KTM raak ernstig met 390 Adventure

(Foto: Brian Cheyne)

Ons dalende geldeenheid doen nie juis die motorfietsmark enige gunste nie. Maar ten spyte van buitensporige pryse is groot avontuurfietse steeds baie gewild.

Daar is wel kleiner, meer bekostigbare alternatiewe soos die BMW G 310 GS, Honda se nuwe CB500X en KTM se 390 Adventure beskikbaar, maar hulle word nie gesien as ernstige avontuurfietse nie. Dit is seker met rede, want hierdie fietse is gewoonlik niks anders nie as klein pendelfietse wat net lyk soos avontuurfietse. Maar nou het KTM hulle nuwe 390 Adventure in die land, en as jy kyk na die som van al sy dele, dan is dit dalk tyd om hom ernstig te begin opneem.

(Foto: Brian Cheyne)

Beide BMW en KTM het hulle kleinkapasiteitmodelle in die hande van twee groot Indiese maatskappye oorgelaat. TVS maak die BMW 310 reeks, en Bajaj is verantwoordelik vir die kleiner KTM modelle. Dit is nie ʼn slegte vennootskap nie, want die Indiese mark is enorm, en hulle produkte is betroubaar. Die KTM 390 Adventure is gebaseer op die 390 Duke en deel meeste van die meganiese komponente met die Duke, maar die stilering kom van die groter 790 en 890 Adventure- fietse.

Die 390 gebruik steeds die bewese 373 cc, enkelsilinderkragbron wat 43 pk lewer. Die enjin sit steeds in KTM se bekende tralieraam en die vering word verskaf deur WP. Dit is dieselfde maatskappy wat vering vir KTM se MotoGP-fietse verskaf. Nie net is dit ʼn goeie produk nie, maar dit is ook ten volle verstelbaar.

Iets waaraan KTM nou aandag gegee het, is die vellings. Die vorige model was toegerus met allooi vellings maar die nuwe model het nou ordentlike binnebandlose speekwiele. Voor is daar ʼn 19”-band en agter ʼn 17”. Die fiets kom standaard met Continental se TKC 70-bande.

Die 390 Adventure is redelik hoog en die saal is plat met baie ondersteuning. Die saal bestaan uit twee dele en die voorste deel bied maklike toegang tot die lugfilter, iets wat baie nuttig is as jy baie stofpaaie ry. KTM bied ook ʼn laer saal vir korter ryers asook ʼn eenstuksaal vir diegene wat gewoond is aan veldfietse.

Soos met al KTM se produkte is die hooflig iets wat jy onmiddellik vereenselwig met KTM. Die kort rally-tipe windskermpie rond die prentjie mooi af. Hy mag dalk klein wees, maar die 390 lyk aggressief en reg vir grondpaaie.

Die 5”-TFT instrumentepaneel bied koppeling met KTM se eie toepassing wat jou skerm kan omskep in ʼn navigasiestelsel. Onder die instrumentepaneel is daar ʼn tradisionele 12V-sok.

Die 390 het twee ryprogramme, Street en Off-Road, en jy kan ook die sluitwering en traksiebeheer afsonderlik verstel. Die sluitwering neem selfs die leunhoek van die fiets in ag as jy hard op die remme klim. Een lastigheid is dat KTM dit goed gedink het om die ryprogramme en die sluitwering te skei. Dus, as jy wel ʼn grondpad teëkom, dan moet jy die ryprogram stel na Off-Road, én jy moet die sluitwering na Off-Road toe stel. In hierdie konfigurasie is die sluitwering minder sensitief op die voorwiel en heeltemal af op die agterwiel. Die traksiebeheer meng ook minder in. As jy egter weer op die teerpad kom, moet jy onthou om albei weer terug te stel, anders gaan jy minder effektiewe sluitwering op die pad hê. Persoonlik sou ek net een verstelling wou hê.

Op die pad is die 390 lewendig genoeg om jou ver voor die verkeer uit te kry. Ek was verras om te sien dat hierdie fiets selfs toegerus is met die opsionele snelskakeling. Die ryposisie is baie neutraal en ontspanne. Persoonlik sou ek die handvatsels hoër wou gehad het, want as ek regop staan, moet ek redelik vooroor leun om by te kom.

Op die grond het die klein KTM ook goeie maniere getoon, en ek glo ek sal baie ver kan ry met die 390. Met sy 14,5 liter brandstoftenk is 400 km maklik haalbaar.

Met alles waarmee die 390 toegerus is, en ʼn voorgestelde prys van R124 000, is die KTM 390 Adventure uiters goeie waarde vir geld. Gaan loer gerus, jou avontuur is dalk nader as wat jy dink.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.