Ineos se bobaas-bakkie

Die bakkie-weergawe van Ineos se Grenadier is onlangs by die gewilde Goodwood Festival of Speed in Engeland onthul.

Te danke aan die feit dat die Grenadier ʼn leerraamonderstel het, kan die bakwerk maklik verander. Met 264 mm se grondvryhoogte en die vermoë om 800 mm diep water oor te steek, kan die Quartermaster die taaiste hindernisse aandurf.

Onder die kap sit dieselfde 3.0‑turbopetrol- óf turbodieselenjin as in die stasiewa, sowel as die puik 8-spoed‑ZF‑ outomatiese ratkas. Ek is oortuig dat ʼn mens dieselfde verrigting sal kan verwag van die bakkie as wat jy in die stasiewa kan geniet.

Die laaibak agter is groot genoeg om ʼn pallet te laai, en die dak kan ʼn stewige gewig op rakke dra. Ek is seker dat ons kort voor lank ʼn klomp Grenadier Quartermasters op ons paaie sal sien.

Bestellings word vanaf 1 Augustus vanjaar geneem en ons sal waarskynlik die eerste Quartermasters op eie bodem sien voor die einde van die jaar. Ons weet nog nie wat hy kos nie,  maar die stasiewa prys só:

Ineos GrenadierR1 513 100
Ineos Grenadier TrialmasterR1 630 560
Ineos Grenadier FieldmasterR1 630 560

Maroela Media was in Januarie vanjaar uiters bevoorreg om Skotland toe te toer om eerstehands die Ineos Grenadier onder hande te kry. ʼn Puik, doelgerigte voertuig – die geesteskind van sir Jim Ratcliffe, ʼn Britse miljardêr.

Ratcliffe en een van sy vriende het in die Grenadier-kroeg in Londen gesit en die feit betreur dat daar nie meer ʼn werklik doelgerigte voertuig is om oorland reistogte mee aan te pak nie nadat vervaardiging van die ou Defender gestaak is. Daar is net daar en dan besluit om hul eie een te bou. Die plan is op ʼn servet geteken – en die res is geskiedenis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.