Grand i10 is eerlike wiele met goeie waarde

Een van die vereistes wat ek aan ʼn lekker karretjie stel, is dat hy maklik moet ry. Verbasend genoeg is daar net ʼn handjievol karre wat werklik maklik en gemaklik ry. Volkswagen se Polo en Polo Vivo, Toyota se Corolla Cross en Suzuki se Swift kom dadelik by my op. Goeie kalibrasie is vir my altyd meer waardevol as “goeie waarde”.

Nog ʼn karretjie wat ek nou by die lysie sal voeg, is Hyundai se Grand i10 – ʼn eerlike A0-segment-intreebuksie. Sy ontwerp is oulik en modern en die swart dak op die rooi karretjie lyk spoggerig.

Sodra mens inklim, is die sitplekke gemaklik (al is ek nie gaande oor die kunsleer nie) en die ergonomie is baie goed. Die stuurwiel is presies in die middel en die rathefboom waar jou hand hom soek. Die kantspieëls voel lekker groot en bied fantastiese sigbaarheid. Die koppelaar is lieflik lig en sag en vat mooi egalig en die rathefboom werk op ʼn seepgladde sisteem wat kabels gebruik – die resultaat is ʼn egalige en sagte ratwisselingsaksie.

Dit klink dalk of ek nou werklik fokus op banale dingetjies – maar, die oomblik dat ʼn kar só maklik ry, is die bestuurder (veral jongmense wat min ervaring het) se fokus op die taak van bestuur, kyk en bewus wees … hulle hoef nie 60% van hul vermoë te gebruik net om die kar te bestuur nie.

Die Grand i10 het sterk lugreëling, dalk té sterk. Ek sou ʼn stadiger waaier wou hê op nommer 1. Hy waai té kwaai op 1, dan kry mens ʼn moeilike stadium van dis warm genoeg vir sagte lugreëling, maar sy sagste is sterker as ʼn orkaan en geskik vir 35 °C en 90%-humiditeit – ʼn eienskap van klomp voertuie wat in Indië vervaardig word.

Verder is die luukshede wat mens benodig daar. Lugreëling, elektriese vensters en Apple Carplay, asook Android Auto. Rakende veiligheid is daar twee lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding en elektroniese stabiliteitsbeheer. Op die pad loop die Hyundai lekker. Sy ritgehalte is gemaklik en sy padhouvermoë heel goed vir dié soort karretjie. Selfs sy kattebak is heel dollies, maar indien jy werklik groot pakplek benodig, kan mens altyd die sedan oorweeg.

Die reeks lyk só:

Hyundai Grand i10 1.0 Motion handrat49 kW/94 Nm5,5 ℓ/100 kmR234 500
Hyundai Grand i10 1.0 Fluid handrat49 kW/94 Nm5,5 ℓ/100 kmR270 500
Hyundai Grand i10 1.2 Motion outo61 kW/114 Nm5,9 ℓ/100 kmR275 500
Hyundai Grand i10 1.2 Fluid handrat61 kW/114 Nm5,5 ℓ/100 kmR285 500
Hyundai Grand i10 Sedan 1.2 Fluid handrat61 kW/114 Nm5,5 ℓ/100 kmR285 500
Hyundai Grand i10 1.2 Fluid outo61 kW/114 Nm5,9 ℓ/100 kmR315 900
Hyundai Grand i10 Sedan 1.2 Fluid outo61 kW/114 Nm5,7 ℓ/100 kmR315 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/150 0000 km-voertuigwaarborg en 7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg, asook ʼn 1 jaar/15 000 km-diensplan.

Die mededingers lyk só:

Citroën C3 1.2 Feel61 kW/115 Nm5,6 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg

2 jaar/30 000 km- diensplan

R229 900
Suzuki Swift 1.2 GLX61 kW/113 Nm4,9 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km-waarborg

2 jaar/30 000 km- diensplan

R247 900
Kia Picanto 1.2 X-Line61 kW/122 Nm5,0 ℓ/100 km5 jaar/ onbeperkte km- waarborg

2 jaar/30 000 km- diensplan

R277 995
Volkswagen Polo Vivo 1.4 Comfortline63 kW/132 Nm4,8 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

Diensplan opsioneel

R280 600
Mazda 2 1.5 Active85 kW/148 Nm5,7 ℓ/100 km3 jaar/ onbeperkte km- waarborg en diensplanR307 100
Renault Kiger 1.0 Turbo Zen74 kW/160 Nm5 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km-waarborg

2 jaar/30 000 km- diensplan

R309 999
Honda WR-V 1.2 Comfort66 kW/110 Nm6,4 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km- diensplan

R320 800

Daar is ʼn Grand i10 in elkeen van dié mededingers se prysklas. Terwyl die 1.0 Motion en Citroën C3 puik waarde bied, is die 1.2 Fluid outo en Honda WR-V 1.2 Comfort heeltemal aan die ander kant van die skaal en heel duur. Die Honda bied egter ses lugsakke. Die Mazda se enjin is beslis die sterkste tussen die klomp en indien mens baie ry, is sy 3 jaar/onbeperkte km-diensplan ʼn wenner. Moes ek kies tussen dié mededingers, is dit die Suzuki Swift of Kia Picanto vir my. Gaan toetsbestuur egter almal – een sal soos ʼn handskoen pas en in jou oprit beland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.