Kan Kawasaki se Versys X-300 nog meeding in 2024?

(Foto: Brian Cheyne)

Avontuurfietse met ’n kleiner kapasiteit wen stadig maar seker veld, maar ek wens dat meer mense sal besef watter sin daar in hierdie fietse is. Die groei is, wat my betref, hopeloos te stadig. Hero se Xpulse-motorfietsryers gaan gereeld op lekker ekskursies op minder goeie paaie. Dit is baie rustig en die klem is op genieting eerder as spoed. Ekself was al tot by Verneukpan op ’n Zontes 310 en Sabie toe op ’n BMW G 310 GS. Avontuur plaas nie ’n minimum vereiste op jou motorfiets se enjingrootte nie.

(Foto: Brian Cheyne)

In slegs my vierde artikel as vryskutjoernalis vir Maroela Media het ek juis die lof besing van Kawasaki se klein Versys X-300, en dit was hierdie fiets wat by my die liefde vir kleiner fietse gekweek het.

Nou, sewe jaar later, is dieselfde Versys steeds met ons, al is dit nou met twee nuwe kleurskemas. Die kleur van die toetseenheid staan bekend as Candy Lime Green, en herinner my nogal aan Kawasaki se immergroen KLR 650. Dit is nogal humoristies dat die Versys amper dieselfde krag lewer as die KLR 650. Dit wys net hoe ver tegnologie al gekom het.

(Foto: Brian Cheyne)

As ons vlugtig na die spesifikasies kyk, dan is die klein Kawasaki steeds aantreklik in hierdie segment. Die enjin is ’n tweesilinder met ’n kapasiteit van 296 cc. Met sy grondvryhoogte van 180 mm en sy yslike 17 l-brandstoftenk, is hierdie fiets reg vir avontuur. Kawasaki het die versoeking weerstaan om sy 400 cc-enjin in hierdie fiets te sit, want hy voel dalk dat die Versys genoeg motorfiets is.

As jy pas begin motorfiets ry, is dit die ideale beginpunt. Die fiets bied jou uitstekende verrigting, en jy sal baie gou kan agterkom waar jy die gemaklikste is. Die fiets is sportief genoeg om te geniet op die teerpad en beskik ook oor die vermoë om ’n grondpad aan te durf. Sy 19″-voorwiel sal baie help op ’n stofpad, en boonop is dit speekwiele. Die Versys is egter nie bedoel vir baie tegniese roetes nie. Jy kan nie die sluitwering afsit nie, so bly maar op mooi paaie.

Die ryposisie is uiters gemaklik, selfs vir langer ryers, en die klein windskermpie help baie. Die Versys is uit die staanspoor ontwerp as ’n gemaklike toerfiets. Een klein verandering wat Kawasaki wel aangebring het, was om die stuk hardehout uit die saal te haal en dit te vervang met die meer tradisionele spons. Die vorige model se saal was kliphard, maar hierdie een is sag en bied baie ondersteuning. Om sy toervermoë verder te beklemtoon het die Versys ’n drarak agter met vier stewige ankerpunte om jou oornagtent op vas te maak.

Die instrumentasie het onveranderd gebly en is steeds die analoog-toereteller met ’n vloeikristaleenheid langsaan wat al die ander inligting vertoon soos spoed en ratposisie. Weereens, Kawasaki het reeds ’n TFT-skerm in sy ander fietse, en dit sou gaaf gewees het om dit hier te sien.

Die toereteller se rooilyn begin op 12 000 rpm, wat vir jou ’n aanduiding sal gee dat jy hierdie enjintjie behoorlik moet opwen om die beste uit hom te kry. Daardie pragtig gevormde uitlaatpype help vir beter kraglewering en die Versys versnel flink en kan die spoedgrens op die snelweg met gemak handhaaf. Teen 120 km/h draai die enjin teen ’n allemintige 9 000 rpm, maar hy doen dit sonder die geringste vibrasie.

Die Kawasaki Versys X-300 is die ideale fiets vir beginners, maar ervare ryers behoort hom net so te geniet. Dit is die ideale reismaat vir enige avontuur. Ja, die kompetisie se enjins word al hoe groter, maar as ’n alles-doen-fiets is die Versys steeds ’n goeie fiets en hoef glad nie terug te staan vir sy mededingers nie.

Vir meer inligting klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.