Kan VW die halftonbakkie weer laat terugkeer?

Die VW Saveiro

Suid-Afrika is oor die jare heen bederf met opsies in die halftonbakkie-segment.

Dit het ingesluit Toyota se klein 1200-bakkie, Datsun se 1200-bakkie wat ʼn 1400 geword het, en later die Champ. ʼn Uiters gewilde model was Opel se Corsa Utility en ʼn lekker opsie was Fiat se Strada omdat hy 700 kg kon dra.

Nietemin sit ons tans met net een opsie: Nissan se NP200 wat op ʼn Dacia Logan gegrond is. Die NP200 kom in Desember tot ʼn einde en Nissan het nie vir hom ʼn plaasvervanger nie.

Ek is egter vas oortuig dat Volkswagen met die perfekte oplossing sit. Kom ek verduidelik hoekom. ʼn Moderne motoraanleg moet volstoom loop om ekonomies sin te maak. Ford se nuwe spogaanleg is gebou om 200 000 voertuie ʼn jaar te vervaardig. Plaaslik is die halftonbakkie-segment op die meeste 24 000 eenhede per jaar, nie genoeg om ʼn hele aanleg te onderhou nie. Volkswagen se aanleg in Kariega is reeds winsgewend danksy die Polo Vivo wat plaaslik gebou én verkoop word, asook die Polo wat vir talle uitvoermarkte vervaardig word.

Daai vervaardigingslyn is só geïnstalleer dat die Vivo- en Polo-modelle agtermekaar in die lyn loop. Daar is geen rede hoekom mens nie ʼn derde model in daardie selfde lyn kon afstuur nie – veral as daai model groot ooreenkomste het met die ander modelle, soos enjins, bakpanele, sitplekke en dies meer. In terme van die Polo Vivo word ʼn groot hoeveelheid van daai onderdele ook plaaslik vervaardig. VW se Kariega-fabriek het ook die kapasiteit om 24 000 eenhede per jaar by te voeg.

Indien ons na ʼn bestaande Volkswagen-produk kyk – Suid-Amerika se Saveiro – lyk dit vir my baie eenders met die Vivo, so in my gedagtes is ons reeds 75% daar. Sou Volkswagen 2 000 halftonbakkies per maand kon skuif, sal dit hul tweede posisie in die plaaslike mark onbereikbaar maak vir die meeste ander vervaardigers. Hulle sou dan maandeliks ongeveer 2 000 bakkies, 2 000 Vivo’s en 1 000 Polo’s kon verkoop. Met die res van hul modelle sal hulle elke maand om en by 7 000 motors verkoop.

Toe Martina Biene na Suid-Afrika teruggekeer het as besturende direkteur van Volkswagen Suid-Afrika, het hulle gesê daar word ʼn derde produk by Kariega geïnstalleer, maar hulle kon vir ons niks meer sê as dat dit ʼn A0-segment-voertuig is nie. A0 is motors soos Volkswagen se Up! Daai motor bestaan nie meer nie, en ek kan aan geen rede dink hoekom Volkswagen nie reeds hiermee besig is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

VaalDonkie ·

Ja asseblief. Ek wil graag ‘n klein bakkie he wat effe beter ingerig is as die Corsa met sy SOHC enjin en golfkarretjie sitplekke ( maar dis ‘n MOOI kleing bakkie gewees).

Vonkprop ·

Asseblief VW, bou hierdie vir ons. Groot asseblief. My Corsa bakkie begin nou sy ouderdom te wys en ek is nie lus vir die Nissan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.