Gewilde paneelwa se opvolger hier

Hyundai se H-1 bus, Multicab en paneelwa is almal baie gewilde voertuie. Die veelsydigheid en betroubaarheid het sake-eienaars so mettertyd oorgewen. Die H-1 is uiters betroubaar en relatief goedkoop per kilometer.

Ons het nou al ʼn paar keer met die Staria te doen gekry. Ek is gek oor die ontwerp, maar my vrou was heel skepties. Ná ons wintersleeptog ATKV Eiland-Spa toe, is vroulief egter oortuig.

Ek’t nou die dag vir die eerste keer met Hyundai se Multicab gery. Dit is ʼn lekker ruim vyfsitplekvoertuig, met ʼn enorme laaibak agter. Die Multicab kan ʼn enorme 1 074 kg of 2 890 ℓ in die laaibak dra. Dis meer as enige bakkie tans op die mark in Suid-Afrika soos Leisure Wheels se kompetisie ʼn wyle terug uitgewys het. Lees meer daaroor hier.

Waar die Multicab twee Euro-palette kan insluk, kan die paneelwa-weergawe nog een laai vir ʼn totaal van drie palette. Die paneelwa kan altesaam 1 115 kg of 4 935 ℓ dra. Werklik indrukwekkend. Die agterdeure op die Multicab en die paneelwa is nie een groot deur wat optel nie, maar eerder twee deure wat kant toe oopmaak, 180 grade sodat mens ʼn vurkhyser naby genoeg kan kry. Dan kan mens deur die kantdeur ook in die laaibak kom.

Die Staria-paneelwa en Multicab is toegerus met Hyundai se puik 2.2-viersilinderturbodieselenjin. Die enjin bied 130 kW en 430 Nm wringkrag deur ʼn 8-spoed- outomatiese ratkas. Die kombinasie stel die Staria in staat om 8,9 ℓ/100 km te haal – goed vir dié soort voertuig.

Die goeie brandstofverbruik met Hyundai se bekende betroubaarheid en lae onderhoudskoste maak ʼn sterk saak vir die Hyundai, ook te danke aan hul puik waarborge.

Waarskynlik die grootste pluimpie vir die Staria is dat dit nie soos ʼn kommersiële voertuig voel nie, ongeag watse weergawe mens mee ry. Dit ry werklik lekker. Indien jy ʼn behoefte het aan dié soort loonvrag of ruimte in ʼn laaibak, kyk beslis na die Staria.

Die handelsvoertuie in die reeks lyk só:

Hyundai Staria 2.2D PaneelwaR599 900
Hyundai Staria 2.2D MulticabR764 900

Die reeks word gedek deur ʼn vyfjaar/150 000 km-voertuigwaarborg en ʼn sewejaar/200 000 km-dryfstelwaarborg, asook ʼn sesjaar/90 000 km-diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.