KTM se astrante 390 nou nog beter

(Foto: Brian Cheyne)

As kind het ek myself eenkeer boeglam geskrik vir ’n kameelperd wat deur ons kamp in die wildtuin gehardloop het. Vir maande ná die voorval het ek spraakterapie gehad, want ek het sommer begin hakkel van die trauma. Deesdae is dit my kredietkaart wat vir berading moet gaan as ek brandstof ingooi. Dit is hoekom ek verkies om motorfiets te ry. Verkieslik iets kleins soos die KTM RC 390.

KTM se 390-reeks is seker gemik op die jonger geslag, maar dit maak nie daarvan ’n fiets wat jy moet miskyk as jy ouer as 25 is nie. Die jongste verbeteringe op die RC 390 maak dit seker een van die prettigste modelle in hierdie klas. Alles wat KTM geleer het in MotoGP vloei deur na hul padfietse, en die RC het hierby baat gevind.

Die fiets is heeltemal herontwerp en volg nou dieselfde hoofligontwerp van die groter KTM’s. Die flikkers is netjies in die bakwerk ingewerk en die skerm vloei as ’n eenheid oor die voorlig. Die RC se bakpanele is nou só ontwerp om warm lug weg te kry van die ryer af. Nie net laat dit die fiets baie treffend lyk nie, maar dra ook by tot ’n meer aërodinamiese fiets.

(Foto: Brian Cheyne)

Die agterkant van die fiets het ’n meer aggressiewe profiel en dit aksentueer die nuwe tralieraam. KTM se oranje is seker een van die helderste kleurskemas van enige vervaardiger, en die toetsmodel was geen uitsondering nie. As jy hierdie fiets miskyk, is daar groot fout met jou oë!

KTM het heelwat gewig gesnoei in die nuwe RC met ligter komponente. Een punt van kritiek van die vorige model was sy 10 ℓ-brandstoftenk, en KTM het nou die nuwe een met ’n 13,7 ℓ-tenk toegerus.

(Foto: Brian Cheyne)

Onder al die nuwe bakpanele is daar verder verbeteringe aangebring. Die vering is van WP en is ten volle verstelbaar. Die enjin is steeds die 373 cc-eenheid van die vorige model en hoewel die kraglewering onveranderd gebly het, is die wringkrag heelwat verbeter. Die RC beskik ook oor elektroniese hulpmiddels wat jy op heelwat groter fietse sal verwag. Beide sluit- en tolbeheer neem die leunhoek van die fiets in ag en snelskakeling kan as ’n opsie bygesit word.

Die nuwe TFT-skerm vertoon ’n magdom informasie en ek is bly dat die TFT-skerm uiteindelik in die RC beskikbaar is. Daar is ook twee nuwe ryprogramme op die RC wat ’n Supermoto-program insluit. Hierdie program skakel die agterwiel se sluitbeheer af vir bekwame ryers wat die agterwiel gebruik om die motorfiets te “stuur” in ’n draai.

Op die pad is die klein RC regtig lewendig. As ’n pendelfiets kan jy nie verkeerd gaan met hom nie. Hy het meer as genoeg woema om meer as 160 km/h te haal op ’n baan, en dit beteken dat hy meer as genoeg sal hê vir jou daaglikse pendel. Aanvanklik het die spieëls vir my baie breed gevoel en ek was maar baie versigtig tussen karre deur. Jy raak dit egter baie gou gewoond, en dan sny jy deur die verkeer. Hierdie spesifieke model was die demonstrasiemodel by RAD KTM, so hy het nie ’n maklike lewe nie, en tog was die gemiddelde brandstofverbruik slegs 3,8 ℓ/100 km. Ek is seker dat jy ’n baie beter verbruik kan kry, maar met sy verrigting sal jy jouself moeilik in toom kan jou.

Gaan loer gerus in by RAD KTM in Sandton, en gaan neem die RC 390 vir ’n toetsrit. Jy sal nie spyt wees nie.

Die feite:

Enjin373cc-enkelsilinder
Gewig (droog)155 kg
Maksimum kraglewering32 kW/43 pk
Saalhoogte824 mm
Tenkkapasiteit13,7 ℓ
PrysR99 999

Die fiets is deur RAD KTM in Sandton verskaf. Klik hier vir die produkblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Fiets lyk en vertoon baie mooi, gaan R100 000 aankoopprys en berekening van rentefaktor n deel spaar op brandstof, aangedui as amper 29 km per liter die kool die sous werd wees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.