Familiepret in duine is terug

Toyota borg die Atlantis 4×4-pretdag al sedert dit 17 jaar gelede begin het.

Die pretdag kon weens die Covid-19-pandemie nie die afgelope twee jaar plaasvind nie, maar Atlantis se duine was die afgelope naweek uiteindelik weer ’n miernes van bedrywigheid.

Die pretdag word deur die Wes-Kaapse tak van die Four-Wheel Drive Club of Southern Africa aangebied. Tussen die klub en Stad Kaapstad word ʼn magdom reëls ingestel en noukeurig gevolg. Daar is spesifieke dele op die duine waar mededingers mag ry en daar mag onder geen omstandighede oor enige plantlewe gery word nie, geen vure gemaak word nie en absoluut geen alkohol word toegelaat nie.

Die resultaat daarvan is ʼn pretdag waar geen skade aan die natuurskoon en duine aangerig word nie en niemand beseer word nie. Die kinders wat op en af teen die duine hol en afrol, is absoluut veilig – dis nou afgesien van die sakke duinsand wat later afgespoel moet word.

Dit is die derde keer wat Maroela Media by Atlantis deelneem. Die eerste jaar het ons met ʼn handrat Hilux gery. Die tweede jaar met ʼn spoggerige Prado. Ná die twee jaar Covid-hiatus was ons pronkperd ʼn 2.8 outomatiese Fortuner.

Ek moet bieg dat die Fortuner my gunstelingvoertuig is vir dié soort pret, te danke aan sy 276 mm grondvryhoogte, 4×4-dryfstelsel en agterste ewenaarslot. Die 150 kW en 500 Nm onder die kap is ook lekker sterk. Al was die Fortuner reg vir die taak, het my 4×4-vermoë my vanjaar ʼn bietjie in die steek gelaat. Ons het derde geëindig tussen die mediadeelnemers. Philip en Alicia Volschenk, wenners van 2022 se Rust de Winter Jamboree, het met die meeste punte tussen ons weggery. Pieter en Lettie Labuschagne was tweede. Lettie is die algemene bestuurder vir bemarking en kommunikasie by Toyota. Na jare se gekerm van my en haar man se kant af, kon Pieter vanjaar deelneem – en hy is ʼn gedugte mededinger!

Daar is agt uitdagende hindernisse. Die meeste van hulle moet so vinnig moontlik voltooi word, maar van hulle ook binne ʼn bepaalde tyd. Die standaard Fortuners en Hilux’e waarmee ons meegeding het, is indrukwekkend vir voertuie soos wat hulle uit die vertoonlokaal gery het. Ek sal byvoeg dat diegene wat die kompetisie wen met groot petrolkrag ry, en enorme bande wat lekker sag gepomp is – hier om en by 0,8 bar.

Tussen die twee kompetisies, Rust de Winter en Atlantis, is ek gaande oor albei. Ek voel dat die manier waarop die Four‑Wheel Drive Club dinge organiseer, effens beter is as by Rust de Winter. Daar is agt spanne, en elke span word deur ’n baanbeampte van een hindernis na die volgende gelei. Die eerste span begin by die eerste hindernis en skuif opwaarts aan. Die tweede span begin by die tweede hindernis so aan. Só het ʼn mens nooit ʼn opeenhoping by ʼn spesifieke hindernis nie.

Dino Burnett was vanjaar se algehele wenner in ʼn pasgemaakte Land Rover. Die eerste Toyota het in derde plek klaargemaak met ʼn effens getofde Hilux. Tussen die 80 inskrywings was daar alles – van absoluut standaard Suzuki Jimny’s tot ʼn enorme Ford F250 met reusebande wat ratkaskwale ná die einde se kant ontwikkel het. Die ratkas is maar drie maande oud en het oor die R150 000 gekos.

Knap gedaan almal – ons sien julle weer volgende jaar!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

vuurvliegie ·

Dit lyk baie lekker. Te min 4×4 eienaars kry die geleentheid om hulle voertuie op sand te ry.

andre ·

Lekker pret ,sal net graag wou weet wie het die 2de plek gekry .in watter voertuig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.