Ineos se Grenadier vind rigting in SA

Sir Jim Ratcliffe het ʼn paar jaar gelede in die Grenadier-kroeg in Londen besluit daar is  ʼn groot leemte wat betref ware hardebaard-4×4’s sonder fieterjasies met die fokus op landelike reistogte. Só is Ineos Automotive gebore. ʼn Rowwe plan vir die Grenadier is op ʼn servet geteken in die Grenadier-kroeg en die res is geskiedenis.

Ineos het besluit om die beste onderdele by die onderskeie vervaardigers te kry. Na my mening maak Recaro van die beste sitplekke in die motorbedryf en die Grenadier het Recaro-sitplekke. ZF se 8-spoed‑ outomatiese ratkas is werklik puik en word in verskeie voertuie gebruik, só ook in die Ineos. Magna maak rateltaai dryfaste vir die landboubedryf en nou ook vir die Grenadier. Die Ineos Grenadier is ʼn kombinasie van ʼn handjievol uitgesoekte onderdele en die (amper) finale produk is meer as die som van sy onderdele.

Ons het pas die geleentheid gekry om ’n passasier te wees in twee van die voorproduksie-toetseenhede. Dié een was die vyfde en die ander een die 90ste voertuig wat gebou is en wat tans in Suid-Afrika is. Dit was die eerste keer dat ek sulke voorproduksie-voertuie van só naby aanskou en dit is fantasties om te sien hoe alles inmekaar pas en watter veiligheidsmaatreëls aan voldoen moet word om ingenieurs se veiligheid te verseker.

Tussen die 130 Grenadiers wat die wêreld vol toer, is daar al meer as 1,8 miljoen toetskilometer afgelê, van hulle in Afrika – ʼn plek waar Tim Abbott glo die Grenadier sy grootste tuiste gaan vind.

Abbott, hoof van Ineos in Afrika suid van die Sahara, het ons vooraf gewaarsku dat die voertuie grof kan voorkom. Ek was egter verbaas dat die binneruim eintlik heel goed voel. Die Recaro-sitplekke is fantasties en die paneelbord rammel glad nie soos ons gewaarsku is nie. Wat my opgeval het, is hoe gemaklik die vering voel. Vier kronkelvere, een in elke hoek, en die Grenadier sweef oor die terrein sonder ʼn probleem. Dit maak my hart bly.

Aanvanklik sal daar drie handelaars in Suid-Afrika wees – in Kaapstad, Durban en Johannesburg. Verskeie ander takke van die BMW-handelaarnetwerk sal as dienspunte nader gehark word ten einde die ondersteuningsnetwerk ʼn bietjie uit te brei.

Die handelaars kan gebruik maak van gedeelde dienste met die BMW-handelaar waarby hulle geleë is. Elkeen van die drie handelaars kan dus met min personeel en min oorhoofse koste oopmaak. Abbott glo dat die streek winsgewend kan wees sodra hulle meer as 40 motors per jaar verkoop, maar Ineos sal graag tien maal daai getal wil lewer. Ek persoonlik dink dit is nie verregaande nie aangesien meer as ʼn honderd mense al deposito’s neergesit het sonder om die voertuig eers te sien.

2022 beloof om ʼn fantastiese jaar vir Ineos te wees. Hy is goed aan die gang en amper alles is reeds in plek. Ons behoort in Junie of Julie die voertuie onder hande te neem en ek kan nie wag nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JohanR ·

My gooiste dit is ‘n mooi voertuig die. DIT is hoe die nuwe Defender moes gelyk het. Dink hy sal hier in SA mooi verkoop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.