Jolion-hibried skiet nie tekort

Chinese vervaardigers en hibriede motors is albei dinge waarvoor Suid-Afrikaanse motorkopers nog net ʼn paar jaar terug katvoet geloop het, maar dit begin nou vinnig verander.

Daar is ʼn groot instroming van Chinese vervaardigers en hul voertuie na die Suid-Afrikaanse mark. Nie net is hul motors baie meer bekostigbaar nie, maar hul gehalte en waarde is ook vinnig aan die toeneem.

Hibriede motors raak, met goeie rede, ook al hoe gewilder in Suid-Afrika. Die land het nog nie die infrastruktuur of die nodige ondersteuning van die regering om ten volle elektriese motors hier te laat werk nie, dus word al hoe meer hibriede motors as intreeweergawes in Suid-Afrika aangebied. Dit kom egter teen ʼn meer bekostigbare prys met die voordeel van brandstofbesparing.

Ek ry al die afgelope maand met Haval se hibriede Jolion en ek moet sê ek is tot dusver heel beïndruk. Die Jolion-hibried pas dalk nie netjies in die uiters gewilde R300 000- tot R500 000-segment nie (hy is ʼn raps meer – R549 950 vir die Luxury-model en R579 950 vir die Super Luxury-model), maar hy bied beslis steeds goeie waarde vir geld.

Die eerste gedagtes wat met ʼn hibried opduik, is natuurlik hoeveel ek op brandstof gaan spaar. Ek het oor die afgelope maand ʼn gemiddelde brandstofverbruik van 7 ℓ/100 km gehandhaaf – nie te sleg nie, maar mens verwag dalk effe beter. Ek moet egter bieg dat ek nie skaam is om voet in die hoek te sit nie en as mens rustiger ry, sal jy heel moontlik ʼn veel beter syfer kan kry.

Die Jolion se selflaai- hibriede stelsel behels ʼn 1,5-liter-turbopetrolenjin wat aan ʼn elektriese motor gekoppel word om 140 kW en 375 Nm te bied vir flinke en moeitelose werkverrigting. Die petrolenjin en elektriese motor kan saam of onafhanklik loop en die skakeling tussen die verskillende tipes krag is naatloos. Die Jolion het geen tekort aan oemf nie en versnel lekker vinnig, maar kan wieltolling voorkom as jy die petrolpedaal té vinnig té diep begrawe. Die Jolion ry egter baie gemaklik en maak ligte werk van steil heuwels. Die hibriedstelsels herlaai outomaties wanneer jy rem of jou voet van die petrolpedaal afhaal.

In die algemeen bied die hibriede Jolion ʼn baie bevredigende bestuurservaring met gladde kraglewering. Hy is regtig stil wanneer die elektriese motor in gebruik is en die ritgehalte en padhouvermoë is goed. Harde versnelling kan hom egter laat dreun en die petrolenjin is ook redelik hard wanneer die motor luier of soms wanneer hy met oorgawe getrap word.

Die Jolion is ʼn lekker groot sportnuts, met ʼn mooi voorkoms en ʼn moderne kajuit – presies wat mens van ʼn nuwe motor sal verwag. Die Jolion-hibried word van sy voorganger onderskei deur LED-kopligte en ʼn diamantsierrooster voor. Aan die binneruim is beenspasie vir alle passasiers van die beste in die segment. Die bagasieruim sit egter redelik hoog en is nie van die grootste nie aangesien die battery hier gebêre word. Daar is dus ook nie plek vir ʼn spaarwiel nie. Die agterste sitplekke kan wel vorentoe platslaan om die bagasieruimte te vergroot.

Ander luukshede sluit in slim sleutellose toegang, ʼn aansitterknop, ʼn elektries verstelbare bestuurdersitplek, verhitte voorsitplekke, ʼn groot raakskerm bo-op die instrumentepaneel, leerinsetsels oral en verskeie aktiewe en passiewe veiligheidstelsels soos baanhulp, botsingwaarskuwing, banddrukmonitors en dies meer. Die 360°-kamera met panoramiese uitsig maak agteruitry en parkeer kinderspeletjies.

Van hierdie veiligheidstelsels kan egter as effe oorywerig voorkom en dit is redelik irriterend as almal gelyk op jou begin skree – daar is gelukkig die opsies om dit af te skakel. Dit is egter ook nie die maklikste en vinnigste taak om die funksies op die raakskerm op te spoor nie. Daar is ook nie ʼn volumeknoppie vir die draadloos behalwe op die stuurwiel nie en jy moet van die skerm gebruik maak om die lugversorging te stel. Die kinders is gek oor die panoramiese sondak. So gepraat van kinders – karstoeltjies word in ʼn japtrap ingesit danksy die Isofix-monteringspunte wat maklik bekombaar is.

Die Jolion-hibried is tot dusver nog net ʼn plesier om te ry. Ek het hom nog nie op ʼn nat pad of van die pad af gery nie en sal later meer terugvoer in dié verband gee nadat die geleentheid hom voorgedoen het. Vir nou is die groot pluspunte beslis die brandstofverbruik, die gemaklike rit en die groot moderne kajuit.

Hibriede mededingers in dié segment lyk só:

 Haval Jolion 1.5 HEV LuxuryToyota Corolla Cross 1.8 Hybrid XS
Krag140 kW/375 Nm90 kW/142 +e Nm
Brandstofverbruik7 ℓ/100 km4,3 ℓ/100 km
Lugsakke65
Waarborg & diensplan5 jaar/100 000 km-voertuigwaarborg

8 jaar/150 000 km-batterywaarborg

5 jaar/60 000 km-diensplan

3 jaar/100 000 km-voertuigwaarborg

8 jaar/195 000 km-batterywaarborg

6 dienste-diensplan

PrysR549 950R486 100

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.