Foto’s: Dié Ford Ranger is enig in sy soort

Ford se Erfenis-Ranger. Foto: Verskaf

Ford het Erfenismaand herdenk met die bou van hul eie kunsmotor.

Ford en die Silverton‑aanleg het ʼn ryk geskiedenis in Suid-Afrika wat naby ʼn honderd jaar trek. Sedert 2009 het die Fordmotormaatskappy al oor die R11 miljard in Suid-Afrika belê.

Die sukses van dié belegging lê in die Ranger, Raptor en Everest wat nou na 148 markte in die buiteland uitgevoer word. Elkeen van daai voertuie dra ʼn bietjie Suid-Afrikaanse erfenis saam met hulle. Die enjins word in Port Elizabeth by die Struandale‑aanleg vervaardig en die voertuie in Silverton.

Ford se Erfenis-Ranger. Foto: Verskaf

ʼn Groter stuk van die erfenis is die woord bakkie. Slegs in Suid-Afrika weet almal, ongeag ras, taal of geslag, presies wat ʼn bakkie is. Die Australiërs noem dit ʼn Ute, die Britte ʼn pickup en die Amerikaners ʼn truck.

Soos biltong, boerewors, braaivleis, brannas en bokkies, bly die bakkie ʼn onlosmaaklike deel van ʼn Suid-Afrikaner se erfenis. Ford het dit goed gedink om ʼn Ranger aan hulle fabriekpersoneel te oorhandig om hul eie erfenis en kultuur op die voertuig uit te beeld, nes hulle goed dink.

Ford se Erfenis-Ranger. Foto: Verskaf

Die hele projek het ʼn span bestaande uit vyf kunstenaars, drie spuitverwers en een samesteller ʼn totaal van 650 uur geneem om die 35 liter verf op te sit en die bakkie te voltooi. Die 650 uur het grotendeels buite hul gewone werksure geval.

Buiten die Suid-Afrikaanse vlag bo-oor die enjinkap en dak, het elke paneel ʼn ander tema op wat van die verskeie kulture in Suid-Afrika uitbeeld. ʼn Groot gedeelte van die linkerkant van die voertuig beeld die Krugerwildtuin uit.

Ford se Erfenis-Ranger. Foto: Verskaf

Ockert Berry, adjunkpresident bedryf vir Ford Midde-Ooste en Afrika, sê: “Hierdie baie besonderse Erfenis-Ranger is gebou vir Suid-Afrikaners, deur Suid-Afrikaners. Dit is ʼn huldeblyk aan Ford se trotse plaaslike vervaardigingsgeskiedenis van 96 jaar, sowel as ʼn gepaste verteenwoordiging van ons land se ryk erfenis en diversiteit.”

Ford sal dié Erfenis-bakkie voortaan as ʼn uitstalvoertuig gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johann cb ·

Wow! Welgedaan! So ‘n regte stukkie Suid-Afrikaanse kultuur en vakmanskap!
Geluk aan almal by die projek betrokke!

HAB ·

Dis nou hoe mens n mooi Ford bakkie absoluut op dons. Sies. Sal nie dood daarin gesien wil Word nie

B ·

Pragtig, net jammer van daardie aanstootlike verfpoging op die enjinkap en dak.

Stephanie Tredoux Malian ·

B ek stem saam. Die badhanddoek kon maar gebly het

Robert ·

Was daar nie plek vir ń ossewa of ou Jan se gesig nie. Is ook darem deel van die blanke kultuur….

Juffrou ·

Die woord bakkie is in alle woordeboeke. Ook in die Oxford Dictionary. Ja, as ń houer in die kombuis, maar ook ń voertuig!

Bakkie ·

Korrek Juffrou, die ou honde storie raak nou al regtig afgesaag, dis ‘n trokkie of bakkie.

Wanda ·

Hulle m,oes miskien net meer navorsing gedeon het.Die suid afrikaanse vlag is verkeerd,blou en rooi moet omgeruil wees as dit so lê

Herman Goosen ·

Lag lag die aakligste bakkie ter wêreld. As mens ‘n onderwerp wil adverteer niet nebs die vorm, soasie en uitleg in gedagte hou. Die bakkie is bloot bekrap met simboke met weinige ontwerp en plasing beplanning te bespeur om nie wens van gebrekkuge kleurgebruik te praat nie. Kultuur is nie veronderstel om na die toring van Babel te lyk nie. Waarskynlijk wys die bakkie heel gepas waarom Suid Afrika nie werk nie – ‘n Warboel van deurmekkar simbole

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.