek.

(Foto: Verskaf)

Die RS3 se klank was fantasties en sy krag indrukwekkend. Daar was egter een probleem: stuurtraagheid. Die oomblik wat jy krag begin invoer om uit ʼn draai uit te kom, het die neus wyd begin stoot. Dit was die geval met die meeste sogenaamde pad-Audi’s. Maar net tot nou.

Die nuutste weergawe is pure RS3. Die ontwerp is werklik ʼn pragstuk. Ek verkies die sedan bo die luikrug, maar albei is besonder sag op die oog. Die binneruim is presies wat jy van enige Audi sou verwag. Dit spog met ʼn pragtige ontwerp, puik materiale en verstommende bougehalte.

(Foto: Verskaf)

Die kajuit is gepeper met elke denkbare luuksheid. Daar is ʼn panoramiese sondak, groot raakskerm-inligtingstelsels wat Android Auto en Apple CarPlay bied, ʼn draadlose laaimatjie vir jou selfoon, klimaatbeheer, aanpasbare spoedkontrole. Noem dit en dis daar.

Onder die kap sit ook iets spesiaals – ʼn 2.5 5-silinder‑turbopetrolenjin wat 294 kW en 500 Nm bied. Van 0‑100 km/h duik op in ʼn ratse 3,8 sekondes en die RS3 kan snol tot 290 km/h. Die krag word deur ʼn 7-spoed-dubbelkoppelaar‑ outomatiese ratkas aan al vier wiele deur Audi se quattro-dryfstelsel gestoot.

Dié stelsel was ʼn jare gelede ʼn Haldex-stelsel waar die koppelaar vir die agterste ewenaar voor die ewenaar gesit het. Nou sit daar twee koppelaars ná die ewenaar, een links en een regs. Hiermee kan die RS3 krag na individuele wiele stoot om die voertuig te help draai. Dít, tesame met die bietjie blikbrein-programmering, sorg vir ʼn RS3 waarmee jy deesdae kan toor.

(Foto: Verskaf)

Om die Zwartkops-renbaan in Pretoria het ons kans gehad om self te sien waartoe die RS3 in staat is. En kêrels, daardie stuurtraagheid is iets van die verlede. In Dynamicrymodus kry jy nou eerder ʼn effense stuuroorywerige gevoel – en dit is fantasties.

(Foto: Verskaf)

In RS-rymodus is die onderstel heeltemal neutraal en as jy die kar reg opstel voor die draai, kan jy verstommende spoed hou en bitter vroeg begin krag invoer om die draai nóg vinniger te verlaat.

Die laaste modus is Torque Rear. Hierdie rymodus vroetel met die blikbrein en laat jou toe om enorme drifts te doen. (Het ek al die woord fantasies gebruik?)

Die RS3, Mercedes-AMG se A45 en BMW se M140i sit in ʼn eksklusiewe hoekie van die mark. Dit is duur, ja. Maar daar is beslis ook entoesiaste wat sulke speelgoed soek (en kan bekostig).

Vir my? ʼn Grasgroen RS3‑sedan. Asseblief.

Vuurwarm en grasgroen. (Foto: Verskaf)

Die RS3-reeks lyk só:

Audi RS3 Sportback QuattroR1 215 000
Audi RS3 Sedan QuattroR1 245 000

Die reeks word gedek deur ʼn 1 jaar/onbeperkte km‑waarborg en 5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan.

 

Die RS3 sal later weer ʼn draai kom maak en dan sal ons kyk hoe hy hom in die daaglikse roetine gedra. Ons sal dit ook dán met die mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wielspore ·

Stem so saam met Brendon, my gedagtes het terug gegaan na Newcastle, Stephenson straat, Aapskoolpad of die Newcastle bypass vir top end runs, later het die Utreght pad ook bygekom. Ander blitse wat ook genoem kan word is die Nissan Exa, Tredia Turbo en Toyota TRD. Ek self het ‘n Golf 1 Gti gery en bloot met die embleem op die voertuig moes jy altyd reg wees vir ‘n dice. Lekker ry.

Wiehan ·

Ek is ‘n Alfisti. Al die jare was dit die Alfa’s teen die Fords. Ons 2L GTV’s het die 3L Ford V6’s aangevat todat die 3.0 GTV uitgekom het. Toe moes Ford ‘n 5L V8 bou. Kyk bietjie na die 2.9L V6 Alfa Romeo Giulia Quadrifoglio. 307km/h topspoed. En hy word net deur agterwiele aangedryf. Monster!

Wielspore ·

Die Ford Sierra XR8 was ‘n monster, die Alfa GTV 6 en Giulietta uit die middel 80’s was vir my mooi karre, enige jong man se droom om te kan besit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.