Hemel op aarde …

Foto: Verskaf

Ons petrolkoppe het gewoonlik ʼn gunstelinghandelsmerk of soort voertuig. Party wil 4×4, ander wil hul kar se pens plat op die teer hê met sulke vreemde breë wiele met piepklein bande daaroor getrek … hulle noem dit stanced! Dis nie ek nie.

Ek hou van amper alles (behalwe die stancing-besigheid), maar ek kan selfs van ʼn gemaklike, praktiese bus hou as hy my woonwa lekker trek en my kinders veilig vervoer. Maar wanneer ek alleen is en dit is net ek, die pad en daai kar … dan is ʼn sessilinder-sportmotor met ʼn handratkas hemel op aarde.

Dan kom ons by my droomhandelsmerk. Eendag, as ek groot is, sal ek my eie Porsche besit. Ek het hier al liries geraak oor ʼn Porsche se gevoel. Alle Porsche’s het ʼn eenderste gevoel … ʼn mens weet oombliklik jy sit in Stuttgart se beste.

Foto: Verskaf

Dié spesifieke Porsche is wel ʼn bietjie spesiaal. Kyk, alle Porsche’s is nie gelyk nie. Jy kry ʼn Porsche – dan kry jy ʼn GT Porsche in die vorm van die GT4, GT3 en GT2 … en dán kry jy die RS Porsche in die vorm van die GT3 en GT2 RSé. Maar hier kry ons te doen met die Porsche 718 Cayman GT4.

Ek het ʼn wyle terug met die 718 Cayman GTS óm Kyalami gejaag. Dit was fantasties, maar baie mense was teleurgesteld dat die sessilindergeluid weg is. Ek kan dit nóú beaam. Die 4.0-boksersessilinderenjin bou tot ʼn fantastiese crescendo teen 8 000 r/min. Daar bied hy 309 kW en 420 Nm. Omdat die Cayman se enjin in die middel sit, is hy aan die brandmuur vasgebout wat ʼn paar sentimeter agter jou rug sit … en die vibrasies en geluide laat die hoendervleis soos warm water oor jou rug spoel.

Foto: Brendon Staniforth

Nou ja, 0–100 km/h neem 4.4 sekondes en die GT4 sal aanhou snol tot ʼn indrukwekkende 304 km/h. Maar dit is nie eens die helfte van die prentjie nie. Dit is die lang ratverhoudings en piepklein afstand wat die rathefboom moet loop tussen ratte, en die swaar koppelaar en perfekte kalibrasie tussen die koppelaar en versneller wat die GT4 toelaat om onder jou vel in te kruip. As jy eers daar is, voel jy die vibrasies en geluide oor jou hele lyf … en dit is iets wat nog net ʼn klein handjievol karre al ooit met my kon regkry. Soos in die fliek Spinal Tap gaan dié GT4 ook na 11 toe.

Toe Christo van Porsche laat weet ek kry die GT4 om te toets het ek met ʼn pel gereël dat ons ʼn lang draai met die kar sal gaan ry. Ons weet nog nie waar nie – maar ʼn week voor die rit kyk ek toe Tumelo Maketekete se nuwe reeks Wild in SA en hy is by ʼn pas in Mpumalanga – die Slaaihoekpas. Ek laat weet vir Ronnie dat ons soontoe gaan.

Foto: Brendon Staniforth

Die aand voor die rit wonder ek hoe gemaklik die GT4 gaan wees oor die afstand van sowat 560 km soontoe en terug. Vroegoggend is ek vinnig gerusgestel. Die Porsche 718 Cayman GT4 ry lieflik op die oop pad. Hy’s stiller as wat mens verwag, en daar is ʼn kattebak voor én agter vir bagasie. Die GT4 is lekker lig op brandstof ook. As mens so teen 130 km/h toer, bied hy 9.1 ℓ/100 km met so 180 kg se passasiers. Ons gooi sy tenk vol op Alzu, kyk gou deur die venster in die manskleedkamer na die renosters wat in die veld wei, en vat weer die pad.

Christo van Porsche het my gewaarsku oor die Michelin Pilot Sport Cup-bande wat eers moet warm wees voor jy jou soos ʼn nar begin gedra. Toe ek op dag een by Makro ry en ʼn bietjie oorywerig raak, laat die bande my vinnig weet – “Pas op vir jou, mannetjie!”.

Foto: Brendon Staniforth

Toe ons by Slaaihoek kom, stel ek die rekenaartjie om vir my die banddruk te wys. Die oomblik dat hy agterlangs 2.7 bar is, weet ek die bande is nou reg. So begin ek ʼn bietjie meer druk op die “toe” pad. Slaaihoek is basies ʼn 30 km lange oprit vir ʼn myn. Mens kan groot myntrokke maklik sien. Hoe verder ons daal uit 1 900 m, hoe lekkerder trek die Porsche. Die knikke en draaie in die pad maak ons nie bang nie, hier is die Porsche baas.

Terwyl ons terugry van Slaaihoek af vertel Ronnie hoe sy kop herbedraad is. Hy kan nie verstaan hoe ʼn kar hom só kan gedra nie. Wat jy voor hom sit, eet hy op. Vir my is die GT4 steeds ʼn Porsche met fantastiese bougehalte, en billike spasie vir ʼn tweesitpleksportmotor … maar die ervaring troef alles.

Die GT4 sal nog jare lank in my geheue vasgesteek bly as een van die beste ervarings ooit agter die stuur van my droommotor.

Die reeks lyk só:

Porsche 718 Cayman220 kW/ 380 Nm7.4 ℓ/100 km5.1 sek275 km/hR1 033 000
Porsche 718 Cayman outo220 kW/ 380 Nm6.9 ℓ/100 km4.9 sek275 km/hR1 033 000
Porsche 718 Cayman S257 kW/ 420 Nm8.1 ℓ/100 km4.6 sek285 km/hR1 262 000
Porsche 718 Cayman S outo257 kW/ 420 Nm7.3 ℓ/100 km4.4 sek285 km/hR1 262 000
Porsche 718 Cayman GTS 4.0294 kW/ 420 Nm10.8 ℓ/100 km4.5 sek293 km/hR1 379 000
Porsche 718 Cayman GT4309 kW/ 420 Nm10.9 ℓ/100 km4.4 sek304 km/hR1 719 000

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 3 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Jaguar F-Type R-Dynamic P380280 kW/ 460 Nm8.6 ℓ/ 100 km4.9 sek275 km/h5 jaar/100 000 km- waarborg en omvattende instandhoudingsplanR1 513 700
BMW M2 CS331 kW/ 550 Nm10.2 ℓ/ 100 km4.2 sek280 km/h2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 615 744

Tussen die twee mededingers is die F-Type meer van ʼn Grand Tourer. Die M2 CS is die naaste aan die GT4. Ek kan nie wag om my hande op hom te kry nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris ·

Elke ou het in sy lewe een groot voordeel, en dit is om keuses te maak. Partykeer maak jy goeies en ander minder goeies. Indien jy die besluit gemaak het om vir jou ‘n DDSM (Duur Duitse Sport Motor) aan te skaf, klop jouself gerus op die skouer. Jy het vir eens in jou lewe ‘n baie goeie besluit gemaak. Elke ou het ‘n reg op opinie. As jy in ‘n Porsche inklim weet jy net. Daar is baie ander duur sport/super motors en elke smaak verskil. Die Germane weet net hoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.