Is Everest die woonwakoning?

My middelseun wou vir sy 12de verjaardag gaan kamp. Hy wou ʼn tjommie saamvat – en dis dit. Lekker. Baie minder moeite as ʼn partytjie by die huis. Ons sou nou egter ses mense in die kar wees – so dit sluit ʼn dubbelkajuit uit. Ek wonder toe wat die laaste lekker sewesitplek-sportnutsvoertuig is wat bekendgestel is en skakel toe vir Ford.

Ford se Everest Sport daag toe by die kantoor op. Dis werklik ʼn mooi voertuig. My baas kom met ʼn drafstap nader, groen van jaloesie. Hy besit ʼn Fortuner, maar nadat hy die vorige Everest by my geleen het, besluit hy dis sy droomkar. Die nuwe Everest skop stof in die oë van sy voorganger.

Die ontwerp is groot, sterk en aggressief – in lyn met Ford se F150 in die VSA. Die binneruim is wel ʼn belewenis. Groot, ruim, luuks én puik aanmekaar gesit met goeie materiale. Nee, nie luuks soos ʼn Range Rover nie, maar luuks genoeg sonder om duursaamheid in te boet. ʼn Mens sukkel om dit aanvanklik te verwoord, maar die nuwe Everest voel asof elke element van die binneruim verfyn is.

In die kajuit is ʼn magdom luukshede, en elke denkbare veiligheidstelsel. ʼn Aangename toevoeging tot die Everest reeks is Ford se enorme nuwe raakskerm. Die nuwe Sync4-sagteware sal ʼn kort rukkie vat om aan gewoond te raak, maar sodra jy hom onder die knie het werk hy puik.

Dis onder die kap waar die nuwe Everest ʼn reusetransformasie ondergaan het. Ja, hy loop nog met Ford se 2.0 BiTurbo- viersilinderdieselenjin wat nou effens minder krag teen 154 kW en 500 Nm bied… maar dis die nuwe programmering op die 10-spoed outo wat die ervaring handomkeer verander.

Voorheen het die Ford Everest én Ranger ʼn baie slap wringkragomsitter gehad met ʼn trekkerige eerste en tweede rat. So half of dit aan ʼn rek vas was. Dis nou verander en die wringkragomsitter is lekker styf. Hy skop gou vas en verhoed getrekkery. Dit verander die sleepervaring wesenlik. Die Everest is gerat om 3,5 ton te sleep – die hoogste gradering vir ʼn passasier- of ligtehandelsvoertuig in Suid-Afrika.

Ek sleep nie ʼn groot woonwa nie –  ʼn 2013 Sprite Swing. Die Everest voel hom skaars. Die BiTurbo-enjin en 10-spoed ratkas het my werklik beïndruk.

(Foto: Brendon Staniforth)

My oudste se gunstelingsitplek wanneer ons sleep of ver ry is links agter in die derde ry waar niemand hom kan pla nie. Toe ons by Bosveld Oase ry ná ʼn lieflike rusnaweek vra ek waarmee wil julle Natalia toe sleep in die Aprilvakansie. Die kinders gil gelyk – só ene. Ek’t dus vir die Aprilvakansie ʼn Everest Platinum by Ford gereël. Dis die V6. Ek dink hy gaan soos ʼn droom sleep.

Op die pad toer die Everest Sport soos ʼn droom. Die vering is soepel en die boude hang nie té wild met die wa aan nie – hy is wel nie swaar gelaai nie. Ford se “Trailer Sway Control” werk fantasties. Die Ford sleep uiters stabiel.

Dis baie maklik om die Everest Sport op te som: Dit is ʼn uiters verfynde ervaring. Die kar voel werklik luuks en sleep soos ʼn droom. Die enjin en ratkas voel nou in die kol én ʼn mens kan rus in die wete van hoe veilig die Everest is. Daar is werklik nie een ding om nié van te hou nie.

Die reeks lyk só:

Ford Everest 2.0BiTurbo 4×4 Sport154 kW/500 Nm7,5 ℓ/100 kmR965 400
Ford Everest 3.0 V6 4WD Platinum184 kW/600 Nm8,5 ℓ/100 kmR1 113 100

Die reeks word gedek deur ʼn 4 jaar/ 120 000 km waarborg. Diensplanne is opsioneel.

Die kompetisie lyk só:

Mitsubishi Pajero Sport 2.4DI-D 4×4 Exceed outo133 kW/430 Nm8,1 ℓ/100 km2 700 kg3 jaar/100 000 km waarborg

5 jaar/90 000 km diensplan

R809 990
Toyota Fortuner 2.8GD-6 4×4 VX outo150 kW/500 Nm7,9 ℓ/100 km3 300 kg3 jaar/100 000 km waarborg

9 dienste diensplan

R915 400
Isuzu mu-X 3.0 TD Onyx 4×4 outo140 kW/450 Nm7,6 ℓ/100 km3 500 kg5 jaar/120 000 km waarborg

5 jaar/90 000 km diensplan

R922 800
Toyota Prado 2.8GD VX-L150 kW/500 Nm7,9 ℓ/100 km3 000 kg3 jaar/100 000 km waarborg

9 dienste dienplan

R1 271 900
Land Rover Defender 110 D240 SE177 kW/500 Nm7,7 ℓ/100 km3 500 kg5 jaar/100 000 km waarborg en omvattende instandhoudingsplanR1 345 500

Dié is almal sewe sitplek-sportnutsvoertuie. Ek lys tog die Prado en die Defender want die Everest speel nie meer in die klas van die mu-X, Fortuner en Pajero Sport nie – hy voel meer ruim en luukser as daardie karre. Die Everest kan heeltemal sy man staan teen die Prado. Die Prado se lugvering agter sal lekker sleep, en ons weet die Defender sleep puik. Die algehele pakket wat die Everest bied kan nie geïgnoreer word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Koos 100 ·

Fritz, dis baie waar. Ford self het hom in ‘n hoër klas as die Fortuner geplaas. Ek hoop hulle bring iets uit wat in ‘n laer klas met ‘n laer prys gaan meeding.

Brendon Staniforth ·

Dagsê Koos

Ek dink daar sal beslis nog goedkoper opsies in die Everest reeks kom. Daar is nou slegs die V6 en die BiTurbo weergawes. Daar sal nog ‘n enkelturbo intreemodel met ‘n 6-spoed handrat of outo moet kom, dink Ranger XLT spesifikasie. Ek skat hy hoort in die omgewing van R750 000 vir ‘n 4×4 en dalk in die omgewing van R650 000 vir ‘n 4×2 handrat te wees.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Manie ·

Middag Brendon, ek glo daar is baie manne wat op soek is na ‘n geen fieterjasies enkelkajuit of clubcab 4×4 bakkie. Dit hoef nie groot raakskerms, elektriese vensters of allerlei luukshede te bevat nie. Dit moet net ‘n betroubare 4×4 te wees wat my nie in die bos gaan los nie en waar ek redelik maklik in Afrika gehelp kan word, sou ek dalk ‘n probleem optel. Ek het al oor verskeie voertuie opgelees, maar kon niks in die R500 000.00 prysklas vind wat hieraan voldoen nie. Die rygoed is eenvoudig net te duur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.