Mahindra se vlagskipmodel 

Elke nuwe handelsmerk moet ʼn paadjie in ʼn bepaalde land stap om sy tuiste te vind en wortel te skiet. Die meeste van die tyd begin dit deur goeie waarde te bied en bloot op prys mee te ding, dán stelselmatig die handelaarsnetwerk te laat groei, geleidelik beter gehalte te bied en die prys stadig op te stoot tot ʼn mens as ʼn ernstige mededinger gereken word. Amper elke handelsmerk het dié pad in Suid-Afrika gevolg – selfs Toyota wat jare gelede Jap-scrap genoem is.

Mahindra kom uit Indië en bied rateltaai voertuie, maar die eerstes was werklik grof. Die Scorpio en Pik Up is waarskynlik die twee voertuie wat Mahindra se oorgang in Suid-Afrika begin het. Die Pik Up is uiters gewild as ʼn werkesel, terwyl die XUV 500 die gety begin draai het dat Mahindra in die hoofstroom kan meeding. Nie te lank gelede nie het Mahindra die nuwe Scorpio N bekend gestel – ʼn puik produk in my eerlike opinie.

Dan het ons nou die uiters luukse Mahindra XUV700. ʼn Netjiese ontwerp met ʼn groot kajuit. Die binneruim is toegerus met elke denkbare luuksheid. Ek dink die XUV700 is in Indiese konteks soos hul BMW X7.

Onder die kap sit ʼn 2.0‑viersilinderturbopetrolenjin wat 149 kW en 380 Nm bied. Dit, gepaardgaande met ʼn 6-spoed‑ outomatiese ratkas, bied ʼn sterk produk met oorgenoeg krag – al is hy effens dors.

Op die pad toer die XUV700 goed. Ritgehalte is indrukwekkend vir Mahindra. Om jou veilig te hou, is daar sewe lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding sowel as vastrap‑ en stabiliteitsbeheer.

Teen R569 999 is die XUV 700 ʼn winskoop teenoor ʼn produk soos Toyota se Prado – maar nie ʼn ware mededinger in my opinie nie. Dit is egter indrukwekkend om te sien waarheen Mahindra op pad is en die gehalte wat ons in die nabye toekoms in die laer modelle behoort te sien.

Die reeks lyk só:

Mahindra XUV700 2.0T AX5R479 999
Mahindra XUV700 2.0T AX7R534 999
Mahindra XUV700 2.0T AX7 LR569 999

Die reeks word deur ʼn 5 jaar/150 000 km‑waarborg en 5 jaar/100 000 km‑diensplan gedek.

Die kompetisie lyk só:

Haval H6 2.0GDIT 4WD Super Luxury150 kW/320 Nm8,3 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km‑waarborg

5 jaar/60 000 km‑diensplan

R601 750
Chery Tiggo 8 Pro Max 2.0TGDI 390T Executive187 kW/390 Nm7,6 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km‑voertuigwaarborg

10 jaar/1 000 000 km‑enjinwaarborg vir eerste eienaar

7 jaar/90 000 km‑diensplan

R669 900

Al drie dié mededingers is sterk. Gaan toetsbestuur almal en kyk of een jou hartsnare roer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kuver ·

Nee wat hou verby, soos ek eendag op n Toyota gesien, *I’d rather push my Toyota than drive a Mahindra*, wag tot jy probleme kry, en jy gaan, dan begin die sports om parte te kry ens ens

Manie ·

Al die nuwe goedkoper motors moet hulself eers bewys. Ek vra myself altyd die vraag af: Gaan ek geholpe raak indien ek in ‘n buurland probleme optel?

SjN ·

Wag maar eers en kyk, ek koop tans eerder n derde handse Toyota vir daai prys en weet wat ek het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.