Jeep stel sy vlagskip bekend

(Foto: Verskaf)

Jeep as handelsmerk het enorme opslag, selfs hier in Suid-Afrika. Dit is ook nog ʼn droom van my om die Rubicon-roete in Amerika te ry. Dit is die roete waar Jeep hul voertuie toets, en indien ʼn voertuig dié roete kan baasraak, kry hy Jeep se Trail Rated-embleem.

Ons ken die Wrangler, Cherokee en Grand Cherokee, wat waarskynlik die beste in Suid-Afrika is, al het die Grand Cherokee nou ʼn bietjie lank in die tand begin raak. Jeep het egter nou hul spiksplinternuwe Jeep Grand Cherokee L bekendgestel. ʼn Pragtige luukse buks, met sewe sitplekke in drie rye gerangskik.

Die binneruim is gepeper met die byderwetse tegnologie en is uiters gemaklik. Dit kan selfs as “mooi” beskryf word. Daar is drie modelle in die reeks: Limited, Overland en Summit Reserve. Die intree-Limited model is luuks, maar Summit Reserve is uit ʼn ander wêreld. Hy het slegs ses sitplekke vir beter spasiëring. Die Overland en Summit Reserve beskik oor ʼn McIntosh-klankstelsel wat jou hoendervleis sal gee.

Daar is drie groot skerms voor. Een vir die gewone instrumente voor by die bestuurder, die tweede een in die middel wat die klankstelsel en stellings beheer en ʼn derde een in die paneelbord voor die passasiersitplek wat ander stellings beheer, of selfs video’s kan vertoon wat deur die HDMI-poort gespeel kan word. Die klank word dan deur Bluetooth-oorfone gespeel. Slim.

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

Onder die kap sit een enjin en ratkaskombinasie. Dit is Jeep se 3.6 Pentastar V6-petrolenjin wat 210 kW en 344 Nm bied. ʼn Romerige 8-spoed outomatiese ratkas voer die krag na al vier die wiele. Dit is veral verbasend hoe lig op brandstof die Grand is. Ons het van Pretoria af so by die 250 km gery tot tussen Dullstroom en Belfast en 10,6 ℓ/ 100 km gehandhaaf. Puik vir dié grootte buks.

Al drie modelle bied vierwielaandrywing met laestrek en die Overland en Summit Reserve reekse bied lugvering en ewenaarslotte. Die Overland en Summit Reserve modelle is egter Trail Rated, ʼn pluimpie wat vir nét die mees bekwame Jeeps gereserveer word.

Op die pad toer die Jeep soos ʼn droom. Dis bitter mooi, luuks, mededingend geprys én ietwat buitengewoon. Ek hou daarvan. Ons sal weer tyd met die Grand Cherokee L deurbring en sien hoe hy hom in die daaglikse roetine gedra en watter tipe brandstofverbruik jy kan verwag op die gekombineerde siklus. Ons sal hom dán ook teen sy mededingers vergelyk.

Die reeks lyk só:

Jeep Grand Cherokee L LimitedR1 299 900
Jeep Grand Cherokee L OverlandR1 479 900
Jeep Grand Cherokee L Summit ReserveR1 679 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 120 000 km waarborg en 5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan.

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.