Renault Duster-reeks verfris

(Foto: Verskaf)

Ek het al ʼn klomp keer oor die Renault Duster geskryf. Daarby het ek al drie Renault-voertuie besit – so ek dink ek is baie goed gekwalifiseer om hul goeie en slegte punte uit te wys.

Amper almal spring deesdae op die sportnutsvoertuig-trein. Dis die nuwe mode, stonewash of stovepipe-denims in die tagtigerjare, almal wou dit hê – en hul ouers kon dit net nie verstaan nie. Ek is nou daar waar ek nie altyd die obsessie verstaan nie.

Partykeer doen ek wel. Almal sal vir jou sê hulle soek ʼn sportnutsvoertuig, want hulle gaan af en toe wildtuin of plaas toe en die paaie kan rof raak. Oukei, mooi. Maar as die pad regtig vrot raak, gaan jou voorwielaangedrewe sportnutsvoertuig jou in elk geval nie help nie. Dis waar voertuie soos die Renault Duster en Subaru XV kop en skouers bó hul mededingers uitstaan. Die Duster en die XV is die enigste twee wat tussen die B- en C-segment sit in die klein tot mediumgrootte sportnuts óf kruismodelklasse wat met vierwielaandrywing spog.

Meer oor die Duster …

(Foto: Verskaf)

Die Duster staan in ʼn segment effens bó Volkswagen se T-Cross en Hyundai se Venue … saam met Kia se Seltos en Subaru se XV. Dit bied sitplek vir vyf en ʼn indrukwekkende 414 ℓ-kattebak. Nie te versmaai nie. Die ontwerp is nou werklik netjies en die gehalte is enorm verbeter oor die vorige model.

Dan kom ons by die ware juweel in Duster se kroon. Die 1.5-viersilinderturbodieselenjin. Hy bied 80 kW en 250 Nm, maar is fantasties lig op brandstof. Sonder om hard te probeer sal die 4×4-weergawe met sy 6-spoedhandratkas in die omgewing van 18 km/ℓ bied, en die EDC outo- voorwielaangedrewe model kry maklik 22 km/ℓ.

Vir 95% van wat die algemene publiek ooit gaan teëkom, is die Duster se 4×4-vermoë 100%. Vir die hardebaard-ontdekkingsreisigers is die Duster in elk geval nie in hul visier nie.

Op die pad is Duster om nog ʼn rede ʼn vars bries. Hy is lieflik soepel en sag geveer. Já, daar is ʼn klein bietjie bakrol – maar hy ry lieflik sag oor slegte paaie. Dit is heeltemal onnodig vir ʼn SNV om hard geveer te wees. Die Duster spog met vier lugsakke, ABS en EBD, vastrap en stabiliteitsbeheer – oorgenoeg om dinge veilig te hou.

Binne-in die kajuit is die sitplekke oorgetrek met kunsleer van ʼn goeie gehalte, daar is ʼn raakskerminligtingstelsel met CarPlay en Android Auto, klimaat en spoedbeheer – die lot. Die spesifikasievlak is lekker sterk, en ʼn winskoop in dié prysklas.

Vir mediumgrootte gesinne wat af en toe ʼn bietjie reis, én daagliks in die dorp met die voertuig wil saamleef, kan ek nie aan ʼn voertuig dink wat beter waarde bied nie.

Die reeks lyk só:

Renault Duster 1.6 Expression 4×284 kW/156 Nm7 ℓ/100 kmR289 900
Renault Duster 1.5 dCi TechRoad 4×2 5-spoedhandrat66 kW/210 Nm5.1 ℓ/100 kmR327 900
Renault Duster 1.5 dCi TechRoad EDC 4×280 kW/250 Nm4.8 ℓ/100 kmR361 900
Reanult Duster 1.5 dCi Dynamique 4×4 6-spoedhandrat80 kW/250 Nm5.2 ℓ/100 kmR361 900
Renault Duster 1.5 dCi Prestige EDC 4×280 kW/250 Nm4.8 ℓ/100 kmR374 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km-waarborg en 3 jaar/45 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Subaru XV 2.0i outo115 kW/196 Nm7.3 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km- waarborg 3 jaar/ 75 000 km- omvattende instandhoudingsplanR445 000
Kia Seltos 1.5CRDi EX+ handrat86 kW/250 Nm5.7 ℓ/100 km5 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R446 995

Die Seltos is die enigste ander ware mededinger in terme van grootte totdat Volkswagen se T-Roc later in die jaar aankom. Die XV en Duster is beskikbaar met vierwielaandrywing. Die Duster is amper R100 000 goedkoper as die ander twee, en dus bly dit my keuse weens sy ongeëwenaarde waarde vir geld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Louise ·

Ek geniet my “Stoffel” (Duster) ten volle en sal weer een koop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.