Jimny word groot  

Toe ek die eerste foto’s van die vyfdeur-Jimny sien, toe wonder ek of hy nie ʼn bietjie lank lyk nie – soos ʼn wurm. Toe ek hom egter in lewende lywe sien, toe lyk dit vir my soos die Jimny altyd moes gelyk het.

Ons het verlede jaar ʼn pragtige roete deur Thuli in Botswana gedoen met die Jimny – en daar het hy uitgeblink, maar hoe sou hy hom gedra as ʼn voertuig in jou oprit wat kinders skool toe moet karwei en inkopies moet gaan doen…?

By Maroela Media besit die helfte van die personeel Suzuki’s. Ons finansiële bestuurder ry ʼn Jimny. Ek het haar destyds geneem om na die nuwe Jimny te gaan kyk by Suzuki se hoofkantoor voordat hy aan die publiek bekendgestel is. Sy het haar Jimny ʼn paar weke daarna gekry – en ry hom nog steeds.

Toe die vyf deur-Jimny-toetsmotor by die kantoor opdaag is die sleutel vinniger by my afgerokkel as wat ek blits kon spel. Delmarie het net tot by die kantoor se hek gery en toe reeds besluit – sy wil een hê. Haar nuwe vyf deur-Jimny is verlede Vrydag afgelewer. Dit getuig van hoeveel meer veelsydig en prakties die vyf deur teenoor die drie deur is.

Die binneruim is grootliks onveranderd behalwe vir ʼn groter raakskerm en spoedkontrole. Ja – dan kom daar twee ekstra deure by – en baie mense lag in hul mou vir die 30 cm wat die asafstand verleng is… jy sal verbaas wees watter verskil dit aan die voertuig maak – spesifiek rakende drie aspekte:

Rit. Die rit in die vyf deur- model is ʼn wesenlike verbetering oor die drie deur. Hy wip nie oor elke dingetjie in die pad nie en voel heelwat minder benoud.

Beenruimte. In die drie deur- model is daar nie werklik spasie vir passasiers agter nie – nie volwassenes in elk geval nie. In die vyf deur- model sal vier gewone grootte volwassenes met gemak kan sit.

Kattebak. Die kattebak in die drie deur- model is nie regtig bruikbaar nie. Die vyf deur- Jimny se kattebak is egter net so groot soos ʼn Swift of Polo s’n. Drie groot skooltasse én my skootrekenaarrugsak pas met gemak. Delmarie is in haar noppies om nou gou inkopies met haar Jimny te gaan doen en dit in die kattebak te kan laai sonder dat dit rondval op die agterste sitplek.

Die 30 cm verlenging en ekstra 105 kg maak geen verskil aan die verrigting van die Jimny nie. Tydens ons toets moes ek eers die wit waks uit die enjin ry om sy keel ʼn bietjie skoon te maak, maar daarna het hy 6 ℓ/100 km met gemak gehandhaaf. Jeanette van Wiele2Wiele bel my en wonder of sy iets mis. Haar vyf deur word deur die suidooster verskriklik rondgewaai in die Kaap. Ek soek ʼn windstil stukkie snelweg en trap die Jimny behoorlik – 170 km/h en hy trap mooi in sy spoor. Já – as die wind jou dan skep gaan dinge baie interessant raak – maar hier op ʼn windstil platorand loop hy klopdisselboom.

Ek sal die vyf deur- Jimny só opsom: Ons het almal verlief geraak op die klein drie deur, maar as gevolg van hoe onprakties hy is kon baie hom nie aanskaf nie. Ek voorspel dat daar honderde en honderde vyf deur- Jimnys elke maand sal verkoop… en ek soek self een in my eie motorhuis!

Die reeks lyk só:

Suzuki Jimny 1.5 GL AllGrip handrat 5-deurR429 900
Suzuki Jimny 1.5 GLX AllGrip handrat 5-deurR457 900
Suzuki Jimny 1.5 GLX AllGrip outo 5-deurR479 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 200 000 km waarborg en 4 jaar/ 60 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Toyota Land Cruiser 79 2.8 diesel outo150 kW/500 Nm9,7 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km waarborg

Opsionele diensplan

R999 900
Jeep Wrangler Unlimited 3.6 Rubicon209 kW/347 Nm10,3 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km waarborg

3 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 121 900
Ineos Grenadier 3.0D183 kW/550 Nm9,3 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km waarborg

Opsionele instandhoudingsplan

R1 717 100

Dié mededingers is nie werklik in dieselfde klas nie, maar die Jimny het nie enige direkte mededingers nie. Sy grootte en laestrek 4×4-ratkas maak van hom ʼn rateltaai doelgerigte 4×4, dus vergelyk ek hom met dié manne!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Aai ·

Julle maak my lag hoe kan julle die model Toyotas met Jumny vergelyk?

andre ·

Dit is nou 2024 en daar is nog baie jimny’s uit die 1980tigs op die pad. Die seelug het op baie sy merk gemaak,maar nog steeds n gunsteling by hengelaars.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.