Dié Chery kan jy aan jou ouers voorstel

Maroela Media was onlangs in die Wes-Kaap om met Chery se jongste Tiggo 7 Pro Max te ry. Dit is die belowendste model uit China waarmee ek al gery het en nou met ʼn sterker 1.6‑viersilinderturbopetrolenjin toegerus wat 145 kW en 290 Nm bied.

Die Tiggo 7 Pro is beslis vir my ʼn mooi kar. Die ontwerp is netjies en pure sportnutsvoertuig. Die ontwerp is konserwatief sonder enige lawwe vinne en flappe. Die bougehalte lyk uiters netjies. Wanneer jy die binneruim betree, is dit verder ʼn aangename verrassing. ʼn Mens is redelik vinnig gemaklik en die gehalte van al die raakpunte beïndruk. Daar is net een kriewel – en dis die truspieëltjie. Dit spieël is ontwerp om die kinders in die agtersitplek te kan sien. Dit beteken egter dat wat agter die kar aangaan half uit fokus is.

Ons het twee modelle onder hande gehad. Die eerste is ʼn voorwielaangedrewe model. Dit sou beslis my keuse wees. Die versnellerkalibrasie is die beste wat ek al op ʼn Chinese motor gevind het – nie perfek soos die Japannese kan nie, maar ʼn reusesprong in die regte rigting. Die vierwielaangedrewe model is nog soos die ouer Chery-modelle en kort beslis nog werk.

Die binneruim is gepeper met al die luukshede – lieflike lugreëling, spoedkontrole en dies meer. Die voorwielaangedrewe model het nie die finale gevorderde bestuurbystandstelsels wat die viertrekmodel het nie – dit is ʼn seëning. Die gepiep en gebiep van die stelsels saam met die alewige getrek aan die stuurwiel omdat die motor skrik vir die geel streep of ʼn voertuig wat verby gery het, is onaanvaarbaar.

Onder die kap sit ʼn 1.6‑viersilinderturbopetrolenjin wat 145 kW en 290 Nm bied. Die enjin is gepaard aan ʼn 7-spoed‑dubbelkoppelaar‑ outomatiese ratkas wat heel goed ratte wissel. Die vierwielaangedrewe model kon nie mooi in sewende rat vasskop op spoedkontrole nie en het die heeltyd teruggespring sesde toe teen 120 km/h – heel vreemd. Die wind het kwaai gewaai in die Kaap en dit het verwoesting gesaai met die Tiggo se brandstofverbruik. Ek’t al by verskeie bronne gehoor dat die Cherys ná die eerste diens wesenlik ligter is op brandstof teenoor wanneer hulle splinternuut is.

Op die pad toer die Tiggo 7 heel goed. Ons het egter ʼn redelik eenvoudige roete gery van Kaapstad af Paternoster toe en terug. Daar is geen slaggate nie, en die oppervlak word heel goed in stand gehou. Dit sal egter gesien moet word of jy dieselfde deuntjie sing na jy van Gauteng se vrot paaie trotseer het.

Ek sal die Chery Tiggo 7 Pro Max só opsom: Die voorwielaangedrewe model is ʼn ware mededinger en kan ernstig opgeneem word teen die prys. Die vierwielaangedrewe model, soos die meeste Chinese motors, kort daai laaste 5%-verfyning en -kalibrasie om goed te wees.

Die reeks lyk só:

Chery Tiggo 7 Pro Max Distinction 2WDR529 900
Chery Tiggo 7 Pro Max Executive 2WDR559 900
Chery Tiggo 7 Pro Max Executive AWDR609 900

Die reeks word gedek deur ’n 5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg en 1 000 000 km-waarborg op die enjin vir die eerste eienaar sowel as ʼn 5 jaar/60 000 km-diensplan.

Ons sal weer tyd met die Tiggo 7 deurbring en hom dan met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.