Heeltyd speeltyd met die Raptor

Suid-Afrika se padnetwerk is om en by 750 000 km lank, aldus Sanral. Net sowat 150 000 km daarvan is geteer en die res is grondpaaie.

ʼn Ford Ranger Raptor se speelterrein is dus sowat 600 000 km lank – dit is indrukwekkend. Kom ek verduidelik hoekom. Ford se Ranger Raptor is op die gewone Ranger geskoei, maar toe neem die ingenieurs oor en skep ʼn fantastiese ding. Ford se Raptor is iets tussen ʼn bakkie en ʼn tydrenmotor as ʼn mens na die vering kyk. Daar is geen ander voertuig, behalwe die nuwe Land Rover Defender, wat ʼn grondpad só kan aandurf nie. Geen.

Die vering, skokbrekers en bande stel die Raptor in staat om net só veilig op grond te ry soos op teer. Onder die Raptor skuil 2.5”-Fox-skokbrekers en General Grabber-bande. Ons het onlangs saam met Ford 1 800 km in vier dae afgelê. Ons het die Donderdagoggend vroeg by die Ford-aanleg in Silverton weggetrek en tussen Warden en Harrismith van die N3 afgeklim… uiteindelik grond. Die S61 vat ons van hier af deur die De Beerspas en sommer gou sê ons almal dat die Raptor nie perfek voel nie. Ons trek af en ons gids haal ʼn fantastiese kontrepsie uit wat banddruk op twee wiele gelyk kan meet. Van die vyf Raptors is ʼn hele paar bande bitter naby aan drie bar. Ons bring toe al die bande na twee bar af en vat weer die grondpad.

Die Raptor voel oombliklik beter en is dadelik in sy element. Daar is vir ons ʼn asemrowende middagete gereël, sommer langs die grondpad in die bos. Burgers, slaaie, nagereg – de lot. Trommeldik geëet sluit ons by Ladysmith weer by die teerpad aan. Ons ry na Colenso, Weenen, Greytown, en daar klim ons op die R74 en kom in Umhlanga aan.

Die geheim van die Raptor is dat ons in een dag verskeie pragtige dele van ons beeldskone land gesien het. Ons is heeltemal gemaklik, geen lyfseer nie – én die Raptor het in Umhlanga gestop met ongeveer 750 km op die odometer, en ʼn gemiddelde brandstofverbruik van 8,2 l/100 km. Dis puik.

Saterdagoggend vlieg ander media in om die Sugarbelt 400-veldren te kyk. Ons tel almal by die lughawe op en sny ʼn lyn vir Eston. My passasier, Ernest Page, wat self ʼn bekroonde motorsportman is, se oë word groot oor die aggressie waarmee ek die arme Raptor hanteer. Kort voor lank sê hy: nee wag, dis my beurt. Aanvanklik is hy katvoet, maar op die tweede dag oorreed ek hom om die bul by die horings te pak. Uiteindelik gaan die Raptor-liggie vir Ernest aan. Nou verstaan hy. Hy is nog meer aggressief as ek, en die Raptor smul daaraan – dit voel asof die Raptor vir ons amateuragtige pogings om ons soos rampokkers te gedra lag.

Die Raptor is eenvoudig ongeëwenaard… hy het nie een direkte mededinger nie. Sondag om 09:00 klim ek agter die stuur van my spierwit Raptor in. ʼn Paar honderd kilometer dan is ek tuis. Die Ford verorber die 700 km in ʼn oogwink.

Die spoedkontrole is ʼn fees en die brandstofverbruik staan op 8,8 l/100 km toe ek hom in sy parkering in Silverton bêre. Altesaam 1 837 km in vier dae. Ford se Ranger is ʼn lekker bakkie, maar die Raptor is bitter spesiaal. Indien jy een besit, daag ek jou uit om op jou volgende reistog – waar ook al heen – te probeer om ten minste 50% daarvan op grondpaaie te ry, jy sal later vir my dankie sê. Indien jy nie ʼn Raptor het nie… bestel een.

Die Raptor lyk só:

ModelFord Ranger 2.0Bi-Turbo-dubbelkajuit 4×4 Raptor
Krag157 kW/500 Nm
Brandstofverbruik8,3 l/100 km
Veiligheid7 lugsakke, sluitweerremme, remkragverspreiding, vastrap en stabiliteitsbeheer, 5-ster NCAP-gradering
Grondvryhoogte283 mm
Sleepkapasiteit2 500 kg
Waarborg en diensplan4 jaar/120 000 km-waarborg

6 jaar/90 000 km-diensplan

PrysR875 700

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

MakersMark ·

Amper ‘n miljoen Rand vir ‘n Ford……must be joking.

MakersMark ·

Nee fordkop eerder ‘n range rover. Nog iets te sê ?

Anoniem ·

Bou ‘n bakkie wat dieselfde meganiese spesifikasies het, maar sonder al die luukses wat die prys onnodig opjaag. Ek stel nie belang in duur raakskerms, elektriese vensters en diesmeer nie, bou hom eenvoudig goedkoper vir die veldryer wat ‘n kragtige dog eenvoudige voertuig soek. Julle kan die goedkoper weergawe maar die Ford Muishond ook noem as julle wil, die naam beteken niks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.