Ducati bou voort op sukses

As daar nou een stelling is wat op Ducati van toepassing is, dan is dit “Wen op Sondag, verkoop op Maandag”.

Hoewel die Italiaanse vervaardiger se fabriek in Bologna omtrent soveel fietse per jaar vervaardig as Honda in een enkele dag, het hy die renbane in 2023 heeltemal oorheers. Hy het die MotoGP- én WorldSBK-vervaardigerstitel ingeoes, en sy verkoopsyfers het ook nuwe hoogtes bereik. Nou wil Ducati ook begin meeding in die Motocross-wêreldkampioenskap en daarvoor het hy ’n splinternuwe eensilinderenjin ontwikkel. Daar is nog nie amptelike foto’s van sy Motocross-fiets beskikbaar nie, maar Ducati doen nie dinge halfhartig nie. Dit is egter nie net op die renbaan waar hy uitblink nie. Ducati het oor die afgelope paar weke voor en tydens EICMA ’n rits bygewerkte modelle bekendgestel, waaronder ’n baie unieke Multistrada.

Ducati DesertX Rally

Die Ducati DesertX is reeds ’n fenomenale fiets, maar daar is seker net ’n handjievol mense wat hierdie fiets werklik tot die uiterste toe sal kan ry. So iemand is Antoine Meo, wat met ’n DesertX aan die Erzberg-rodeowedren in Oostenryk deelgeneem en sy klas oorheers het. Dit was ook hier waar die DesertX Rally ontwikkel is. Om die DesertX nog meer geskik te maak vir die rofste paaie was seker nie ’n maklike taak nie, maar die vurke en skokbrekers is verbeter en is dieselfde as wat in wedrenfietse gebruik word. Daar is ’n ekstra 20 mm-reik in die vering en die voorste modderskerm sit nou hoog. Die vellings is versterk, en as jy die doelgemaakte Termignoni-uitlaatpyp monteer, kry jy omtrent 7% meer krag. Hierdie fiets kom vroeg volgende jaar Suid-Afrika toe, so kry maar jou bestelling in!

Nuwe Multistrada-modelle

Ducati se vlagskip, die Multistrada V4, het nou ’n V4 S Grand Tour-variant bygekry. Hierdie fiets is ideaal vir die langafstandryer. Die model is basies die V4 met ’n rits bybehore as standaard. Dit sluit bagasie en Ducati se radarstelsel in wat jou blindekolle monitor. Ducati het ook aandag gegee aan die hitte wat die enjin genereer. Nuwe hitteskerms is aangebring oor die agterste uitlaatpype om rygerief te bevorder.

Ducati het twee unieke V4-enjins. Een beskik oor Ducati se Desmodromic-kleppe en staan bekend as die Desmosedici Stradale. Dit is ’n hoëverrigting-enjin wat in hul Panigale-reeks diens doen. Die ander een staan bekend as die Grandturismo wat tradisionele klepvere het. Die Mutistrada V4 is toegerus met die Grandturismo-enjin, want dit verlaag onderhoudskoste. Dit het egter nie lank gevat voor iemand by Ducati gewonder het hoe die Desmosedici-enjin in ’n Multistrada sal vaar nie. Ducati het toe ’n beperkte aantal van hierdie fietse bekend gestel en dit staan bekend as die Multistrada V4 RS. Superfiets-verrigting met ’n gemaklike ryposisie.

Ducati Hypermotard 698 Mono

Soos ek genoem het in die openingsparagraaf, het Ducati besluit om in Motocross te begin deelneem, en daarvoor het die span ’n splinternuwe enkelsilinder-enjin ontwikkel. Ducati was nog altyd bekend vir hul tweesilinder-kragbronne, en die nuwe enjin het sy bestaan te danke aan die L-twee Superquadro-enjin wat te sien was in die 1299 Panigale.

Ducati het basies een van die silinders weggeneem en die Superquadro Mono-enjin die lig laat sien. Om nie die enjin net tot hul Motocross-fietse te beperk nie, het hulle besluit om dit in een van hul padfietse in te bou. Die ideale platform vir hierdie enjin was die Hypermotorad. Die enjin lewer ’n gesonde 77 pk, en beloof om hope pret te wees. Hierdie fiets is ook aangewys as “Moto più bella” (die mooiste fiets) by EICMA 2023. Dit was die twaalfde keer dat Ducati met hierdie toekenning wegstap.

Ducati is ’n handelsmerk wat my oor die afgelope twee jaar diep beïndruk het. Hulle bou dalk nie derduisende fietse per dag nie, maar elke fiets is met Italiaanse flair en passie gebou. As jy afkyk op jou instrumentepaneel en jy sien die Ducati-naam in hoofletters, dan weet jy jy is op ’n baie spesiale fiets. Mag Ducati voortbou op die sukses van 2023 en nuwe hoogtes bereik in 2024.

Besoek Ducati se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.