Kia teen Renault: Wie kraai koning?

(Foto: Verskaf)

Die motorbedryf word in segmente opgedeel. Die kleinste tjorries is die A0-segment, dan B en so gaan dit aan. Dan is daar ook ʼn betreklik nuwe segment: Sportnutsvoertuie wat wydsbeen oor die B- en C-segment balanseer.

Die twee voertuie is Renault se Duster en Kia se Seltos. Ek is ʼn ou Duster-ondersteuner en sukkel wel om vatplek te kry aan die Seltos. In dié artikel stem Gerhard Horn nie met my saam nie.

Kom ons vergelyk die twee.

Ontwerp:

Kia Seltos 1.5 CRDi EX +Renault Duster 1.5 dCi TechRoad outo
4/54/5

Die ontwerpvraag is effe moeilik. Die Duster is vir my die mooier voertuig, maar iemand anders kan dalk die Seltos verkies.

Wat sê die Engelse? Beauty is in the eye of the beholder… Nou ja, ek is nie ʼn kunstenaar of ʼn kenner op die gebied nie, maar albei voertuie is netjies en dra hul handelsmerke se kenmerkende ontwerp.

Binneruim:

Kia Seltos 1.5 CRDi EX +Renault Duster 1.5 dCi TechRoad outo
3/54/5

Die gevoel van gehalte is vir my beter op die Duster. Die blink materiale op die Kia se paneelbord pas nie. Die regop paneel waarin die inligtingstelsel is, lyk ook effens soos ʼn nagedagte, maar is tog gewild onder talle vervaardigers.

Albei voertuie bied sitplek vir vyf. Die Duster kry nog punte te danke aan sy klimaatbeheer teenoor die Kia se gewone lugreëling.

Die Kia is in Indië gebou – en nommer 1 op die waaier waai heeltemal té verwoed – so as dit nie bloedig warm is nie, is dit moeilik om nie te vries in die Kia nie.

Die gehalte van die Seltos se leerbekleedsel is veel beter as die Duster sʼn, maar bly net by die lapbekleedsel in die Duster en alles is piekfyn. Die Duster se inligtingstelsel sluit navigasie ook in, wat die Kia nie bied nie.

Enjin, ratkas en dryfstelsel:

Kia Seltos 1.5 CRDi EX +Renault Duster 1.5 dCi TechRoad outo
4/55/5

Albei voertuie maak gebruik van ʼn fantastiese 1.5-viersilinderturbodieselenjin.

Die Duster bied 80 kW en 250 Nm en die Seltos 86 kW en 250 Nm.

Albei bied hul beste op 4 000 r/min, al is die Seltos se wringkragband wyer as die Duster s’n.

Albei voertuie in die 11 sekondes tot 100 km/h en die Seltos effe vinniger teen 176 km/h teenoor die Duster se 169 km/h.

Waar die Duster weereens sy voorsprong op die Kia kry, is met sy gladder ratkas en beter brandstofverbruik. Die Kia behaal 5,7 ℓ/100 km en die Renault 4,8 ℓ/100 km wat sy reikafstand met 165 km op die Seltos verbeter.

Ritgehalte, padhouvermoë en veiligheid:

Kia Seltos 1.5 CRDi EX +Renault Duster 1.5 dCi TechRoad outo
4/55/5

Dié gradering is moeilik.

Al het die Seltos twee lugsakke (ses) meer as die Duster (vier), vaar die Duster beter op Globale NCAP-botsingstoetse met vier sterre teenoor die Seltos se drie.

Ek sou dus sê dit is wetenskaplike bewys dat die Duster ʼn veiliger voertuig is. Die Duster het vastrapbeheer en die Seltos nie. Voorts het albei ABS met EBD, remhulp en stabiliteitsbeheer.

Op die pad het die Duster beter klankdoding as die Seltos en die kajuit is stiller. Die Duster se ritgehalte oor slegte slaggate is effens beter en daar is minder gestamp en geraas wat die kajuit indring as by die Seltos.

Op mooi teer en paaie vaar die twee voertuie goed.

Waarborg en diensplan:

Kia Seltos 1.5 CRDi EX +Renault Duster 1.5 dCi TechRoad outo
5/54/5

Kia se markleidende 5 jaar/onbeperkte km-waarborg is onweerlegbaar. Die Renault s’n teen 5 jaar/150 000 km is nie te versmaai nie, maar Kia s’n is sterker.

Kia wen ook met sy 5 jaar/90 000 km-diensplan teenoor die Duster se diensplan van 3 jaar/45 000 km.

Opsomming:

Kia Seltos 1.5 CRDi EX +Renault Duster 1.5 dCi TechRoad outo
20/2522/25

Dit is baie maklik om die twee op te som.

Die Kia is ʼn splinternuwe produk en sal in sy opknapping oor so twee jaar goeie vordering maak.

In die Seltos se tweede weergawe sal Kia al dié klein goggas pak.

Die Duster is diep in sy tweede weergawe en het dus reeds tyd gehad om die produk goed te verfyn.

Die feit dat die Duster R100 000 goedkoper is as die Kia, is fantasties en daarvoor sal hy sommer bonuspunte by my kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.