Is Hyundai se opgeknapte Venue die sous werd?  

Die B-sportnutsvoertuigsegment bars tans uit sy nate. Dit is motors soos Hyundai se Venue, Volkswagen se T-Cross, Kia se Sonet en dies meer. Ek het geruime tyd gelede ʼn Hyundai Venue 1.0T Motion– handratmodel op die proef gestel, en dit was ʼn fantastiese voertuig. Die enjin en ratkas het ʼn lekker simbiose gehandhaaf, én die prys was in die kol.

Hyundai het onlangs sy Venue vernuwe, en ʼn reeksleidende N-Line bygevoeg. Die ontwerp kom vir my ʼn bietjie vol fiemies voor. Die toevoeging van die N-Line sonder ʼn verbetering in krag dink ek is ook nie heeltemal nodig nie. Dié segment is klein gesinsmotors wat goeie waarde moet bied.

Die binneruim is heel ruim, al is dit ʼn kleiner motor. Daar is sitplek vir vyf en ʼn goeie spesifikasievlak met klimaatbeheer, spoedkontrole en ʼn raakskerminligtingstelsel met Apple CarPlay en Android Auto. Daar is ses lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding sowel as vastrap- én stabiliteitsbeheer.

Onder die kap sit ʼn lekker enjin in die vorm van Hyundai se 1.0 turbodriesilinderpetrolenjin. Hy bied 88 kW en 172 Nm wat 100 km/h kan haal in 11,3 sekondes en 185 km/h voluit. Nie te versmaai nie. Die brandstofverbruik is heel in die kol met die moontlikheid van 6 ℓ/100 km. Ongelukkig, gepaard aan die enjin is ʼn 7-spoed dubbelkoppelaar outomatiese ratkas. Dié tipe ratkaste het twee koppelaars, en moderne weergawes daarvan word geprogrammeer om hul koppelaars te beskerm, maar ook om die omwentelinge só laag te hou om koolstofdioksieduitlaatgasse so laag moontlik te hou. Ongelukkig bederf die programmering tesame met die ratkas te trae reaksie die ervaring. Ek sou beslis die handrat verkies.

Op die pad is die ritgehalte heel goed, te danke aan die 16”-wiele wat nie enorm is nie. Padhouvermoë is lekker en meer as wat enige kliënt in dié segment ooit gaan nodig hê.

Ek sal dan die Venue N-Line só opsom: Ongelukkig is die ratkas nie lekker nie – en dit bederf die ervaring. Dít, gepaard met ʼn kwaai koopprys laat my wonder of die kool die sous werd is?

Die reeks lyk só:

Hyundai Venue 1.2 Motion61 kW/115 Nm6,5 ℓ/100 kmR299 900
Hyundai Venue 1.0T Motion handrat88 kW/172 Nm6,5 ℓ/100 kmR362 900
Hyundai Venue 1.0T Fluid handrat88 kW/172 Nm6,5 ℓ/100 kmR397 900
Hyundai Venue 1.0T Motion outo88 kW/172 Nm6,9 ℓ/100 kmR402 900
Hyundai Venue 1.0T Fluit outo88 kW/172 Nm6,9 ℓ/100 kmR438 900
Hyundai Venue 1.0T N Line88 kW/172 Nm6,9 ℓ/100 kmR463 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg en 7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg sowel as ʼn 3 jaar/45 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Suzuki Vitara Brezza 1.5 GLX outo77 kW/138 Nm6,2 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km waarborg

4 jaar/ 60 000 km diensplan

R329 900
Chery Tiggo 4 Pro 1.5T Elite SE108 kW/210 Nm6,8 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km voertuigwaarborg

10 jaar/1 000 000 km enjinwaarborg vir eerste eienaar

5 jaar/60 000 km diensplan

R399 900
Kia Sonet 1.0T EX+88 kW/172 Nm6 ℓ/100 km5 jaar/onbeperkte km waarborg

4 jaar/60 000 km diensplan

R409 995
Renault Duster 1.5dCi Intens80 kW/250 Nm4,8 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km waarborg

3 jaar/45 000 km diensplan

R409 999
Toyota Corolla Cross 1.8 Hybrid XS90 kW/142+e Nm4,3 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km voertuigwaarborg

8 jaar/195 000 km batterywaarborg

6 Dienste diensplan

R442 800
Citroën C3 Aircross 1.2T Shine81 kW/205 Nm6,5 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km waarborg

3 jaar/60 000 km diensplan

R454 900
Volkswagen T-Cross 1.5TSI 110 kW R-Line110 kW/250 Nm5,5 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km waarborg

3 jaar/45 000 km diensplan

R518 800

Die Suzuki se waarde is onweerlegbaar, maar die Hyundai bied ʼn sterker spesifikasievlak. Teen R463 900 dink ek die Hyundai is net té duur. Vir nie veel meer nie kan die Volkswagen T-Cross 1.5TSI daad by woord voeg met 110 kW en 250 Nm. Ek dink wel die Kia Sonet bied ʼn lekker balans, maar die Hyundai Venue Fluid handrat vir minder as R400 000 sou my keuse wees in die Hyundai stal, andersins dink ek die Duster bied die meeste spasie en beste waarde tussen dié mededingers. Die Corolla Cross Hibried is ook ʼn lekker moderne opsie – en die hibriede dryfstelsel is werklik puik op brandstof. Gaan toetsbestuur egter almal, een gaan jou uit die veld slaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.