Honda se reddingsboei?   

Dit gaan tans nie fantasties met Honda in Suid-Afrika nie. Dié eens sterk en mededingende handelsmerk sukkel tans om elke maand meer as 400 eenhede van die hand te sit. Verskeie faktore dra tot sy huidige situasie en ellende by. Honda hoop sy nuweling, die Elevate, sal ʼn reddingsboei wees.

Honda se spiksplinternuwe Elevate is ʼn groot B-segment sportnutsvoertuig. Hy het ʼn groot kattebak en sitplek vir vyf met lekker beenruimte vir agterste passasiers. Werklik prakties. Selfs die ontwerp is netjies.

Ek krap aanvanklik kop oor hoekom die spesifieke voertuig só vinnig nadat hy met die HR-V probeer het. Eenvoudig. Dié buks is heelwat goedkoper as die HR-V.

Die voertuig is ontwikkel en ontwerp deur Honda Thailand en word in Indië gebou. Terwyl daar al voertuie was wat uit Indië gekom het waaroor ʼn mens skepties moet wees oor die gehalte is dié produk nie een nie. Dis nie ʼn Rolls-Royce nie, maar teen die prys is die bougehalte en materiale aan die binneruim heel goed.

Onder die kap skuil Honda se getroue 1,5 viersilinderpetrolenjin. Hy bied 89 kW en 145 Nm. Nie enorm nie – en já, ʼn turboaanjaer sou welkom wees, maar dan skiet die prys weer die hoogte in. Die enjin is gepaard aan ʼn palwisseltransmissie – of CVT. Dié tipe ratkaste het ook al enorm verbeter vandat ons hul eerste leer ken het.

Op die pad toer die Elevate heel lekker. Die bekendstelling was in Kaapstad op seevlak – so ʼn mens sal moet sien hoe die 17% vermindering in krag hom affekteer op die platorand. Padhouvermoë voel heel dollies vir só tipe voertuig – maar hier en daar op die roete het die vering begin stamp. Of dit die vering is wat té hard was óf net die spesifieke pad naby Simonstad – ek is nog onseker. Ons sal sien hoe hy maak op Gauteng se paaie wanneer ons weer met hom tyd deurbring.

So waar pas die Elevate dan in? Sy mededingers is Kia se Sonet en Volkswagen se T-Cross, of Hyundai se Venue. Die Venue en T-Cross bied turbo-enjins… maar is egter duurder.

Indien jy in die mark is vir ʼn B-luikrug of sportnuts, gaan toetsbestuur beslis die Elevate. Ek hoop dit is die reddingsboei wat Honda broodnodig het – hy sal nie vir ewig aan die dryf kan bly daarsonder nie.

Die reeks lyk só:

Honda Elevate 1.5 Comfort handratR369 900
Honda Elevate 1.5 Elegance CVTR429 900

 

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/200 000 km-waarborg en 4 jaar/60 000 km-diensplan.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.