Harley-Davidson se 1250 Pan America

MY21 Pan America Photography

Ons kon nooit voorspel het watter onderstebo jaar 2020 sou wees nie. Nog minder sou ons kon voorspel dat BMW en Harley-Davidson mekaar die stryd sou aansê. Dié twee maatskappye maak uiteenlopende fietse en tog het BMW dit goed gedink om die BMW R18 uit te bring wat direk met die grotes van Milwaukee meeding. Harley-Davidson beplan nou al lank aan hulle weergawe van ’n dubbeldoel avontuurfiets en hierdie fiets, die Pan America, is Maandag amptelik bekend gestel.

Harley-Davidson het ’n splinternuwe enjin ontwikkel vir die Pan America, die Revolution Max 1250. Dit is nog ’n verdere stap weg van die Harley-tradisie omdat hierdie enjin waterverkoel is.

MY21 Pan America Lifestyle Photography

Harley het reeds ’n waterverkoelde enjin in hulle V-Rod gehad en, snaaks genoeg, het dit nie veel aanklank gevind by kopers nie. Aangesien hulle nou ’n heel nuwe motorfiets ontwerp het, het hulle dit seker goed gedink om nuwer tegnologieë aan te wend. Harley is so ingenome met die nuwe enjin dat hulle selfs die 150 pk beklemtoon. Harley is bekend daarvoor dat hulle nooit hulle verrigtingsyfers bekend maak nie, maar hierdie enjin is anders. En dit is ’n goeie ding!

Hulle het ook nie by die enjin geëindig nie. Die nuwe Pan America is vryelik besprinkel met die jongste elektronika. Die vering, byvoorbeeld, sak wanneer die fiets stilstaan en verstel dan na die optimale hoogte sodra die fiets begin beweeg. Hierdie byvoeging sal mense met korter bene baie help.

Die eerste konsepfoto’s van die Pan America het heelwat mense laat lag, en tog is die eindproduk nie te onooglik nie. Die voorkant word oorheers deur die groot, reghoekige voorlig. Dit is nie, na my mening, juis mooi om na te kyk nie, maar die lig is gemaak om goed te werk. Funksie bepaal die vorm. Verder lyk die fiets goed en taai. Daar is ook twee verskillende modelle beskikbaar, een met allooivellings en een met speekwiele.

MY21 Pan America Riding Photography

Die enjin vorm ’n integrale deel van die raam, wat help om die gewig van die fiets laag te hou. Die 19”-voor- en 17”-agterwiel is ’n beproefde kombinasie vir avontuurfietse. Remme word verskaf deur Brembo.

Die Pan America het die jongste TFT-raakskerm wat koppel met jou slimfoon. Deur middel van die Harley-Davidson-app kan die skerm dien as jou navigasie stelsel.

Ek dink nie BMW se GS hoef vreeslik bekommerd te wees nie, hoewel die Amerikaners se patriotisme dalk net die deurslag mag gee as dit by die koopslag kom. Harley-Davidson moes een of ander tyd die nuwe tegnologieë begin inspan op hulle fietse en ek dink die tyd is dalk nou reg.

Die Pan-America gaan nie ’n goedkoop fiets wees nie as gevolg van ons swak rand, maar ek dink tog dat Harley-Davidson-ryers wat al lank droom van ’n avontuurfiets nou by hulle gekose handelsmerk kan bly.

Spesifikasies:

Enjin1252 cc V-twee
Gewig (Nat)242 kg
Kraglewering112 kW (150 pk) @ 9 000 rpm
Wringkrag127 Nm @ 6 750 rpm
Tenkkapasiteit21 l
PrysVanaf R 315 000

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boerkind ·

Hoop nie die ANC sien dit nie… dalk wil hulle die goed weer as “motorfiets -ambulanse” probeer… – hulle het mos darem al redelik ondervinding hiermee!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.