GWM se ORA 03 maak EV’s meer bekostigbaar

Deur Martin Pretorius 

ʼn Twyfelagtige elektrisiteitsverskaffer is net een van die vele kwelpunte aangaande elektriese voertuie (EV’s) in Suid-Afrika, maar daar is ʼn ander probleem wat selfs Eskom se kwale kleiner maak: EV’s se bekostigbaarheid. Aangesien ons regering EV’s as elektroniese speelgoed beskou, word hulle aan ekstra invoerbelasting onderwerp, en dit druk hul pryse selfs hoër.

GWM durf hierdie probleem in Suid-Afrika aan met sy kompakte ORA 03, wat in sy intreevlakspesifikasie tans die goedkoopste EV in die land is. En, omdat hulle besef dat stabiele elektrisiteitsvoorsiening onwaarskynlik in die nabye toekoms is, kan GWM dalk selfs ʼn oplossing vir beurtkrag aan ORA 03-eienaars bied. Kan hierdie verwikkelinge momentum gee aan plaaslike EV-opname?

Om voorsiening te maak vir ons onvoorspelbare kragtoestand stel GWM tans planne saam waarvolgens ORA 03-eienaars battery-en-laaistasies by hul wonings kan inbou. Die goedkoper een van die twee opsies is uitsluitlik bedoel om ʼn ORA teen 7 kW te laai, met genoeg reserwes om die karretjie se “tenk” in omtrent agt uur vol te maak.

Die duurder opsie dupliseer basies die intreevlakstelsel en lewer genoeg elektrisiteit om ʼn huis ook te voer terwyl die karretjie laai. Die enigste nadeel van hierdie plan is die insetkoste. Die goedkoper opsie sal omtrent R75 000 kos, en die grote dubbel soveel.

Hierdie geraamde pryse sluit ook nie sonpanele in nie, so eienaars wat hul ORA’s Eskom-vry wil ry, sal daarvoor ook moet begroot. Ons sal moet sien of GWM hierdie plan kan laat werk, want dit kan die ORA 03 se markaanvaarding dramaties verbeter.

Alle ORA 03’s gebruik dieselfde elektriese motor, en stuur 126 kW en 250 Nm na die voorwiele. Verrigting is dus heel flink, en die klein GWM spring gretig uit die blokke as die bestuurder die lepel plattrap. GWM reken dat die ORA 03 van stilstand tot 100 km/h kan wikkel in omtrent 8,5 sekondes, en sy werkverrigting op die pad stem grootliks saam met hierdie bewering.

Die verskil tussen die modelle lê in hul batterye en die afstand wat hulle toelaat tussen herlaaisessies. Die intreevlak- ORA 03 300 Super Luxury het ʼn batterykapasiteit van 48 kWh, teenoor die “400”-variante se 63 kWh. Hul name dui dus op hul amptelike maksimum reikafstand, te wete 300 km met die klein battery of 400 km met die grote.

Hoewel ons toetsroete redelik kort was, was daar nietemin aanduidings dat hierdie motors minstens 75% van hierdie afstande in normale gebruik sal kan behaal – dus omtrent 220 km in die 300’s en 300 km in die 400’s.

Met sy vriendelike gesiggie en sagte rondings kan mens maklik dink dat die ORA 3 ʼn klein motortjie is, maar hy is omtrent so groot soos ʼn VW Golf. Sy batterye is onder die vloer ingebou, wat ʼn hoër dak noodsaak om voldoende kajuitruimte te verskaf, maar daar is steeds verbasend baie kop- en beenruimte vir alle insittendes.

Vier groot Suid-Afrikaners behoort heel gemaklik in die kajuit te kan pas, maar sy bagasiebak is minder indrukwekkend. Daar is net 228 liter beskikbaar in die vlak kattebak, maar sy agtersitplekke kan platvou vir meer laairuimte.

In die ORA 03 se prysklas is dit te verwagte dat sy bougehalte en materiaalkeuses eersteklas moet wees, en dat hy goed toegerus ook sal wees. Die ORA 03 voldoen aan al hierdie vereistes, met ʼn netjiese kajuitontwerp, goeie afwerking en ʼn standaard-toerustingslys langer as jou arm.

Outomatiese klimaatbeheer, elektriese vensters en kantspieëls, ʼn 10,25 duim-raakskerm vir die multimediastelsel, en draadlose Apple CarPlay en Android Auto is standaardtoerusting in alle variante, tesame met 18 duim-allooiwiele, draadlose laaiplek vir jou slimfoon, elektriese voorsitplekverstelling en outomatiese LED-kopligte.

“Ultra Luxury” ORA’s ontvang ook geheuefunksies vir die bestuurder se sitplek, verhitte en verkoelde voorsitplekke met massering, ʼn elektriese bagasiebakdeksel en ʼn panoramiese sondak. Die GT-topmodel kry verdere kosmetiese verbeteringe, met unieke wiele, koolstofvesel-afwerking, sportiewe buitestilering en ʼn tweekleurkajuit.

Hierdie items is egter net die spreekwoordelike seekoei se ore, want die ORA 03 is ook volgeprop met toerusting wat meestal net op sy opponente se duur opsielyste verskyn. Aktiewe spoedbeheer, stelsels wat die motor in sy baan hou, ʼn 360-grade-kamerastelsel, agterste kruisverkeer-monitor en ʼn blindekol-monitor word ingesluit in alle variante. Duurder ORA’s het nog meer veiligheidstoerusting, met voorste kruisverkeer-waarskuwing en outomatiese parkering wat op die topmodelle bykom.

Hoewel die GWM ORA 03 300 Super Luxury Suid-Afrika se goedkoopste EV is, kos hy steeds R686 950 – genoeg vir ʼn mooi Audi A3 Sportback, MINI Cooper S of BMW 118i. Gemeet teen hierdie standaarde bied die intreevlak- ORA 03 goeie waarde sover dit verrigting en praktiese oorwegings aangaan, danksy die GWM se hoop standaardtoerusting en ʼn uitstekende waarborg vir sewe jaar of 200 000 km.

Die duurder 400-variante is egter moeiliker om te regverdig, want vir die R775 950 wat ʼn ORA 03 400 Super Luxury kos, kan jy ʼn Golf GTI of BMW 128ti kry. Die ORA 03 400 GT Ultra Luxury is die topmodel en kos R835 950 – amper soveel soos ʼn Toyota GR Corolla, wat skoon bo-oor die klein ORA sal ry. In sulke geselskap sal die EV se laer bedryfskoste minder aanloklik wees, terwyl hierdie vinniger opponente aansienlik meer status op straat sal geniet.

Die GWM ORA 03-reeks:

300 Super LuxuryR686 950
400 Super LuxuryR775 950
400 Ultra LuxuryR805 950
400 GT Ultra LuxuryR835 900

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vonkprop ·

Tussen amper R700 000 en R900 000 vir ‘n motortjie wat jou nie eens in Durban sal kan kry nie is volgens my nie juis “goedkoop” nie. Nee wat, ek koop eerder ‘n witwarm Golf of Hyundai i30N vir hierdie prys en geniet die pad Durban toe met ‘n breë glimlag. Lank lewe die binnebrand enjin!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.