Ducati se DesertX loop die kompetisie trompop

(Foto: Brian Cheyne)

Avontuurfietsryers is ’n vreemde klomp. Alhoewel hulle almal saam kan kuier en gesels, is daar tog groot debatte oor wat jou nou eintlik ’n avontuurryer maak.

Party wil rustig ry en so nou en dan ’n grondpaadjie verken. Ander hou van spoed, amper asof hulle die ryery so vinnig moontlik agter die rug wil kry sodat die kuier kan begin. Ander soek weer uitdagings – hoe meer slote, modder en hindernisse, hoe beter. Dit is die tipe ryers wat twee teelepels grond oor hulle ontbytpap strooi en dan, sonder om te skroom, die Bastervoetpas gaan aandurf. En dit alles terwyl dit hael. Ongeag met watter groep jy jou vereenselwig, Ducati het ’n fiets vir die doel. Maar vir daardie laaste groep, het Ducati nou die ideale fiets, die Ducati DesertX.

Hierdie is egter nie sommer net ’n Multistrada met ’n groter voorwiel nie. Nee, hierdie fiets kom met ’n bloedlyn. Miskien nie heeltemal so ʼn suiwer bloedlyn as wat Ducati sou wou hê nie, maar tog is dit daar. Ducati was net tot in 1950 ’n familie-onderneming, en die naam het ’n paar keer van eienaarskap verwissel. Van 1985 tot 1996 het Ducati aan die Cagiva-motorfietsgroep behoort en in hierdie tyd het Cagiva die legendariese Parys‑Dakar-tydren twee keer gewen met die Cagiva Elefant. Hierdie fiets het dubbele hoofligte gehad en was deur ’n Ducati 904 cc-enjin aangedryf. Tydens die 2019 EICMA-skou het Ducati al die eerste konsep van die nuwe DesertX aan die wêreld gewys en dit was duidelik dat dié fiets ’n huldeblyk aan die Elefant sou wees.

(Foto: Brian Cheyne)

Die DesertX het gou ’n blitsverkoper geword en die wêreld se media was gaande oor die fiets. Hier in Suid-Afrika het die waglys gou gegroei en die fietse is opgeraap so vinnig as wat Ducati hulle kon aflaai. Dit het beteken dat die kans dat ek een sou kon ry, bitter skraal was. Tog het Jos Matthysen, hoof van Ducati in Suid-Afrika, my een oggend gebel en gehoor of ek ’n DesertX wil kom toetsbestuur. So, asof ek sou nee sê! Dit was egter net vir die middag, en ek moes die fiets die volgende oggend terugbesorg. Maar dit was genoeg om te besef dat Ducati bitter naby gekom het om die perfekte avontuurfiets te maak.

(Foto: Brian Cheyne)

Die DesertX kom tans net in wit en hy trek baie op die Elefant. Voor pryk die dubbele LED-ligte en die bakpanele vloei terug oor die 21 liter-brandstoftenk. Die windskerm is geïntegreer in die bakpanele en is regop soos die Dakar-fietse. Die 5”-instrumentpaneel is vertikaal gemonteer en lyk heel aantreklik. Die handvatsels is breed en ek was aangenaam verras om te sien dat die DesertX selfs toegerus is met spoedbeheer. Die saal is plat en baie gemaklik. Alhoewel die brandstoftenk groot is, is dit baie slank waar dit die saal ontmoet. Dit maak dit makliker om jou voete plat op die grond te kry, want kyk, die DesertX is hoog. Met sy 250 mm-grondvryhoogte eindig die saal op 875 mm.

(Foto: Brian Cheyne)

Om sy veldryvermoë verder te beklemtoon, beskik die Ducati oor ’n 21”-voorwiel en 18”-agterwiel. Die fiets het ’n staaltralieraam en die agterkant van die fiets is uiters minimalisties. Tog reken Ducati dat jy 240 kg op die fiets kan laai. Hulle verskaf ook volledige bagasieoplossings wat jou tot 117 liter se ruimte kan bied.

Die hart van die DesertX is Ducati se 937 cc Testastretta 11° tweesilinderenjin. Ek ken hierdie enjin van fietse soos die Multistrada 950 en my eie Supersport 950, twee van my gunsteling‑Ducati’s. Die enjin lewer 110 pk en dit is juis die gladde manier hoe hierdie enjin sy krag lewer wat hom ideaal maak in ’n fiets soos die DesertX.

Iets wat my onmiddellik opgeval het, was dat die ratte heelwat korter is as op my Supersport. Dit beteken dat die fiets baie sterk versnel, amper vergelykbaar met die Multistrada V4. Ongelukkig was die fiets nog nuut, so ek was beperk tot 6 000 rpm, maar die verskil was merkbaar. Op die snelweg was die Ducati-gene duidelik. Met sy uitgestrekte asafstand voel die fiets ongelooflik stabiel. Ek het verwag dat die groot voorwiel die fiets traag sou maak in ’n draai, maar dan besef jy dit is ’n Ducati. Hulle weet so ʼn ding of twee van hantering. Selfs met sy regop ryposisie is sy padmaniere onberispelik.

By die huis kon ek die fiets mooi bekyk. Alles is met ’n doel gebou, selfs klein detail soos die agterrempedaal wat twee hoogteverstellings het, afhangend van jou stewels se sooldikte. Die rathefboom is kort en alles voel net stewig. Op die handvatsel het ek ook ’n ABS-knoppie bespeur wat duidelik bedoel is om die ABS af te skakel as jy jou op ’n grondpad bevind. Ek is juis die volgende oggend voor sonop uit om die DesertX op ’n grondpad te gaan ry en ’n bietjie meer van die fiets te leer. Die DesertX het verskeie ryprogramme, afhangend van die omstandighede, en daar is ’n doelgemaakte grondpadprogram ook.

By die eerste tweespoorpaadjie het ek ingedraai en regop gaan staan. Ek was onmiddellik gemaklik. Die fiets is smal genoeg dat niks in jou pad is nie. Ek het lanklaas so tuis op ’n fiets gevoel. Vandaar het ek ’n lang stuk grondpad gery en hier het die Ducati ook nie teleurgestel nie. In die Enduro-ryprogram verminder die krag, maar die versneller is baie meer sensitief. Ek het net jammer gevoel om hierdie splinternuwe fiets vol stof te maak, so ek moes myself inhou. Ek dink dat die DesertX uitstekend sal vaar op die grondpaaie van die Tuinroete!

Voor ek enige fiets toetsbestuur, maak ek ’n punt daarvan om nie ander se resensies te lees nie, want ek wil my eie opinie vorm en skryf soos ek voel. Met die DesertX was dit egter onmoontlik om die media se opgewondenheid mis te kyk. Die DesertX het aan al die verwagtinge voldoen, en as jy ernstig is oor rowwe paaie, dan is die DesertX net vir jou. As jy egter nog nie in daai laaste, rowwe groep val nie, maar jy wil graag daar uitkom, dan sal hierdie fiets jou baie help met jou leerkurwe. Die DesertX is egter baie meer as net ’n doelgemaakte, hardebaard veldfiets met flikkers. Met sy uitstekende padhouvermoë kan jy hierdie fiets aanwend vir lang stukke teer ook. Nou kan ek verstaan waaroor die wêreld media so opgewonde is!

Die feite:

Enjin937 cc L-twee
Gewig (Droog)202 kg
Kraglewering110 pk@9 250 rpm
Wringkrag92 Nm@6 500 rpm
Tenkkapasiteit21 ℓ
Saalhoogte875 mm
PrysR 271 000

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.