Ducati-familiedag – ʼn tyd vir saamwees en saam ry

(Foto: Brian Cheyne)

Ducati Suid-Afrika het die afgelope Sondag sy familiedag by Red Star Raceway naby Delmas aangebied. Die dag was uitsluitlik vir Ducati-ryers en hul gesinne.

Jos Matthysen, hoof van Ducati Suid-Afrika, smee nou al geruime tyd hegte bande met Ducati-ryers met dae soos hierdie en ook die Ducati Mystery Rides. Die gedagte met hierdie familiedae is nie om te kom jaag nie, maar eerder om te kom skaaf aan die vaardighede wat dalk nie op standaard is nie. Dit is egter meer as dit, dit is om tyd saam met jou gesin deur te bring – jou Ducati-familie.

(Foto: Brian Cheyne)

Die dag het afgeskop met die formaliteite en baanreëls. Daar was heelwat ryers wat nog nooit op ʼn baan was nie en vir hulle is so dag angswekkend én opwindend. Ons het ook elkeen ʼn T-hemp ontvang om die dag te onthou. Die program was redelik druk, maar die ryers het hulself goed gedra. Een ryer het homself misgis met die eerste draai, en het die baan af gery. Dit is presies waarom ʼn baandag so ongelooflik baie help. Die ryer het die baan verlaat, sy fiets tot stilstand gebring, en weer in die baan aangesluit. Daar was geen sypad of asblik om te tref nie, en ook geen aankomende verkeer nie. Alles veilig en onder beheer.

(Foto: Brian Cheyne)

Ducati het ook ʼn rits demonstrasiemodelle daar gehad, en ek kon ʼn paar rondtes met die nuwe DesertX inkry. Dit is ʼn ongelooflike fiets, en kon my aanvanklike indrukke bevestig dat hierdie fiets se padhouvermoë onberispelik is.

Agter die skerms was Jos se regterhand, Lida, en die hele Ducati-span hard besig om vir ons ʼn heerlike braaivleis voor te berei. Na ete het ons weer so paar rondtes om die baan gaan ry. As daar nou een ding is wat ek nie genoeg kan beklemtoon nie, is dit dat tyd wat jy op ʼn baan deurbring jou ryvermoë verbeter. So, as jy ooit ʼn geleentheid kry, gryp dit aan. Baantyd is ʼn wonderlike leerskool, en dit is nie net vir mense wat knieë op die grond sleep nie. Die beginnergroep was groot, en almal het baat gevind by die dag.

Op hierdie ongelooflike dag het gesinne saam gekuier – hetsy bloedfamilie of Ducati-familie. Daar was ou Ducatis tussen die nuwes. Daar was jong ryers en ou ryers. Een van die ryers wat teenwoordig was, is reeds 80, maar ry nog steeds sy Ducati met groot entoesiasme. Dankie Ducati Suid-Afrika, dat ons almal van julle as familie mag ag, en ons sien uit om later vanjaar die vyfde Ducati Mystery Ride mee te maak!

As jy ’n Ducati besit, hou gerus hulle sosialemediablad dop vir meer inligting, en as jy nog nie deel is van die Ducati-familie nie, gaan loer in by hul vertoonlokaal in Centurion.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.