Mitsubishi Suid-Afrika het verlede Vrydag sy Pajero Sport aan die media bekendgestel. Dié voertuig is al maande in die land, maar Mitsubishi se sompompe het geworstel met wisselkoerse wat net nie in die taai mark kon meeding nie.
Die pryse is bekendgemaak, en ek dink Mitsubishi sit moontlik hier met ʼn wenresep. Ons vorige ondervinding met dié platform en enjin was met die verruklike Triton en die ondervinding was puik. Die nuwe 2,4-dieselenjin is stil, lig op brandstof en hy hoef nie terug te staan vir die groter kapasiteit enjins in die mededingers nie.
Die ritgehalte in die Triton is baie goed. Die feit dat die Pajero Sport kronkelvere agter het sal verseker dat die Pajero Sport nóg lekkerder ry. Die Pajero Sport kry ook Mitsubishi se splinternuwe 8-spoed outomatiese ratkas.
Mitsubishi was nog altyd sinoniem met allewielaandrywing. Die feit dat Mitsubishi die eerste passasiersvoertuig met allewielaandrywing in 1933 geloods het, maak van hulle pioniers in dié bedryf. Nóg ʼn getuienis hieroor is die feit dat Mitsubishi met die Pajero 12 keer die Dakar-ydren gewen het, sewe keer agtereenvolgend. Mitsubishi ken 4×4 én betroubaarheid.
Is die Pajero Sport ʼn tydrenmotor? Nee – dit is ʼn luukse, sewesitplek sportnutsvoertuig. Só ook is die Fortuner en Everest. Ek gaan nie die Chevrolet Trailblazer insluit nie omdat hulle besig is om die land te verlaat. In Augustus het Toyota 1 070 Fortuners verkoop en Ford 536 Everests. Ek het geen idee wat is Mitsubishi se teikens met die Pajero Sport nie, maar die feit dat dit nie so gewild soos die Toyota of die Ford is nie hoort te help met versekering en diefstal of kaping.
Die binneruim kry sagte leerbekleedsel en die bestuursposisie voel vir my gemaklik. Die kajuit voel ergonomies uitgelê en die derde ry sitplekke heeltemal aanvaarbaar vir volwassenes oor medium afstande … minder as 250 km. Kindertjies gaan piekfyn wees.
Ons hoort binnekort ʼn beurt te kry om die Pajero Sport beter te leer ken. Dan sal ons meer in diepte verslag gee.
Die reeks lyk só:
Pajero Sport 2,4 D4 MIVEC 2WD 8-spoed outo | 133 kW/ 430 Nm | 8 ℓ/100 km | R569 995 |
Pajero Sport 2,4 D4 MIVEC 4WD 9 spoed outo | 133 kW/ 430 Nm | 8,1 ℓ/100 km | R599 995 |
Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 100 000 km waarborg en 5 jaar/ 90 000 km diensplan.
Die kompetisie lyk só:
Toyota Fortuner 2.8GD-6 4×4 outo | 130 kW/ 450 Nm | 8,5 ℓ/100 km | 3 jaar/ 100 000 km waarborg 5 jaar/ 90 000 km diensplan | R624 100 |
Ford Everest 3.2 4WD XLT | 147 kW/ 470 Nm | 8,2 ℓ/100 km | 4 jaar/ 120 000 km waarborg 5 jaar/ 100 000 km diensplan | R639 900 |
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
8 Kommentare
Die voor- en agterkant lyk aaklig.
Net as ‘n bietjie geskiedenis-opskerping. Mitsubishi het nie die eerste passasiersvoertuig met allewielaandrywing in 1933 geloods (sic) nie. Die PX33 was slegs ‘n prototipe en hulle het net vier van die voertuie vervaardig. Dit was die eerste allewielaandrywingspassasiersvoertuig in Japan, nie in die wêreld nie. Daar was reeds talle ander allewielaandrywingspassasiersvoertuie in ander lande voor dit. Ferdinand Porsche se elektriese motor prototipe in 1899 het byvoorbeeld allewielaandrywing gehad. Die Spyker 60HP renmotor uit Nederland in 1903 ook. As mens slegs na passasiersmotors (nie insluitend Jeep of soortgelyke produkte uit WOII uit Rusland, Japan en Duitsland, of die eerste Land Rover,… Lees meer »
Wel die Fortuner se voor en agterkant is ook nou nie juis iets om oor opgewonde te raak nie.
Wel ek hou van die Pajerosport. Goeie enjin en goeie beproefde 4WD stelsel. Lees maar wat isdie mening is van al die motorrubriekskrywers oor die Triton se enjin, ratkas en veerstelsel. Die tendens in enjingroote is kleiner enjins wat dieselfde krag lewer en wat lig op brandstof is. Onthou jy ry elke dag met hierdie voertuig werk toe. Oor ‘n paar jaar gaan die elektriese enjin bykom om hibriede stelsel te hardloop. Dan sal Ford en Toyota maar nog steeds met die 3.2 en 2,8 liters rondpoer ;-)
Volgens die artikel het die 4wd model n 9 spoed ratkas.Is dit korrek?