Ford Puma nou in SA

Ford het uiteindelik weer ʼn amperse sportnuts in Suid-Afrika met die bekendstelling van die nuwe Puma.

Ford het byna oornag sonder ʼn passasiersvoertuig gesit nadat sy EcoSport nie meer in Indië gebou word nie en met die Fiesta, Figo en Kuga wat nie meer plaaslik verkoop word nie. Ford het egter nou ʼn nuwe amperse sportnuts in Suid-Afrika, maar daar word nou oor die prys geraas gemaak.

Die Suid-Afrikaanse mark is oor die afgelope dekade aan goedkoper voertuie uit Indië gewoond gemaak… soveel só dat ʼn goeie gehalte Europese produk nou vir is ons buitensporig duur voel. Dit is nie min geld nie, maar as ʼn mens kyk wat kos die Europese mededingers wat ʼn groot spesifikasievlak bied en ʼn luukse binneruim, is hulle almal duur.

Die meer bekostigbare Puma in die reeks, die Titanium, kos R569 900 – dieselfde model kos £25 640 (R610 379) in die Verenigde Koninkryk. Ford Suid-Afrika sal ook 25%-invoerbelasting betaal aan die regering op elke Puma. Almal huil, maar niemand wil werklik die somme doen nie. Omoda het verlede week die Omoda C5 GT bekendgestel vir R589 900 en niemand se hart het gaan staan nie, want die Chinese bied mos goeie waarde. Ai.

Ek dink Ford se nuweling, die Puma, is ʼn mooi buksie en ʼn vars ontwerp. Die bougehalte beïndruk, maar dis eerder die spesifikasievlak aan die binneruim wat werklik verstom. Selfs sitplekke voor wat jou masseer in die Vignale-model.

Die Puma is ʼn B-kruismodel – so halfpad tussen ʼn luikrug en ʼn klein sportnuts. Dink tussen Fiesta en Focus. Hy bied sitplek vir vyf en ʼn lekker kattebak. Indien ʼn mens die spaarwiel uithaal kan ʼn mens twee gholfstelle regop in die kattebak laat staan. Indrukwekkend.

Wanneer ʼn mens agter die stuur inskuif besef jy oombliklik dat dié ʼn goeie gehalte- produk is. Elke raakpunt is sagte leer, rubber of plastiek en die ergonomie uiters gemaklik.

Onder die kap sit Ford se bekroonde 1,0 driesilinderturbopetrolenjin. Die enjin bied 92 kW en 170 Nm wat hy deur ʼn 7-spoed dubbelkoppelaaroutoratkas aan die voorwiele stoot. Die enjin kan 5,2 ℓ/100 km haal om die gekombineerde siklus en kan 793 km op sy 42 ℓ tenk haal.

Op die pad is waar mens die meer as honderd jaar se ondervinding waardeer. Die rit is heel soepel op die 17”-wiel in die Titanium-model, en daar is so te sê geen bakrol nie. Op ʼn paar paaie naby Noordhoek in die Kaap het ons die draaie met groot haas aangedurf en die padhouvermoë in die Puma is uit die voorste gestoeltes. Werklik puik vir die segment voertuig.

Uit ʼn veiligheidshoek bied die Puma ʼn indrukwekkende veiligheidsgradering en haal vier sterre in die Euro N-CAP veiligheidstoetse. Daar is ses lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding sowel as vastrap en stabiliteitsbeheer. Daar is klomp aktiewe stelsels soos baandwaalwaarskuwing, blindekolwaarskuwing en aanpasbare spoedkontrole met botsingwaarskuwing en noodremhulp.

Ek sal die Puma só opsom: Dis werklik ʼn puik voertuig waarvan ek baie hou. Já, dit is effens duurder as sy mededingers in die segment, maar Ford gaan nou ʼn lang pad begin stap om sy kliënte te leer hoeveel goeie gehalte Europese produkte kos. Presies soos ons effens geskrik het vir Everest Platinum se prys, en die eerste Wildtrak wat naby R1 miljoen gekos het. Die wisselkoers en belasting in Suid-Afrika doen vir Ford geen gunste nie. Indien jy in die mark is vir dié soort voertuig – kyk beslis na die Puma, hy’s oulik.

Die reeks lyk só:

Ford Puma TitaniumR569 900
Ford Puma ST-Line VignaleR619 900

Die reeks word gedek deur ʼn vier jaar/120 000 km-waarborg. Diensplanne is opsioneel beskikbaar teen ongeveer R17 000.

Ons sal weer tyd met die Puma deurbring en hom dán met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.