Isuzu vernuwe sy trok-reeks

Dit is geen geheim nie dat Isuzu ʼn markleier is in die vier- en agt-ton vragmotorsegment in Suid-Afrika.

Dit is geharde, uiters betroubare vragmotors met ʼn aanloklike koste per kilometer. Isuzu begin nou werklik sy spiere bult met die oplossings wat hulle kan bied – daar is verskeie vragmotors, 4 x 4-modelle, dubbelkajuite en só hou die lys aan.

Isuzu se AMT-tegnologie is in 2008 aan die Suid-Afrikaanse mark bekendgestel. Sedertdien is daar al meer as 21 000 vragmotors met AMT-ratkaste verkoop – waarvan ʼn klomp al meer as een miljoen kilometer afgelê het.

Die AMT-ratkaste hou die voordeel van kostebesparings in teenoor ʼn konvensionele handrat aangesien koppelaars nie noodwendig bó 500 000 km vervang hoef te word nie, en daar ook nie die verliese van onklaar voertuie is wat in die werkswinkel staan nie. Die verskeie rymodusse wat die AMT beskikbaar maak bied ook ʼn wesenlike brandstofbesparing teenoor ʼn konvensionele handrat.

Isuzu se Crew Cab het sitplek vir ses passasiers en die bestuurder en daar is veiligheidsgordels vir almal. Dit is ʼn baie veiliger opsie as om passasiers agter op ʼn bak te laat ry, in die wind en weer. Dit is ook onwettig om passasiers agter op ʼn voertuig te laat ry waar hulle bo-op die vrag sit, of waar die kante nie meer as 350 mm hoog is vir sittende passasiers of 900 mm vir staande passasiers.

Isuzu het nou die diensintervalle op sy vulliskompakteerders van 250 uur na 400 uur verleng. Die probleem met 250 uur is dat ʼn vragmotor dan so gou as elke drie weke in die werkswinkel is vir ʼn diens. Kompakteerders word eerder per uur gemeet as kilometer omdat die vragmotors stadiger, korter afstande ry – maar baie intensiewe werk doen in daardie tyd. Dus word die kompakteerders met ʼn uurmeter toegerus om streng by die 400 uur te hou. Indien kliënte die beste gehalte diesel in hul vragmotors gebruik, is die olietoetse op meer as 500 uur steeds reg, maar 400 uur is ʼn konserwatiewe middeweg.

Verskeie vragmotors in die Isuzu-reeks het nou opgeskuif na Euro 5- emissie regulasies. Dit hou verskeie voordele in – ʼn wesenlike vermindering in stikstofoksieduitlaatgasse en die verbetering in kraglewering van verskeie modelle. Dit is aan die een kant te danke aan die enjin se programmering, maar aan die ander kant as gevolg van die nuwer ratkaste wat beskikbaar is.

Isuzu stel ook nou vir die eerste keer sy groot GTR direk as ʼn perd beskikbaar waar dit voorheen net as ʼn ombouing beskikbaar was.

Die verskeie vragmotors, met nuwe konfigurasie-opsies en geakkrediteerde ombouers, het nou vir meeste behoeftes ʼn oplossing. Isuzu sê hoewel alles oor die sent per kilometer gaan, word kwaliteit nie ingeboet nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.