Hyundai se Palisade nie nét ʼn mooi gesig

Hyundai het homself oor die afgelope dekades as ʼn getroue handelsmerk in Suid-Afrika gevestig. Hyundai blink nie nét op eie bodem uit nie, maar Hyundai, Kia en Genesis pryk elke jaar bó aan die JD Power- aanvanklike gehaltestudie in die VSA.

Die wêreld het tans ʼn enorme aptyt vir sportnutsvoertuie, en des te meer in Suid-Afrika as wat ek in Europa onlangs beleef het. Te danke aan Amerika se aptyt vir enorme SNV’e kan ons die Hyundai Palisade hier in Suid-Afrika te koop kry.

ʼn Mooi ontwerp met ʼn luukse binneruim. Nie nét is die binneruim luuks nie, maar ook uiters prakties. Daar is selfs ʼn Palisade met ʼn agtsitplek-konfigurasie beskikbaar. As ek vinnig dink, is dit die enigste sportnuts wat agt sitplekke bied.

Die binneruim is heelwat verander met die jongste opkikkering van die Palisade. ʼn Groter skerm met ʼn hoër resolusie en welkome nuwe USB-C-poorte wat die ouer A-poorte vervang. Dié poorte kan mens se slimfone vinniger laai. Die draadlose laaimatjie bied nou ook vinniger laaitye. Die 12-luidspreker-klankstelsel is ook in die kol.

Onder die kap skuil Hyundai se 2,2 ℓ-viersilinderturbodieselenjin. ʼn Juweel van ʼn kragbron wat 142 kW en 440 Nm bied. Dié enjin is lekker sterk en loop stil. Hy is selfs werklik billik op brandstof en gepaard met Hyundai se outomatiese ratkas met 8-spoed-wringkragomsitter is kraglewering glad en progressief. Hyundai se HTRAC-viertrekstelsel bied die veelsydigheid dat mens jou Palisade kan vertrou waar die teerpad eindig.

Op die pad toer hy lieflik stil en sag. Ritgehalte is indrukwekkend ondanks die enorme 20″-wiele. Padhouvermoë is in die kol en mens kan gerus wees in die wete dat die Palisade ʼn indrukwekkende veiligheidsuite het. Daar is ʼn magdom aktiewe stelsels soos botsingwaarskuwing, blindekolwaarskuwing, outomatiese helderligte, aanpasbare spoedkontrole, baandwaalwaarskuwing en agterkruisverkeerwaarskuwing – en al die stelsels het toegang tot noodremhulp. Daar is tot ʼn waarskuwing wat die verkeer dophou en jou sal laat weet indien dit nie veilig is om uit die motor te klim nie.

Dis heel maklik om die Palisade op te som: Dit is ʼn lekker groot sportnutsvoertuig met al die luukshede wat mens sou wou hê. Hyundai is bekend vir sy betroubaarheid en rateltaai waarborg. Nog ʼn voordeel is dat mens met ʼn voertuig sit wat geensins so gewild is soos ʼn Fortuner nie – dus is hy minder aanloklik vir die boewe.

Die Palisade lyk só:

Hyundai Palisade 2.2D 4WD Elite142 kW/440 Nm8,2 ℓ/100 kmR1 099 000

Die Palisade kos dieselfde met sewe of agt sitplekke. Die model word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg en 7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg, asook ʼn 7 jaar/105 000 km-diensplan.

Ons sal weer tyd met die Palisade deurbring en hom dán teen sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.