Massarit om vroue wat ysterperde ry te vier

In Lewis Carroll se bekende Alice in Wonderland het die wit koningin vir Alice gesê dat sy glo in ses onmoontlike dinge voor ontbyt. Alles in die verhaal gaan daaroor om te glo in die onmoontlike. Anders as Alice, hoef jy darem nie in die onmoontlike te glo om deel te neem aan ’n internasionale massarit wat op Saterdag 6 Mei vanjaar gehou word nie. Die rit is ter viering van International Female Ride Day (IFRD) en sal afsluit met ’n Alice in Wonderland-piekniek by die Avianto-klubhuis by Muldersdrift in Gauteng.

Daar is verskeie vertrekpunte reg oor Gauteng en elke groep sal deur ’n ervare ryer gelei word. Dit behoort seepglad en veilig te verloop.

Die IFRD het die eerste keer in 2007 plaasgevind en hierdie jaar sal die 17de aanbieding wees. Die doel van die IFRD is om ’n wêreldwye motorfiets- en bromponierit vir vroue aan te bied wat alle vroue aanmoedig om “net te ry”.

Dit bied die ideale geleentheid vir vroue om as rolmodelle op te tree vir die groeiende gemeenskap van vroue wat motorfiets ry, en om die prestasies van vroue in motorsport te vier.

Die International Female Ride Day word jaarliks wêreldwyd in 120 lande aangebied, en as die vorige ritte enigsins ’n aanduiding van hulle organisasievermoë is, dan behoort hierdie jaar ook ’n reusesukses te wees. Benewens die ernstige logistieke reëlings vir die dag, is die doel van die organiseerders om die dag ontspanne en aangenaam te maak vir die ryers. Dit gee almal ook ’n geleentheid om nuwe vriende te maak.

Dit is dan hier waar die Alice in Wonderland-tema vir vanjaar inkom. Die Muldersdrift-piekniek word aangebied deur Alice en haar vriende. Al jou gunstelingkarakters uit die storie gaan daar wees!

“Ons probeer regtig om vroue aan te moedig om meer te ry en wat kan nou beter wees as ’n piekniek saam met jou mederyers,” het Kerry Puzey van Biker’s Warehouse, een van die organiseerders van die IFRD‑massarit, gesê.

Registrasie is noodsaaklik en jou R50-inskrywingsgeld dek jou deelname aan die massarit, toegang tot die wonderlandpartytjie, ’n geskenkpakkie en ’n piekniekmandjie. Sodra jy geregistreer het, sal al die besonderhede aan jou gestuur word, onder meer roete- en beginpuntinligting, en jy kan wonderlike IFRD-goedere en jou piekniekmandjie vooraf bestel. As jy nie lus is vir ’n piekniek nie, kan jy op die dag ’n pizza by die Avianto-klubhuis bestel. ’n Kontantkroeg sal ook beskikbaar wees om die stof uit jou keel te spoel na die rit.

Natuurlik is jou gade ook welkom, en om gepas aan te trek word beslis aangemoedig. Daar sal ’n prys uitgeloof word vir die beste uitrusting van die dag, en daar sal ook ’n rits pryse uitgeloof word met verskeie gelukkige trekkings.

“International Female Ride gaan daaroor om die groei in vrouemotorfietsryers te vier en om die momentum aan die gang te hou. Ons wil ook meer vroue aanmoedig om motorfietse en bromponies te ry,” het Mercia Jansen, Motul-streekbestuurder vir Suider- en Oostelike Afrika, gesê. “Ek sal self een van die veldrygroepe lei en my deel doen om vroue aan te moedig om deel te neem. Ek is opgewonde oor hierdie kans om die passie, pret en kameraadskap wat op twee wiele gevind kan word, met vroue te deel,” het sy bygevoeg.

Om vir die IFRD‑massarit en piekniek te registreer of om meer te wete te kom, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marthinus W ·

In NIgerie is daar ook n motorfietsgroep van swart vroue.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.