Koleos in die kol in dié segment

Die Renault Koleos. Foto: Verskaf

Die mediumgrootte sportnutsvoertuig is besig om die ou sedanmotor uitgedien te maak. Net soos daar in die jare heen baie verskeie sedanmotors beskikbaar was, is dieselfde nóú waar vir medium-sportnutse. Van hulle is spotgoedkoop beskikbaar met klein enjins en voorwielaandrywing.

Hier fokus ons op die boonste kors van dié tipe sportnuts – die sterker, vierwielaangedrewe modelle. Renault se nuutste Koleos om presies te wees.

Die Koleos is ʼn aantreklike buksie. Mooi moderne lyne en hy’t ʼn meer manlike, sterk ontwerp – ek hou daarvan. Aan die binneruim het my toetseenheid my beïndruk.

Die Renault Koleos. Foto: Verskaf

Een ding wat Renault bitter vinnig reggestel het ná die bekendstelling was die aaklige traptipe handrem. Dit is nou vervang met ʼn elektriese knoppie wat self aan- en afskakel.

Verder bied die Koleos sitplek vir vyf met behoorlike beenruimte en ʼn redelike kattebak. Ek is nie oortuig deur Renault se middelste konsole en raakskermstelsel wat dinge soos die lugreëling kontroleer nie. Ek verkies eerder egte knoppies. Die stelsel bied wel CarPlay en Android Auto wat jou hande op die stuur en jou oë op die pad hou, solank jy net nie die lugreëling wil stel nie, want dan is dit ʼn reusegesoek om die stellings te vind.

Die Renault Koleos. Foto: Verskaf

Onder die kap is daar goed en sleg. Die Koleos maak gebruik van die Renault/Nissan/Mitsubishi-alliansie se  atmosferiese 2.5-viersilinderpetrolenjin wat al vir jare in die Nissan X-trail beskikbaar is. Hy is wel nou ʼn bietjie opgekikker en bied 126 kW en 233 Nm. Nie vrot nie. Die enjin gaan ook met ʼn nuwe ratkas, ʼn palwissel-CVT-tipe, gepaard.

Die 2.5 was nog altyd bitter dors. Ek is bly om te kan meld dat sy suipstreke ingekort is en dat hy nou heel billik op brandstof is. Die CVT is nie die beste ratkas op aarde nie, maar dis die einste ratkas wat help met die verbruik. Die Koleos bied ook slim vierwielaandrywing vir daai slegte grondpad en hy sal selfs ʼn bietjie van Mosambiek kan baasraak. Die vierwielaandrywingstelsel word in die X-trail, Koleos en Duster gebruik.

Die Renault Koleos. Foto: Verskaf

Op die pad toer die Koleos regtig lekker. Sy vering is lekker soepel dog standvastig op die pad. Padhouvermoë is meer as wat mens ooit van ʼn sportnuts sal benodig. Ja, op die oop pad as daar ʼn reusebult is, kan die CVT dreun – maar ek het ʼn oplossing gevind. Skuif die ratkas oor in “tiptronic” en sluit hom in ʼn rat, dan klim hy teen die bult op en af sonder om te huil daaroor. Aan die veiligheidskant is die Koleos mooi toegerus met ses lugsakke, ABS, EBD, vastrap- en stabiliteitsbeheer.

Die Koleos is maklik om op te som. Dit is veral sy prys wat in sy guns tel. Die mark is rateltaai, en daar is bitter sterk mededingers daar buite. Al die vierwielaangedrewe modelle is maar aan die duur kant, maar die Koleos is die goedkoopste vierwielaangedrewe sportnuts van almal in dié segment … en dis ʼn lekker voertuig.

Die reeks lyk só:

Renault Koleos 2.5 Expression126 kW/233 Nm8.1 ℓ/100 kmR424 900
Renault Koleos 2.5 Dynamique126 kW/233 Nm8.1 ℓ/100 kmR474 900
Renault Koleos 2.5 Dynamique 4WD126 kW/233 Nm8.3 ℓ/100 kmR514 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Subaru Forester 2.0i-S ES115 kW/196 Nm7.6 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km- waarborg

3 jaar/75 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R540 000
Nissan X-Trail 2.5 4×4 Tekna126 kW/233 Nm8.3 ℓ/100 km6 jaar/150 000 km- waarborg

3 jaar/90 000 km- diensplan

R550 400
Kia Sportage 2.0 CRDi EX AWD131 kW/400 Nm6.3 ℓ/100 km5 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/ 90 000 km- diensplan

R576 995
Ford Kuga 2.0T AWD ST Line177 kW/340 Nm8.6 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km- waarborg

6 jaar/90 000 km- diensplan

R582 900
Jeep Compass 2.4 4×4 Trailhawk129 kW/229 Nm9.5 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km- waarborg

3 jaar/100 000 km- diensplan

R604 705
Volkswagen Tiguan 2.0TDI 4Motion Comfortline110 kW/340 Nm5.6 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km- waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R610 500
Toyota Rav4 2.5 AWD VX152 kW/243 Nm7.3 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km- waarborg

6-dienstediensplan

R630 800
Volvo XC40 D4 AWD Momentum140 kW/400 Nm5 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km- waarborg en omvattende instandhoudingsplanR652 568
Honda CR-V 1.5T Executive AWD140 kW/240 Nm7 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km- waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R677 900
Jaguar E-Pace D180 AWD132 kW/430 Nm5.6 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km- waarborg en omvattende instandhoudingsplanR711 876
Land Rover Discovery Sport D180132 kW/430 Nm5.8 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km- waarborg en omvattende instandhoudingsplanR757 366

Hier is letterlik ʼn opsie vir elke smaak. Die Renault bly die goedkoopste, en ʼn winskoop. Die Ford Kuga se kragsyfers vir die prys is ongeëwenaar. Maak vir jou ʼn kortlys, en gaan bestuur hulle almal. Een sal soos ʼn handskoen pas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos10 ·

Gaan die met 7 sitplekke ook uitkom later, siende dat die Senic nie meer gemaak gaan word nie?
Dit sal nie ‘n slegte opsie wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.