Mercedes AMG se nuwe baba

(Foto: Verskaf)

Toe Mercedes-Benz ʼn ruk gelede sy A45 AMG aan die wêreld bekendgestel het, was ek nie heeltemal oortuig nie. Die werkverrigtingsyfers was indrukwekkend – 280 kW en ʼn magdom wringkrag… in ʼn luikrug … met ʼn Mercedes-kenteken. Néé man.

Mercedes het die afgelope dekade egter reusespronge gegee om sy handelsmerk te vernuwe en ʼn jonger mark te lok. Ja, die S- en E-klas is nog daar vir die ouer garde, maar ʼn magdom van sy produkaanbiedinge is op die jonger mark gerig. Sodoende het AMG en Benz van mekaar geskei om handelsmerke van hul eie te vorm. Al die gewone voertuie is dus Mercedes-Benz, die vuurvretende Mercs is Mercedes-AMG en die hiperluukse modelle is Mercedes-Maybach.

Ná die AMG-handelsmerk weggebreek het van Benz moes hy begin werk aan hoe hy ʼn volhoubare, alleenstaande handelsmerk gaan word.

Ek het dit nie gesien kom nie, maar dit was eintlik doodeenvoudig: Maak ʼn tweede reeks AMG’s, maar nie heeltemal so warm soos die eerstes nie. Dan het jy ʼn louwarm AMG, asook ʼn vuurwarm een. In die A-klas is die 35 louwarm en die 45 vuurwarm. Ons praat hier oor die 35.

Mercedes-AMG se A en CLA 35 is die nuweling.

Dit is ʼn 2.0-viersilinderturbopetrol met 225 kW en 400 Nm. Albei maak gebruik van ʼn dubbelkoppelaar-ratkas met sewe ratte en vierwielaandrywing. Van nul tot 100 km/h duik op in ʼn ratse 4,7 sekondes in die luikrug en 4,9 in die CLA en hulle is beperk tot 250 km/h. Indrukwekkend.

Die A en CLA is so te sê dieselfde kar; een ʼn luikrug en die ander ʼn 4-deur-koepee. Ek is wel oortuig dat Mercedes-AMG die CLA-produk effens luukser programmeer en afrond. Dit voel na ʼn minder growwe produk – sonder om enige van sy werkverrigting in te boet.

Mercedes se ontwerpe is tans regtig mooi. ʼn Mens kan nie fout vind met die ontwerp nie. Die bougehalte aan die binneruim is indrukwekkend en die ergonomie en materiale in die binneruim is fantasties. Daar is ʼn magdom opsies en verskeie kleure, sitplekke en beligting om jou A-klas te verpersoonlik.

Op die pad was my A35 se ratkas effens ongelukkig. Die koppelaar is geprogrammeer om staaaaadig in te voer as hy koud is, maar die probleem daarmee is dat dit verskriklik op die koppelaar ry.

Volkswagen se DSG’s is van die beste in die wêreld en hulle doen dit beslis nie nie. Die CLA was baie beter, maar dalk is hy deur minder joernaliste misbruik.

Ek sal die A en CLA 35 só opsom: Dit is puik produkte wat in ʼn nuwe mark speel vir Mercedes-AMG.

Die prys is effens kwaai vir my, veral teen ʼn Golf R wat dieselfde bougehalte en werkverrigting bied teen amper R200 000 minder.

Die A en CLA lyk só:

Mercedes-AMG A35 4Matic225 kW/400 Nm7,4 ℓ/100 km4,7 sek

250 km/h

R883 000
Mercedes-AMG CLA35 4matic225 kW/400 Nm7,3 ℓ/100 km4,9 sek

250 km/h

R992 640

Die reeks word deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan gedek.

Die mededingers lyk só:

Volkswagen Golf R228 kW/400 Nm7,2 ℓ/100 km4,6 sek

250 km/h

3 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R727 400
Audi S3 Sportback Quattro228 kW/400 Nm6,5 ℓ/100 km4,6 sek

250 km/h

1 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan

R772 189
BMW M135i xDrive225 kW/450 Nm7,5 ℓ/100 km4,8 sek

250 km/h

2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan

R773 788

Tussen dié mededingers sal ek die Golf R neem net omdat hy die beste waarde bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.