Die pendulum het geswaai

In my grootwordjare was ek ʼn groot BMW-aanhanger – ʼn E30 325i met ʼn freeflow daarop kon amper altyd die hare op my nek regop laat staan. Mercedes-Benz was vir ou mense. Dalk, as ons die warmer 190E Cosworth hier gekry het, sou mens anders voel – maar in my klein hoekie van Suid-Afrika was dit absoluut BMW.

Dalk is dit eenvoudig omdat ek nou my middeljare begin haal, maar Mercedes-Benz het deesdae fantastiese produkte. Hul ontwerp is vir my heelwat mooier, veral aan die binneruim. Já, BMW se materiale en bougehalte is tans beslis beter as Mercedes s’n, maar kom ons kyk spesifiek na dié twee mededingers.

Ontwerp:

BMW 320dMercedes-Benz C220d
4/55/5

Terwyl BMW se 3-reeks nie ʼn lelike eendjie is nie, is die nuutste C-klas werklik pragtig. Die Benz het ʼn elegansie wat die BMW mis. Merc se C-klas in die regte spesifikasie met die regte wiele lyk soos ʼn baba-S-klas. ʼn Wit een vir my, asseblief, met ʼn multi-speek-sierwiel. Pragtig.

Binneruim:

BMW 320dMercedes-Benz C220d
4/54/5

Dié kategorie moet eintlik vir dié twee mededingers verdeel word. In terme van binneruimontwerp kry die Mercedes 5/5, maar die gehalte van sommige van die plastiekelemente laat hom in die steek en daar verloor hy ʼn punt. Die Bee-Em kry 5/5 vir materiaal en gehalte, maar die ontwerp is weer teleurstellend en hy verloor daarom ʼn punt.

Enjin, ratkas & dryfstelsel:

BMW 320dMercedes-Benz C220d
5/55/5

BMW het altyd die oorhand gehad wat sy dieselenjins betref. Die 320d was nog altyd uiters lig op brandstof. Mercedes het opgevang en albei voertuie se dryfstelsels is werklik puik. Oorgenoeg krag teen 140 kW en 400 Nm vir die BMW en 147 kW en 440 Nm vir die Merc. Albei motors kan onder 5 ℓ/100 km haal indien jy sag met hulle werk – en dis puik. Ek het oor ʼn week met my C220d sowat 5,6 ℓ/100 km gehandhaaf en meer as 1 000 km gehaal op ʼn enkele tenk. Dis ʼn jammerte dat Europa só oorlog maak met die binnebrandenjin, veral diesel.

Ritgehalte, padhouvermoë en veiligheid:

BMW 320dMercedes-Benz C220d
4/55/5

In dié afdeling voel ek die Mercedes het ʼn piepklein voordeel. Die C220d is met vierwielstuur toegerus en wanneer mens stadig ry en parkeer, ­maneuvreer hy bitter maklik en parkeer in ʼn japtrap. Die 320d het ʼn vreemde swaar gevoel aan die stuur, en die stuurwiel is heeltemal té dik in ʼn mens se hande. Dit laat die 320d nie so delikaat voel soos die C nie – en daarom is hy lekkerder om te ry. Albei spog met puik padhouvermoë en veiligheidstelsels, en ongelukkig is albei effens hard geveer. In Europa, op hul pragtige paaie, is dit nie ʼn probleem nie, maar Gauteng se paaie is tans uiters swak.

Opsomming:

BMW 320dMercedes-Benz C220d
17/2019/20

Dit is maklik om dié twee op te som. Albei kos min of meer dieselfde as die ander een, en albei is ʼn D-segment-sedanmotor met ʼn dieselenjin. Ek persoonlik verkies wat die C-klas bied en dus sal dit my keuse wees.

BMW 320dMercedes-Benz C220d
R985 768R1 076 199

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.